Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Thuli Madonsela begin haar werk aan US
Outeur: Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 11/01/2018


Suid-Afrika se gewese openbare beskermer, Thuli Madonsela, het gister (10 Januarie) amptelik haar nuwe pos in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid aanvaar. Sy beklee die leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid.

Professor Madonsela het in 'n onderhoud met die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie gesê: "Ek het die Universiteit Stellenbosch gekies omdat dié my toelaat om op my eerste liefde, Maatskaplike Geregtigheid, te fokus.  Ek het talle aanbiedinge ontvang, maar in hierdie stadium van my lewe meen ek – met al die kennis wat ek oor die jare heen opgedoen het – moet ek dit terugploeg."

Madonsela se hooftaak het tydens die sewe jaar wat sy Suid-Afrika se derde Openbare Beskermer was, op etiese bestuur in openbare instellings gefokus en die Grondwet se mandaat van 'n openbare administrasie wat reageer op mense se behoeftes. Sy sal in haar nuwe pos aan US hierop voortbou.  Sy sal ook onderrig gee en navorsing doen, asook by inisiatiewe van die burgerlike samelewing betrek wees.

ProfThuliMadonsela1.jpg

Sy vervolg: "Ek vertrou dat die groot geeste wat my hierheen genooi het, met my sal saamreis wat betref die identifisering van die maatskaplike geregtigheidsuitdagings hier in Suid-Afrika en wêreldwyd. Ons het met die koms van demokrasie goed begin om 'n Suid-Afrika te skep wat inklusief is, maar ons het deur die jare gestruikel."

Sy vervolg: “Ek sal veral fokus op die sleutelgebiede waar maatskaplike geregtigheid steeds 'n groot uitdaging is, die oorsake van daardie uitdagings bestudeer en probeer bepaal in watter mate die wet 'n oplossing kan wees.  Ook kyk in watter mate dit 'n hindernis is en hoe ons gewone mense in die samelewing kan aktiveer om vrywillig deel te neem aan die maatskaplike geregtigheidsprojek buite die samehangende mag van die wet."

Dié oudleerkrag aan die Hoërskool Naledi in Soweto sê onderrig is een van die belangrikste instrumente om mense se gedagtes te transformeer en hulle te bemagtig om hul volle potensiaal te besef. Die feit dat ek in 'n ruimte is waar ek onderrig kan gebruik om mense se gedagtes te transformeer, is 'n voorreg."

Sy sê voorts dat sy in die tyd wat sy aan die US verbonde is jong mense graag sou wou aktiveer om allereers aan hulleself as skeppers van werk te dink en dan eers as sekondêre werkers. Sy stel dit so: "Sommige van ons sal vir ander mense moet werk, maar ons moet die paradigma verander wat lui: 'ek is 'n werksoekende.' As jy selfs kyk na primitiewe samelewings, is die gemiddelde persoon nie 'n werksoeker nie, en dit geld selfs in die diereryk. Die gemiddelde persoon word ontwikkel en opgevoed om funksioneel te wees in terme van die skep van geleenthede vir kos en ander voorskotte vir die gemeenskap."

Sy sluit af: “Dít is wat nodig is om by jong mense, reeds van graad R af, in te burger:  jy kán 'n werk skep; jy kán die wêreld beïnvloed."​