Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste Kongolese doktor in AgriWetenskappe by US
Outeur: Alec Basson / Corporate Communication
Gepubliseer: 11/12/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) is een van die hoër onderwysinstellings in Suid-Afrika wat gereeld die meeste PhD's oplewer. Sommige van hierdie doktorsgrade word ook aan studente uit ander Afrika-lande toegeken. Een so ʼn student is Bilungi Alain Useni van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) wat Woensdag (6 Desember) sy doktorsgraad in Veekunde by die US se vyfde gradeplegtigheidseremonie van Desember 2017 behaal het. Useni, die eerste Kongolees om 'n PhD in die US se Fakulteit AgriWetenskappe te verwerf, het navorsing gedoen oor die belangrikheid van energie-aanvullings vir die melkproduksie en vrugbaarheid van melkkoeie.

​Sukses by US

Useni is in die stad Kolwezi gebore en het sy voorgraadse studies aan die Universiteit van Lubumbashi in Lubumbashi in die DRK voltooi. Sy verbintenis met die US het in 2007 begin toe hy as ʼn spesiale student die Universiteit se intensiewe program vir Engels gevolg het. In 2008 het hy vir 'n MSc (Agric)-graad in die US se Departement Veekundige Wetenskappe onder leiding van dr Francois van de Vyver ingeskryf. Useni het sy meestersgraad in Maart 2011 voltooi.

In April 2011 is hy as 'n PhD-student aanvaar en kon hy deur middel van die Wes-Kaapse Landbounavorsingstrust navorsing doen oor die vrugbaarheid van melkkoeie by die Elsenburg-navorsingsplaas van die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WKDL). Die projek het hom gehelp om ervaring in melkboerdery op te doen en mentorskapsvaardighede aan te leer.

Useni sê hy het besluit om aan die US te studeer omdat die instelling ʼn kultuur van akademiese uitnemendheid het en aan die voorpunt van navorsing oor landbou is. Hy wou ook sy Engelse taalvaardigheid verbeter.

Noudat hy terugkyk op sy reis, sê Useni dit het nie altyd klopdisselboom gegaan nie.

“Aan die begin van my nagraadse studies aan die US was die lewe nie altyd maklik nie. Omdat my moedertaal Frans is, het ek gesukkel met Engels. Ek kom uit 'n groot familie, en het die sosiale interaksie met hulle gemis."

“Maar ek kon gelukkig staatmaak op van een van my broers wat reeds in Kaapstad was toe ek in Suid-Afrika aangekom het."

Hy skryf sy sukses en kulturele integrasie by die US daaraan toe dat hy altyd opgeruimd is, hard werk en deursettingsvermoë het.

Ten spyte van sy aanvanklike probleme, het Useni nie geskroom om dit selfs buite sy studies in landbou te waag nie. Aangesien hy altyd bereid is om sy horisonne te verbreed, het hy kortkursusse in leierskap rakende gemeenskapsinteraksie, MIV-portuuronderrig en geslagsfasilitering, MIV-berading, Afrikaans vir beginners en wêreldburgerskap voltooi. Hy het ook vir die US se MIV-koördineringskantoor gewerk en was betrokke by hul MIV-veldtogte en uitreike. Verder het hy as vrywillige by Matie-gemeenskapsdiens uitgehelp om plaaslike skole deur middel van studentegedrewe leer- en interaksie-inisiatiewe te ondersteun. Asof dit nie genoeg was nie, het Useni ook tyd ingeruim om die US by die New Hope-berade te verteenwoordig.

Vir Useni is dit glad nie ʼn probleem om ʼn klomp balle gelyktydig in die lug te hou nie.

Terwyl hy met sy PhD besig was, het hy 'n beurs van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (2013-2016) ontvang wat hom toegelaat het om akademici by te staan met tutoriale, nasienwerk, praktiese werk en die onderrig van sekere modules wat met sy kundigheid in Veekundige Wetenskappe verband gehou het.

Ondersteuning

Vandag is Useni dankbaar dat sy ouers hom aangemoedig het om opvoeding te gebruik om vorentoe te gaan in die lewe en 'n beter samelewing te help skep.

Hy is ook vol lof vir sy vrou, Rachel, 'n mediese dokter, met wie hy 5 jaar getroud is. Sy is ook 'n alumnus van die Universiteit van Lubumbashi.

“Sy het my baie ondersteun gedurende my studies en is die een wat baie meer bekommerd was oor al die stres wat ek beleef het as gevolg van my navorsing. Sonder haar ondersteuning sou die lewe baie moeilik gewees het. Sy is regtig 'n engel en 'n seën vir my. Rachel het my ook geseën met 2 kinders, Joshua (3 jaar) en Amelia (4 maande)."

Useni het die hoogste waardering vir sy mentors, dr Carel Muller by die WKDL en prof Christiaan Cruywagen van die US se Departement Veekundige Wetenskappe, vir die geleentheid wat hulle hom gebied het om sy doktorsgraad te doen.

Hy sê hy is nie vir een oomblik spyt oor die besluit wat hy tien jaar gelede geneem het om aan die US te studeer nie. “Dit het my van ʼn nederige en uitdagende begin gevorm tot die persoon wat ek vandag is."

Noudat hy die kruin van akademiese sukses bereik het, voel Useni dat sy doktorsgraad vergoeding is vir die vertroue wat sy familie en baie ander in hom gehad het.

“Deur hierdie akademiese prestasie glo ek dat ek my familie en enigiemand wat direk of indirek in my belê het, baie trots gemaak het. Baie dankie! Enkosi kakhulu! Merci beaucoup! Asantesana!".

Wat sy toekomsplanne betref, sê Useni hy wil graag in die Suider-Afrikaanse landboubedryf werk en sy kennis gebruik om oplossings vir sommige van Afrika se probleme, veral dié wat met landbou verband hou, te help vind.

  • ​Foto: Dr Bilungi Alain Useni saam met sy vrou, Rachel, en hul kinders, Joshua en Amelia, by die gradeplegtigheidseremonie.
  • Fotograaf: Stefan Els