Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Trap oor struikelblokke op pad na jou einddoel
Outeur: Asiphe Nombewu and Rozanne Engel/ Corporate Communication Division
Gepubliseer: 07/12/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) het vanjaar etlike grade, diplomas en sertifikate toegestaan aan studente met gestremdhede.  

Die studente was deur die US se Eenheid van Gestemdhede bygestaan. Die Eenheid is een van die ondersteuningsdienste wat die US meer toeganklik maak vir student met gestremdhede.

Etlike studente met gestremdhede wat gedurende die Desember gradeplegtighede hul kwalifikasies gekry het, het hul ervaringe gedeel:

  • Kerwin Noemdo (23) het in die vyfde gradeplegtigheid 'n BSc-graad in Bewaringsekologie ontvang.

Hy het Suid-Afrika reeds by verskeie internasionale spele verteenwoordig, die mees onlangse die 2017 Wêreld Paralimpiese Atletiekkampioenskapsbyeenkoms in Londen. 

Noemdo sê hy was verplig om as gevolg van sy sportverpligtinge die vierjaarkursus oor vyf jaar te voltooi. “Ek is werklik verlig dat my graadstudies nou afgehandel is – my verblyf op Stellenbosch het soos 'n ewigheid begin voel!"

Noemdo het Suid-Afrika ook in die Wêreldspele vir Rolstoel- en Geamputeerde atlete in 2011 verteenwoordig en was in 2013 lid van die SA span na die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms.  Kerwin ding mee in gewigstoot en afstandnommers.  Hy sê sy sportvaardigheid is reeds op agt jaar deur 'n vriend se ma opgemerk, wat hom oorreed het om aan kompetisies deel te neem.  En die res, soos hulle sê, is geskiedenis...

  • Die Suid-Afrikaanse Paralimpiese swemmer, Hendri Herbst (tweede van links op hooffoto), presteer nie net in die water nie, maar ook op land.  Hendri ontvang sy LLB-graad aan die Universiteit Stellenbosch tydens die vyfde Desember-gradeplegtigheid van 2017 op 6 Desember om 17:30.

Herbst, wat ook met 'n BA-graad in Sosio-Informatika spog, se harde werk het reeds vrugte afgewerp op die Londense Paralimpiese Spele in 2012, waar hy 'n bronsmedalje verwerf het. Hy het ook op die Rio Spele verlede jaar (2016) 'n vierde plek behaal.

“Ek dink die geheim van my sukses lê in my hardnekkigheid.  Ek is mal daaroor om mense verkeerd te bewys as dit kom by stereotipes of die persepsie dat, as 'n mens blind is, dit gelykstaande aan dom is en dat jy sekere dinge nie kan doen nie".

Die 25-jarige boorling van Worcester in die Wes-Kaap sê dat sy gestremdheid die rede was waarom hy in die Regte begin belangstel het.  “Ek wou graag weet hoe ek myself en ander mense met fisiese gestremdhede kan beskerm teen die diskriminasie wat ek gereeld ervaar.  Daarom wou ek meer oor die regstelsel en wette uitvind".

Hy sê hoewel baie daarvan goed op papier lyk, dit nie noodwendig altyd in die praktyk die geval is nie. As voorbeeld noem hy dat baie mense steeds nie oor die nodige kennis beskik nie, veral nie wanneer dit kom by die verskille tussen 'n gidshond en 'n troeteldier nie. 

“Daar was al gevalle waar ek toegang tot restourante geweier is as gevolg van Stan, my gidshond.  Dit is die grootste van die uitdagings wat na my kant toe kom," sê Hendri. 

Hendri deel tong-in-die-kies die storie van hoe Stan hom en sy vrou op Stellenbosch bymekaar uitgebring het.

“Ek het Stan by die Coetzenburg Atletiek-stadion vir 'n stappie geneem toe hy vasloop in hierdie oulike dame, met wie ek toe 'n geselsie aanknoop.  Hierdie ontmoeting het in 'n vriendskap ontwikkel, en 'n paar jaar later is ons getroud.  Sy is op die oomblik besig met 'n PhD in Menslike Genetika."

  • Siobhan Clulow (22) van Durbanville het reeds vroeg in haar tienerjare besef dat die lewe nie altyd volgens plan verloop nie.  Op ouderdom 17 is sy met Keratitis gediagnoseer – dit is 'n seldsame oogsiekte wat inflammasie in die kornea veroorsaak en tot 'n verlies aan sig lei

Siobhan vertel: "Tydens my graad 11-eksamen het ek agtergekom dat na 'n paar uur se studie, my sig verswak.  Ek het aanvanklik gedink dit was as gevolg van moegheid, maar na 'n besoek aan 'n oogspesialis het dit duidelik geword dat die dowwe sig ernstiger van aard was."

