Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Thuli Madonsela praat by Teologiese Dag
Outeur: Helette van der Westhuizen
Gepubliseer: 23/01/2018

Belangstellendes word vriendelik genooi na die Teologiese Dag, wat die akademiese jaar van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch (US), inlei. Dit vind plaas op Maandag 5 Februarie 2018 van 09:00 tot 12:30 in die Attie van Wijk Ouditorium by Fakulteit Teologie, Dorpstraat 171, Stellenbosch.

Die tema is: Onverskrokke woord en daad in hierdie tyd: Teologie, etiek en burgerlike moed. Suid-Afrika se gewese openbare beskermer, Advokaat Thuli Madonsela, is die openingspreker. Prof Madonsela is onlangs aangestel in die leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid by die US se Fakulteit Regsgeleerdheid. Fr Courtney Sampson, Hoof van die Wes-Kaap Onafhanklike Verkiesingskommissie kom na tee aan die beurt. Hy is ook as gelisensieerde priester verbonde aan die Anglikaanse Bisdom van Saldanhabaai. 'n Paneel met di. Jeanet Sibanda, Hanzline Davids and Allan Storey sal vanuit hulle spesifieke konteks en bediening kortliks reflekteer oor die tema. Die program laat ruim geleentheid vir bespreking.

Bywoning is gratis en almal is welkom! Parkering by die fakulteit is beperk en gaste word aangeraai om te parkeer in die Laan of op die walle van die Eersterivier (oorkant Paul Roos Gimnasium). Laat ruim tyd toe vir verkeersdruk.

Die Openingserediens vind plaas op Sondagaand 4 Februarie 2018 om 19:00 by Die Rynse Gemeente op Die Braak, Stellenbosch. Prof Reggie Nel, nuwe dekaan by Fakulteit Teoligie is die prediker en dr Andries Daniels is die liturg.

Navrae: Helette, e-pos hvdwest@sun.ac.za, tel 021 808 9560.