Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vennootskap tussen Krygkor en die US
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 12/12/2017

​Krygkor het 'n ooreenkoms met die Universiteit Stellenbosch (US) gesluit om oor die volgende drie jaar 'n virtuele verdediging- en gevegsplatform, asook 'n laserverdedigingsprogram, te ontwikkel.

Die samewerking vorm deel van die Defence Engineering and Science University Program (DESUP), wat daarop gemik is om die ontwikkeling van nagraadse programme te ondersteun in daardie vakgebiede waar Krygkor 'n moontlike toekomstige tekort aan vaardighede in die verdedigingsektor geïdentifiseer het. Krygkor is 'n agentskap van die Departement van Verdediging.

Prof Shaun Wyngaardt, 'n kernfisikus by die US, sal die virtuele verdedigingsprgram lei, terwyl Prof Erich Rohwer, 'n laserfisikus en hoof van die US se Departement Fisika, verantwoordelik is vir die ontwikkeling van die laserverdedigingsprogram.

Prof Wyngaardt sê virtuele simulasie platforms en veral virtuele laboratoriums word reeds by universiteite gebruik in die opleiding van studente en navorsers alvorens hulle begin werk op hoogs gesofistikeerde toerusting wat in groot kernfisika eksperimente gebruik word.

Op soortgelyke wyse bied 'n virtuele simulasie platform in die verdedigingsektor 'n veilige en kostedoeltreffende manier om verdedigingspersoneel op 'n wye reeks toerusting en vir moontlike gevegsituasies voor te berei. Die program maak voorsiening vir die ondersteuning van nagraadse studente, asook die ontwikkeling van navorsingsinfrastruktuur en apparaat. Die US sal deur middel van die DESUP netwerk met ander universiteite, soos Fort Hare, Zoeloeland en Venda, op die ontwikkeling en implementering van virtuele leergeleenthede saamwerk.

Die doel van die laserverdedigingsprogram is om kapasiteit en spesialiskennis op te bou in die ontwikkeling van laser-gebaseerde verdedigingstegnologie. Nagraadse studente van die US en die universiteit van Fort Hare, Zoeloeland en Venda sal uitgenoooi word om vir die program aansoek te doen.

Prof Rohwer sê dié studente sal formele opleiding in laserfisika ontvang, sowel as bykomende opleiding deur middel van internskappe. Die studente het ook toegang tot die bestaande toerusting en spesialiskennis van navorsers in die US se Lasernavorsingsinstituut, die WNNR se Nasionale Lasersentrum en dié van internasionale vennote soos die Rutherford Appleton Laboratories in die Verenigde Koninkryk, en die Leibniz Instituut vir Fotoniese Tegnologie in Duitsland.

Die ooreenkoms, ter waarde van bykans R5,8 miljoen oor die volgende drie jaar, is op Vrydag 30 November 2017, deur die US se Prof Nico Koopman (links) en Krygkor se Prof Noel Mkaza, algemene bestuurder vir navorsing en ontwikkeling, onderteken. Teenwoordig by die ondertekening was (agter, van links na regs), Prof. Shaun Wyngaardt, Me. Dikeledi Maema, senior bestuurder: navorsing en ontwikkeling by Krygkor, en Prof. Erich Rohwer. (Foto: Stefan Els)​

​Vir meer inligting, kontak Prof Shaun Wyngaardt by 021 808 3379 of shaunmw@sun.ac.za