Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderrig is ’n voorreg – Prof Nuraan Davids
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 28/11/2017

Onderrig is 'n voorreg en 'n groot verantwoordelik – een wat Prof Nuraan Davids, voorsitter van die Departement Opvoedingsbeleidstudie in die Fakulteit Opvoedkunde, nie ligtelik opneem nie.

Dit is onlangs aangekondig dat sy die ontvanger van 'n Universiteit Stellenbosch-toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig is. ’n Spesiale geleentheid is op 28 November gehou.

Prof Davids het vroeër vanjaar ook eervolle vermelding vir uitnemendheid in onderrig en leer van die Raad op Hoër Onderwys en HELTASA (Higher Education Learning and Teaching Association of Southern Africa) af ontvang.

“My aangetrokkenheid tot onderrig is te danke aan my eie inspirerende en fenomenale onderwysers. Hierdie toekenning gee erkenning aan die ongelooflike waarde en trots wat ek aan onderrig heg. Dit is nie net 'n baie lonende ervaring nie, maar inspireer my ook om beter te doen.

“My onderrigstyl floreer op interaksie, debatte en gesprekke met my studente. Ek dink nie studente besef watter waarde hulle na klasse toe bring nie – soos ek hulle leer, leer ek ook by hulle.

“Bo alles is onderrig 'n voorreg, want 'n onderwyser/lektor is in die posisie om studente se denke te vorm en te beïnvloed. As 'n lektor het ek die voorreg om 'n betekenisvolle rol in studente se lewe te speel. Saam met hierdie voorreg kom 'n reuse-verantwoordelikheid dat onderwysers/lektore werklik die vermoë het om óf hoop en selfvertroue, óf onverskilligheid en moedeloosheid te kweek.

“Onderrig gaan dus gepaard met liefde, meegevoel, respek en sorg. Wat ek sê en hoe ek my studente behandel, is belangrik, want ek sal nie net onthou word vir wat ek studente leer nie, maar ook vir hoe ek hulle oor hulself laat voel het. Dit kan nie ligtelik opgeneem word nie."

Prof Davids is net so passievol oor navorsing as wat sy is oor onderrig en beskou die twee as vervleg en afhanklik van mekaar.

Sy het ook onlangs die nuus ontvang dat 'n C2-gradering deur die Nasionale Navorsingstigting (NSS) aan haar toegeken is. 'n C2-gradering word toegeken aan aansoekers wat as gevestigde navorsers beskou word.