Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-netbalspeler op pad na Engeland
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 18/01/2018

Die feit dat sy binnekort na Engeland vertrek om vir ses maande daar aan hul netbalsuperliga deel te neem, het nog nie heeltemal by Charmaine Baard ingesink nie.

Charmaine, Maties Netbal se hoofdoel en 'n lid van die Suid-Afrikaanse span wat in Oktober verlede jaar aan die Fast 5-netbaltoernooi in Australië deelgeneem het, het 'n kontrak met die span Surrey Storm gesluit.

“Ek voel so geseënd. Dis 'n ongelooflike geleentheid," het sy verlede week gesê toe sy op kampus was om 'n week lange blokkursus vir haar honneursgraad in taalonderwys by te woon.

Hierdie oudleerder van die Hoërskool Brackenfell sal in Maart haar onderwysgraad ontvang.

Sy kon nie aan die einde van verlede jaar gradueer nie omdat sy van haar eindeksamenvraestelle weens haar netbalverpligtinge in Australië misgeloop het. Sy moes van die tweede eksamengeleentheid gebruik maak, en dit was juis kort ná haar laaste eksamen op 24 November dat sy die uitnodiging ontvang het om by Surrey Storm aan te sluit.

Hierdie uitnodiging gee vir haar 'n gevoel van bevrediging dat al die harde werk en opofferings van die afgelope paar jaar die moeite werd was.

Charmaine, wat in 2017 veral haar eie vaardighede as doel wou verbeter, glo al die Maties-netbalspelers baat by die afrigting en hulpbronne wat deur Maties se hoëprestasie-eenheid beskikbaar gestel word.

“Talent beteken niks as jy nie hard werk nie," sê Charmaine. “Maar daar is soveel geleenthede as mense bereid is om hard te werk en deur te druk."

Dit is nie maklik om te studeer en op hoë vlak aan jou sport deel te neem nie.

“Jy gaan móét nee sê vir sekere dinge. Dit is belangrik dat elke persoon hul eie balans vind en as hulle dit het, moet hulle dit nie laat gaan nie. Wat vir een persoon werk, werk nie noodwendig vir die volgende persoon nie."

Charmaine sal op 9 Julie wanneer sy weer in Suid-Afrika land, direk kampus toe gaan om met haar volgende week van honneursklasse te begin. As 'n ingeskrewe nagraadse student kwalifiseer sy ook om Maties weer in die Varsity Netbal-toernooi te verteenwoordig.