Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verwelkomings-geleentheid vir nuwelinge en ouers
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 08/12/2017

​Die amptelike verwelkoming van nuwelingstudente (Stellenbosch-kampus, Tygerberg-ampus en Fakulteit Krygskunde), hul ouers/voogde, studenteleiers en personeel vind om 18:00 op Donderdag25 Januarie 2018 in die Danie Craven-stadion op Coetzenburg plaas. Die informele voorprogram begin 17:30.


Parkeerreëlings
Vir ouers/voogde se bekendstelling aan fakulteite, en vir die amptelike verwelkoming daarna, word u vriendelik versoek om by die Coetzenburg-sportterrein of voor die Coetzenburg Sentrum naby die Danie Craven-stadion te parkeer. Parkering op die sentrale kampus is baie beperk en ook in belang van ons omgewing, word u versoek om vanaf dié parkeerareas na die verskillende lokale te stap. Daar sal ook pendelbussies op dié roete loop.

Fakulteit Ingenieurswese: hierdie fakulteit is die enigste uitsondering. Dit is te ver van die Danie Craven-stadion, maar daar is parkering by die fakulteit beskikbaar.

Druk verkeer
Neem asseblief die verkeersdruk op alle toegangsroetes na Stellenbosch, in die dorp en op Coetzenburg in ag met die bepaling van reistyd, parkering, en die stapafstand na die verskillende lokale. Die voorprogram vir die studente vind vanaf 17:15 in die stadion plaas en u word aangeraai om u sitplek so spoedig moontlik na afloop van u bekendstelling aan die fakulteit in te neem, om ook daardie gedeelte van die program te geniet. Gemaklike klere, stapskoene, 'n sonhoed en ʼn bottel water word aanbeveel. Dit kan soms baie winderig op Coetzenburg wees. 'n Ligte baadjie of windjekker is dalk 'n goeie idee vir vroegaand.

Pendelbussies
Daar loop pendelbussies in 'n sirkelroete vanaf die parkeerarea by die Coetzenburg-sentrum na die Konservatorium op die hoek van Neethling- en Victoriastraat op die sentrale kampus. Ouers/voogde en studente wat moeilik loop, is welkom om van hierdie diens gebruik te maak. Wees op die uitkyk vir voertuie met die Maties bus of Universiteit Stellenbosch logo.

Inligtingsbeamptes
Daar sal op Coetzenburg en ook elders op kampus inligtingsbeamptes (met duidelik gemerkte T-hemde) op straat wees om u te help. Daar is ook navrae-toonbanke in die Administrasie B-gebou (Victoriastraat oorkant Wilgenhof) en die Administrasie A-gebou op die T-aansluiting van Ryneveld- en Crozierstraat).