Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Outomatiese braillering van Afrikaanse teks nou moontlik
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 07/12/2017

Die omskakeling van Afrikaanse teks na braille – en andersom – kan nou letterlik met die klik van 'n muis gebeur.

Dit is danksy 'n program wat deur De Pallier Gerber, 'n rekenaarwetenskapstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), as deel van sy finalejaarprojek vir die Pionierskool vir die Blindes in Worcester ontwikkel is. Gerber het vandeesweek sy BScHons-graad in rekenaarwetenskap aan die US verwerf.

Volgens mnr. Hannes Byleveldt, adjunkhoof van die Pionierskool, gaan dié program onmiddellik 'n impak hê op die manier waarop hulle klasgee.

“Tans is die voorbereiding van lesmateriaal 'n baie tydrowende proses. Alles wat ons vir die leerders voorberei, moet eers via 'n program na braille omgeskakel en met 'n spesiale drukker uitgedruk word, waarna dit aan die leerders in die klas uitgedeel word. Die program wat tans gebruik word, is nie 100% akkuraat nie en iemand moet alles eers proeflees. Die leerders  sal dan die oefening op 'n elektroniese brailleskrywer doen en daarna moet dit weer gedebrailleer word sodat die onderwyser dit kan nasien.

“Behalwe dat dit 'n baie tydrowende proses is, vereis dit ook groot hoeveelde papier en benadeel dit die leerproses en interaksie in die klas. Braillespesialiste is ook nie altyd geredelik beskikbaar nie," voeg hy by.

Met Gerber se program kan die onderwyser reeds in die klas op 'n rekenaarskerm die teks in braille met die teks in Afrikaans vergelyk en onmiddellike terugvoer gee.

“Ek kan van nou af soos in 'n hoofstroomskool klasgee!" benadruk hy.

Die program sal ook die omskakelingsproses van Afrikaanse handboeke na braille vergemaklik.

Die program is ook die eerste van sy soort om vir verskillende vlakke van verkorte braille voorsiening te maak in die proses van omskakeling tussen braille en geskrewe Afrikaans, en weer andersom.

Gerber verduidelik: “Ek het die program so geskryf dat daar verskillende vlakke van kompleksiteit tussen Graad 1 en Graad 2 braille is. Die onderwyser kan dus 'n teks voorberei en self besluit op watter moeilikheidsgraad dit aangebied word."

Nog 'n voordeel is dat die program so gebruikersvriendelik is dat onderwysers dit self sal kan aanpas om nuwe taalreëls in Afrikaans of braille te akkommodeer. Dit neem ook komplekse uitspraakreëls, wat braillering beïnvloed, in ag.

Mnr. Byleveldt sê hulle beplan om na die proeffase die program op al die onderwysers se rekenaars te installeer en behoort dit reeds in die eerste kwartaal van volgende jaar in die klaskamer te implementeer .

Prof Lynette van Zijl, 'n navorser in die US se Afdeling Rekenaarwetenskap wat onder meer in ondersteuningstegnologie spesialiseer, sê hulle sal voortgaan om die skool by te staan totdat die gebruik van die program foutloos uitvoer. Daarna kan die program na ander skole en instansies versprei word.

Mnr. Paul Greyling, hoof van die Pionierskool, sê hulle is veral opgewonde oor die moontlikhede wat die program bied aan leerders wat hul hoërskoolloopbaan in hoofstroomskole wil voltooi: “Ons kan nie al die vakke aanbied wat hulle vir universiteitstoelating nodig het nie. Hierdie program ontsluit sóveel moontlikhede. Ons kan nie wag om dit te begin gebruik nie."

 

Medianavrae

Mnr. Hannes Byleveldt

Adjunkhoof: Die Pionierskool vir die Blindes

Tel: 023 342 2313

E-pos: hbyleveldt@pioneerschool.org.za

 

Me. Tammy Watson

Braillespesialis

Tel. 023 342 2313

E-pos: prinsipaal@pioneerschool.org.za

 

Mnr. Paul Greyling

Hoof: Die Pionierskool vir Blindes

Tel:  023 342 2313

E-pos:  prinsipaal@pioneerschool.org.za

 

Prof Lynette van Zijl

Afdeling Rekenaarwetenskap, Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4232

E-pos: lvzijl@sun.ac.za

 

De Pallier Gerber

E-pos: dpgerber@gmail.com

 

 Op die foto bo, van links na regs: Mnr. Paul Greyling en mnr. Hannes Byleveldt van Die Pionierskool vir die Blindes. Heel voor sit De Pallier Gerber en agter hulle is prof Lynette van Zijl van die Rekenaarwetenskapafdeling. Foto: Wiida Fourie-Basson