Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mag in hande van diegene met inligting – Prof Joseph Stiglitz
Outeur: Alec Basson [Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie]
Gepubliseer: 15/11/2017

Diegene wat in vandag se inligtingsekonomie die inligting beheer, het ook meer mag.

Só het prof Joseph Stiglitz van die Universiteit van Columbia en ook ʼn genoot by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) op Dinsdag (14 November 2017) gesê.

Stiglitz, die ontvanger van die Nobel-Gedenkprys in Ekonomiese Wetenskappe in 2001, het 'n openbare STIAS-lesing by die Wallenberg-sentrum in Stellenbosch gelewer.

Hy het oor inligtingsekonomie gepraat en gesê dit het die verstaan van ekonomie en ekonomiese beleid getransformeer.

“Inligtingsekonomie het voorheen onverklaarbare verskynsels verduidelik en gevestigde aannames, insluitend dié oor markdoeltreffendheid, op hul kop gekeer."

“Dit het ook getoon dat markte nie altyd mededingend is nie en dat hierdie verskynsel aan 'n gebrek aan inligting toegeskryf kan word."

Stiglitz het daarop gewys dat inligtingsekonomie diegene wat aan die voorpunt is van die insameling van inligting beheer oor die mark gegee het.

“Ons beweeg na 'n wêreld waar enkele maatskappye disproporsioneel meer inligting het en dus disproporsioneel meer beheer oor die mark het."

Hy het in die verband na maatskappye soos Amazon, Facebook en Google verwys.

“Platvorms soos Amazon, Google, Facebook of Apple kan inligting versamel en gebruik om pryse vas te stel soos dit hulle pas."

“Hulle beheer die inligting."

Stiglitz het gesê dat inligting vandag ʼn skaars kommoditeit kan wees.

Hy het daarop gewys dat 'n nuwe stel inligtingprobleme wat met privaatheid, deursigtigheid en disinformasie verband hou, die funksionering van die ekonomie en demokrasie bedreig.

Stiglitz het gesê 'n nuwe reguleringsraamwerk is nodig om dit te hanteer.

  • Foto: Prof Joseph Stiglitz aan die woord by die STIAS-lesing.
  • Fotograaf: Anton Jordaan