Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesamentlike poging om water op Tygerberg-kampus te bespaar
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 23/01/2018

Wes-Kapenaars is reeds geruime tyd daarvan bewus dat die provinsie hom in die kloue van ʼn rampspoedige droogte bevind, waarvoor 'n oortuigende uitkoms nog nie in sig is nie. Ofskoon waterbesparing reeds deur talle individue en organisasies toegepas word, kan nog veel meer gedoen word om waterverbruik te verminder.

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se Groenkomitee is een van die groepe aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat homself bewyer om groter bewustheid oor die waterkrisis te skep.

“Ons moedig personeel en studente aan om inligting wat ons in die maandelikse Impromptu-nuusbriewe en deur ons sosiale mediakanale versprei, as gesprekspunte te gebruik," sê me Christine Groenewald, projekkoördineerder van die Groenkomitee.

Groenewald het onlangs 'n inligtingsessie op die US se Tygerbergkampus bygewoon, waar lede van die FGGW se fasiliteitebestuur hul planne vir volhoubare, geïntegreerde en kostedoeltreffende oplossings as teenvoeter vir die droogte uiteengesit het.

“Ons as instelling moet ongeveer 20% minder water as verlede jaar gebruik," sê Groenewald. Volgens haar het die bestuur 'n drieledige plan om dít te bewerkstellig en die kampus aan die gang te hou, selfs al is Stad Kaapstad se water beperk. Dit behels:

  • om water te rantsoeneer deur drukverlaging en gekontroleerde vloei toe te pas;
  • om lekkasies te herstel, kraan- en toiletvloeiverbeteringe te maak en waterbesparende stortkoppe aan te bring; en
  • om ondersoek in te stel na die gebruik van alternatiewe waterbronne, onder meer boorgate en stormwateropvangs.

Volgens Groenewald word bykans 35% van koshuiswater in storte gebruik en die nuwe koppe, wat nou reeds aangebring is, sal dié gebruik halveer. Die lekkasies word as prioriteit hanteer en daar word ook gekyk hoe handewaswater vir toiletspoeling gebruik kan word. “Omtrent 35% van die totale watergebruik is afkomstig van wasbakke."

Die gryswateromskakeling sal egter 'n rukkie neem voor dit in werking getel kan word, aangesien al die geboue se pype, waarvan sommige baie oud is, eers nagegaan moet word. Intussen word daar ook gekyk na die gebruik van waterlose hande-ontsmettingstasies in badkamers en die aankoop van waterbesparingsapparate vir laboratoriums.

Volgehoue vordering word egter gemaak en en boorgate word reeds gesink. “Verdere prosesse wat daarmee gepaard gaan, sal natuurlik afhang van wanneer water gekry word en wat die gehalte daarvan is."

Groenewald sê studenteleierskap in koshuise speel 'n baie belangrike rol om studente bewus te maak van die noodsaaklikheid van waterbesparing. “Daar is reeds inisiatiewe in koshuise om storttye te verkort en stortwater in emmers op te vang om toilette mee te spoel. Die Groenkomitee het 10 emmers per koshuis geborg om die projek van stapel te stuur, maar die effektiewe gebruik daarvan hang grotendeels af van die leiers en die koshuise se passie en toewyding tot die saak. Ons moedig studente aan om hul idees uit te voer."

En wat beskou sy as die grootste waterbesparingsuitdaging? “Eerstens die gedrag van die personeel en studente. Die infrastruktuur van die geboue en die oorspronklike ontwerp van die stelsels is ook 'n uitdaging en die Fakulteitsbestuur gee tans hieraan aandag."

Personeel en studente word aangemoedig om lekkasies aan te meld by fmhelpdesk@sun.ac.za of 021 808 4666.

Plant, eet en wees groen!

Die Groenkomitee het onlangs 'n groentetuinprojek begin en hopelik sal die eerste groente in Januarie 2018 geplant word. “Dis nog 'n projek in wording," verduidelik Groenewald.

“Die idee is om studente 'n kans te gee om hul eie groente te verbou en dan die opbrengs ook met die kosspens te deel om behoeftige studente te help. Terselfdertyd kan ons die 'groen agenda' só meer sigbaar maak."

'n Stuk grond van sowat 20m2  is agter die rugbyveld op die Tygerberg-kampus voorberei en sal later vergroot word soos dit nodig word. “Ons wag ook nog vir die aflewering van 'n watertenk en stoorplek vir die gereedskap."

Groenewald sê studente sal elk 'n stukkie grond kan kry om te bewerk en hul groente van keuse te kweek, terwyl die Groenkomitee die saailinge sal borg. “Ons gaan nou met die organisasie Plant to Seed vir opleiding en hulp saamwerk." 

Wees op die uitkyk vir meer nuus oor dié projek op kampus.