Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geen uitdaging te groot vir gehoorgestremde student
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 16/11/2017

​Jody Lee Bell (24) het baie hooi op haar vurk: Sy is 'n heeltydse student in die Afdeling Hematologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, werk deeltyds by Tygerberg-hospitaal se biobank en het tyd ingeruim om vir Mej. Dowe SA 2017 in te skryf, waar sy as tweede prinses aangewys is.

Nog indrukwekkender is dat sy dit regkry om elke nag 8-10 uur te slaap sonder om haar studies of verpligtinge af te skeep. “Ek het vroeg tydbestuursvaardighede aangeleer, want dit neem 80% van my energie om heeldag op luister te fokus. My brein is saans teen agtuur uitgeput en moet herlaai word," vertel sy. Sy moes dus eenvoudig leer om soggens produktief te wees en haar werk voor slaaptyd in te pas.

Jody is met erge gehoorverlies gebore, maar dit is eers gediagnoseer toe sy 'n jaar oud was. “My ma het my na verskeie algemene praktisyns, oor-, neus- en keelspesialiste en kinderartse geneem, maar hulle het almal gedink sy is net 'n neurotiese ma. Niemand het haar na 'n oudioloog verwys nie."

Dit was eers toe haar ma 'n artikel gelees het met die titel “Hoe om te weet of jou kind gehoorgestremd is", met verwysings na die Tygerberg-hospitaal se pediatriese oudiologie-eenheid, dat haar gehoorverlies-reis begin het. Haar ma was deurentyd die stewige steunpilaar aan haar sy.

Gehoorverlies het talle akademiese en sosiale uitdagings vir Jody meegebring. “Ek het op skool gesukkel, veral omdat ek sedert graad 1 in 'n hoofstroomskool was. My gehoor was nie wonderlik met net gehoorapparate nie." Sy was gelukkig genoeg om kogleêre inplantings te kry – in haar linkeroor toe sy 16 was en in haar regteroor op 18-jarige ouderdom. “Dit het my lewe verander en my punte het van 'n gemiddeld van tussen 40% en 50% tot 76% in matriek verbeter. Die swak punte was nie weens ʼn gebrek aan studies nie, maar ek kon nie behoorlik hoor om inligting te verstaan en te prosesseer nie.

“Maar op sosiale gebied het ek steeds gesukkel, want ek was die enigste leerder met gehoorverlies in al my skole. Portuurgroepe het dikwels nie die nodige geduld of begrip vir my gehoorverlies nie. Soms is vermyding eenvoudig makliker vir hulle."

Jody sê dit was eers op unversiteit dat sy ervaar het dat mense haar waarlik aanvaar het en nie omgegee het om hul gedrag aan te pas om seker te maak sy word ingesluit nie. “Universiteite is ook beter toegerus om studente met gestremdhede te steun omdat hulle eenhede vir die regte van gestremdes het."

Om haar akademiese standaarde te handhaaf, het Jody op skool en universiteit van ekstra lesse gebruik gemaak om seker te maak sy verstaan die werk. Volgens haar is dit ondanks die inplantings steeds moeilik om in groot sale met baie mense, baie agtergrondgeluide en stoornisse te hoor. “Die US se Eenheid vir Gestremdhede het byskrifte in reële tyd tydens my lesings verskaf, sodat ek dit op my foon of skootrekenaar kon volg terwyl gepraat is."

Al besef Jody sy is in sekere opsigte beperk, laat sy nie toe dat haar gestremdheid haar definieer nie. “My ma was altyd my sterkste motiveerder en het my van jongs af meegedeel ek kon doen wat ek ook al wou. Sy het my karakter opgebou sodat ek 'n sterk, gedrewe mens geword het."

Vir Jody is een van die frustrerendste aspekte van haar gestremdheid die sosiale stereotipe “doof en dom", wat volgens haar ook na die indiensnemingsektor deursyfer. “Net omdat ons gehoorverlies het, beteken dit nie ons is nie onafhanklik of kan nie tot die ekonomie en die land bydra nie."

Ofskoon sy haar studieveld en die werk aan haar meesterstesis (“Langtermyn-urinebioberging: stabiliteit van urinebiomerkers teen -80 grade") geniet, oorweeg sy steeds haar opsies vir toekomstige professionele planne. “En ek hou daarvan so. Ek wil sien hoe my loopbaan ontwikkel en geleenthede aangryp soos wat dit opduik!"

Maar Jody wil aanhou om die lewe makliker vir Suid-Afrikaners met gehoorverlies te maak en moedig alle mense met gestremdhede aan om positief in die aangesig van teëspoed te wees en hulself te aanvaar. “Dit hang van jouself af om te besluit hoe jy gaan reageer en wat jy met jou omstandighede gaan doen."

 

Onderskrif: Meesters-student aan die FGGW, Jody Lee Bell, is as die tweede prinses aangewys by Mej. Dowe SA 2017.