Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit Opvoedkunde vereer sy graduandi
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 07/12/2017

Amper 550 grade is Dinsdag 5 Desember deur Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde oorhandig. Hierdie getal het agt PhD-kandidate ingesluit.

Onder die graduandi was die Fakulteit Opvoedkunde se Aimée van Reenen, die ontvanger van die Fakulteit Opvoedkunde se Dekaansbeurs.

“Ek is baie opgewonde om 'n gegradueerde te wees. Ek het vier jaar lank hard gewerk en sien uit daarna om te begin skoolhou en kinders se lewe te verryk," het sy gesê.

Charl du Toit, Paralimpiese atleet en wêreldkampioen in die T37-klas wat in Julie twee goue en een silwermedalje by die Wêreld Para-atletiekkamioenskap in Londen gewen het, het sy BEd-honneursgraad ontvang.

Nog 'n student wat graad gekry het, was MK Nompumza aan wie 'nMandela Rhodes-beurs onlangs toegeken is. Die beurs word aan individue toegeken wat die beginsels van onderwys, versoening, leierskap en entrepreneurskap nastreef, vir nagraadse studie aan Suid-Afrikaanse universiteite of tersiêre instellings.

MK was “so, so gelukkig" om sy BEd-graad te ontvang en sal in 2018 aan sy honneursgraad in Onderwysontwikkeling en Demokrasie werk.

Twee Kanselierstoekennings is aan personeel in die Fakulteit oorhandig.

Die sowat 200 publikasies uit uitgelese professor Lesley le Grange se pen maak hom die produktiefste navorser in die geskiedenis van die Departement Kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie innoveerder op die gebied van kurrikula en onderrig is 'n kernbydraer tot die  Universiteit se strewe na uitnemendheid deur voortgesette kurrikulumvernuwing.

Dr Trevor van Louw se persoonlike oortuiging dat onderwys die sleutel tot ontwikkeling en bevryding is, blyk duidelik uit sy uitnemende werk as direkteur van die Universiteit Stellenbosch Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP). Onder sy bekwame leiding het SUNSEP 'n stewige nasionale voetspoor op die gebied van opvoedkundige ontwikkeling gebou. Die Sentrum se twee universiteitsvoorbereidingsprogramme, SciMathUS en HOPE@Maties, bied leerders 'n geleentheid om hulle graad 12-punte te verbeter en sodoende hulle droom te bewaarheid om toegang tot die hoër onderwys te verkry.