Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top ingenieurstudent wen kanseliersmedalje
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 08/12/2017

Me Jacqueline Kazmaier het Donderdag (7 Desember) die Universiteit Stellenbosch (US) se gesogte Kanseliersmedalje vir 2017 by die sewende gradeplegtigheidseremonie van die US se Desember-gradeplegtigheid ontvang.

Dit is die hoogste lof wat die US aan ʼn student betoon en word jaarliks toegeken aan ʼn finale jaar of nagraadse student wat uitnemend presteer het.

Me Kazmaier, wat in Namibië gebore is en nou in Somerset-Wes woon, het in 2014 vir ʼn BIng-graad in Bedryfsingenieurswese ingeskryf.

Sy het die seldsame prestasie behaal om oor vier jaar al haar modules met onderskeidings te slaag. Boonop het sy ook die afgelope drie jaar met die beste algehele gemiddelde in Bedryfsingenieurswese gespog. Haar gemiddelde oor vier jaar was 89.7%.

As akademiese presteerder is Kazmaier ook ʼn lid van die Golden Key International Honours Society, die wêreld se voorste kollegiale vereniging wat erkenning gee aan uitstaande akademiese prestasies en die skakeling tussen hoogs uitnemende individue op plaaslike-, streeks- en globale vlak fasiliteer.

Maar vir Kazmaier het dit afgelope vier jaar egter nie net oor boeke, klasdraf en studeer gegaan nie.

“Jy moet 'n goeie balans hou. Ek het eintlik agtergekom na my eerste jaar toe ek begin het om meer dinge te doen wat ek geniet oor naweke of na klas, dat ek eintlik beter presteer as voorheen, my advies aan ander studente sou wees om jou stokperdjies soveel te doen as wat jy jou universiteitswerk ook doen," het Kazmaier gesê.

Sy het haar vaardighede in fotografie, videografie en grafiese ontwerp geslyp, en op die bestuurskomitee van die Duitse Karnavalvereniging van die Universiteit Stellenbosch (MatieKa) gedien. Sy was lid van DASUS, ʼn hoofsaaklik Duitssprekende studentevereniging wat die bekendstelling van nuwe Duitse studente aan die Matie-gemeenskap fasiliteer. Verder het sy ook aan die US se Consulting Society behoort. As musiekliefhebber het Kazmaier ook in 2015 en 2016 aan ʼn baie suksesvolle Sêr-sangkompetisie by die US deelgeneem.

Tydens haar studies het Kazmaier ook tyd ingeruim om aan branderplankry en vlugbal deel te neem. Sy is ook ʼn lid van Maties Branderplankry en Maties Vlugbal.

Kazmaier sê sy gaan volgende jaar weer na die Universiteit terugkeer, en gaan voort met haar studies deur 'n Meestersgraad in Bedryfsingenieurswese te doen en beplan om ses maande lank na München te gaan as deel van haar nagraadse studies. 

  • Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die Kanseliersmedalje aan ʼn student in die ingenieurswese toegeken word. 

Foto: Me Jacqueline Kazmaier saam met profs Wikus van Niekerk, Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, en Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, by die gradeplegtigheidseremonie.

Fotograaf: Stefan Els