Nadat sy talle toetse en behandelings ondergaan het, het geneeshere aanbeveel dat Siobhan onmiddellike oogchirurgie moet ondergaan om 'n algehele verlies aan sig te voorkom.

Siobhan sê die nuus was vir haar as 17-jarige, asook vir haar ouers, 'n enorme skok.  “Ek het altyd 20/20 visie gehad – skielik was dit nie meer die geval nie.  Ek onthou dat sommige van my klasmaats by die skool nie te besorgd was toe hulle die nuus gehoor het nie – nogal te verstane, want op daardie ouderdom dink tieners mos maar eintlik net aan hulleself."  Dit het my egter meer vasbeslote gemaak en 'n nuwe perspektief op die lewe gegee."

As gevolg van die toenemende uitwerking van die siekte op haar sig, moes Siobhan haar droom om rekeningkunde te swot, laat vaar. In plaas daarvan het sy besluit om 'n verskil in die onderwyssektor te maak deur 'n BEd (Algemene Onderwys) (Grondslagfase)-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) te volg. Sy het haar studies suksesvol voltooi, en sal sewe onderskeidings ontvang met dié graad, wat op die derde gradeplegtigheid van 2017 aan haar toegeken word.

  • Shih-Chien Kao (26) van Taiwan ontvang sy BA-graad met hoofvakke Sielkunde, Sosiologie en Sosiale Antropologie, tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se sewende gradeplegtigheid vir 2017 op 7 Desember om 10:00.  Kao, of beter bekend as Jeff, sê hy het 'n nuwe tuiste aan die US gevind en hy beplan om aanstaande jaar sy studies voort te sit.

Jeff sê hy is buite homself van blydskap dat hy dié graad geslaag het.  Dit het hom vyf jaar geneem om te voltooi – met die hulp van sy ouers en die US se Eenheid vir Gestremdhede.

Soos Jeff dit stel: "Hoewel my gestremdheid (Kwadriplegie) somtyds baie uitdagend is, is ek geleer om myself nooit te beperk nie.  Ek het nooit toegelaat dat my gestremdheid enige hindernis op my lewe plaas nie, of dat dit my verhoed om te verkry wat ek wil hê nie."

Jeff is uiters dankbaar vir al die ondersteuning oor die jare van sy familie.

Hy vervolg: "Toe ek Taiwan in 2002 verlaat het, het my ouers ook nader getrek na my om toe te sien dat ek die kwaliteit-opvoeding ontvang wat my toekom, soos vir enige ander kind.  Die spesiale skole in Taiwan fokus hoofsaaklik op visueel-gestremde leerders en ons het gevolglik Suid-Afrika toe verhuis.  Ek het my matriek in 2010 voltooi en in 2013 aan die US begin studeer.  Ek het geweet dat ek baie gelukkig hier gaan wees.  Die mense hier het my van die eerste dag af laat welkom voel en was nog altyd uiters vriendelik teenoor my."

  • “Moet nooit opgee nie. Hou aan probeer as dit regtig is wat jy wil doen en moet nooit bang wees om vir hulp te vra nie."

Dit is die raad van Deané Vertenten (25) (twee van regs) met visuele gestremdheid wat binnekort met 'n honneursgraad in Algemene Taalkunde afstudeer.  Sy ontvang die graad op die Universiteit Stellenbosch (US) se sesde gradeplegtigheid op 7 Desember om 10 00.

 

Na 'n uitdagende begin tydens haar eerste jaar aan die US, toe sy 'n vak gedruip het, het Deané haarself belowe om nie toe te laat dat die stigma en teleurstelling van mislukking haar van haar voornemens vir suksesvolle tersiêre onderwys sal laat afsien nie.

Sy stel dit so: “Wanneer so iets gebeur, moet jy jou nie daaroor verknies nie en voel asof dit die einde van die wêreld is nie.  Jy moet  eerder uit daardie ervaring leer en weer probeer."

Deané het nooit 'n universiteitsloopbaan beplan nie, maar nadat 'n aanlegtoets op hoër skool getoon het dat voortsetting van studies in die Geesteswetenskappe ideaal sou wees vir haar, was sy gemotiveerd om aan 'n goeie universiteit in te skryf.

“Ek is die enigste een in my familie wat bevoorreg genoeg was om aan 'n universiteit te studeer en dit is 'n groot oomblik vir my en my gesin."

