Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Hester Klopper verkies tot raad van internasionale liggaam
Outeur: Alec Basson [Corporate Communication]
Gepubliseer: 21/11/2017

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering aan die Universiteit Stellenbosch (US), is onlangs as Raadslid van die Consortium Universities for Global Health (CUGH) verkies. Sy is een van ses nuut-verkose raadslede en die eerste Suid-Afrikaner om die eer te beurt te val. Klopper, ʼn internasionaal erkende akademiese leier in gesondheidsorg, sal vir ʼn termyn van drie jaar (2018-2021) dien.

Die CUGH, gesetel in Washington DC in Amerika, is in 2008 gestig en het sedertien gegroei tot meer as 145 akademiese instellings en ander organisasies regoor die wêreld wat globale gesondheidsuitdagings aanspreek. Die US is ʼn lid van die CUGH.

Lidmaatskap van die CUGH stel die US in staat om sy bydrae tot die oplossing van globale uitdagings te verhoog. Dit bied die Universiteit ook ʼn groter teenwoordigheid in die internasionale gesondheidsgemeenskap, en fasiliteer die skakeling met ander instellings, maatskappye, en regerings wêreldwyd. Verder bied dit toegang tot inligting oor navorsing en werks- en opleidingsgeleenthede.

“Dit is uiteraard 'n groot eer om as die eerste Suid Afrikaner en ek dink die tweede persoon uit Afrika tot die CUGH-raad verkies te word," het Klopper oor haar prestasie gesê.

“Dit gee my die geleentheid om die Universiteit Stellenbosch in die internasionale arena te verteenwoordig, en veral die Department vir Globale Gesondheid, wat aan die einde van 2016 gevestig, is in die FMGSW te versterk.  Verder bied dit my ook 'n geleentheid om op die manier 'n bydrae te maak to globale gesondheid en skakeling met die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte."

“In 'n organisasie waar lede meestal uit mediese praktisyns bestaan, sien ek dit as 'n geleentheid om die rol wat ander gesondheidsberoepe in globale gesondheid speel te beklemtoon," het Klopper bygevoeg.

Sy het gesê vennootskappe is nodig om die gesondheids​uitdagings aan te spreek en sy hoop om met verskillende belangegroepe saam te werk en die gemeenskaplike agenda te dien.