Ondanks haar gestremdheid, het Deané haarself voortdurend uitgedaag om akademies sowel as met betrekking tot leierskap uit te blink.  Sy was primaria van haar koshuis, Huis de Viliers, en die eerste visueel-gestremde student wat 'n nagraadse diploma in Tegnologie vir Taalonderrig voltooi het.

“Die suksesvolle voltooiing van daardie nagraadse diploma was ongetwyfeld een van die hoogtepunte op Stellenbosch en toe ek agterkom dat geen visueel-gestremde student dit nog kon doen nie, was ek nog meer trots op myself."

  • Sydney Berrington (24) (links op die hooffoto) het reeds in haar grootwordjare op Dordrecht, 'n klein Oos-Kaapse dorpie, daaroor gedroom en die passie openbaar om graag haar medemens te help.  Sy het haarself toe reeds plegtig belowe dat haar verlies aan sig haar nie van dié doel sou weerhou nie.

Sydney verwerf op 7 Desember vanjaar om 10:00, tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se sesde Desember-gradeplegtigheid, 'n tweede nagraadse kwalifikasie, die graad HonsBA in Politieke Wetenskap – dit is haar tweede nagraadse kwalifikasie aangesien sy reeds oor 'n honneursgraad in Sielkunde beskik, wat in Maart vanjaar aan haar toegeken is, en ook 'n BA in Internasionale Studies het.

“Net omdat ek blind is, weerhou my nie daarvan om dieselfde sukses, of doel, as enigiemand anders te kan bereik nie.  Ek besef dat ek my gestremdheid in ag moet neem wanneer ek nuwe uitdagings aanvaar aangesien ek nie elke keer alles gedoen sal kry nie.  Ek dink egter nie dat ek so spesiaal is nie, en wil nie hê mense moet my deurentyd sien as dié inspirerende figuur nie.  Ek kan dinge nog soos enigiemand anders doen, al is dié gestremd of nie."

Sydney het tydens haar studies aan die US heelwat vermag – sy was voorsitter van DisMaties, 'n studentevereniging wat bewustheid bevorder van studente met gestremdhede en ook hulle belange op die hart dra; sy het ook as tutor vir voorgraadse sielkunde-studente opgetree en as 'n navorsingsassistent by Stikland-hospitaal in Bellville gewerk waar sy veral vroue wat mishandel en getraumatiseerd is bygestaan het.

Sydney sê: “Sedert hoërskool stel ek al in sielkunde en politiek belang en ek het van die begin af geweet ek sou nooit net met een graad kon verlief neem om al my belange te bevredig nie.  Hoewel dit my uiteindelike doelwit is om 'n beroepsielkundige te word ten einde ander mense te help, sal ek nogtans graag in politieke debat wil betrokke raak om groter bewuswording te skep oor die struikelblokke wat gestremde mense mee te make het."

  • “My gidshond, Genieva, behoort met haar eie toga en kappie op my gradeplegtigheid beloon te word," sê Claudia van Rensburg, wat die PhD-graad in Musiekwetenskap op die Universiteit Stellenbosch se sesde gradeplegtigheid op 6 Desember (om 17:30) ontvang.

Claudia, wie se proefskrif handel oor musikale strategieë van vestiging en migrasie in die Wes-Kaap, sê haar hond moes lang ente saam met haar stap toe sy besig was om inligting in te vorder vir haar navorsing.  En sy het dit met liefde gedoen, sê sy.

Claudia en Genieva moes reis na plekke soos Langa in Kaapstad om met 'n aantal mense te gesels, onder andere die bekende Madosini Latozi Mpahleni wat tradisionele instrumente soos die Uhadi en Mhrubhe musikale boë bespeel.

Claudia sê: “Daar is 'n rede waarom mense sekere dinge doen en in my navorsing het ek ontleed waarom mense die musiek wat hulle produseer, kies en die inspirasie daaragter.  Ek het musiek by die plaaslike Nigeriese kerk in Kayamandi gaan ondersoek en het dit vergelyk met die dié van die komponis William Bell om ooreenkomste te probeer vind."

Sy vervolg: “Ek het altyd probeer om inspirasie te put uit my pa se lewensverhaal.  Hy was van geboorte af heeltemal blind, maar ten spyte van alles, was hy steeds een van die eerste blinde mense wat in sy jongdae 'n universiteit kon bywoon.  Ek word altyd deur sy lewe geïnspireer, want in daardie vervloë dae was daar selfs minder hulpbronne vir blinde studente beskikbaar en ondersteuning het geensins bestaan nie."