Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US fisioloog verkies tot IUPS se raad
Outeur: Media and communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 14/11/2017

Prof Faadiel Essop van die Departement Fisiologiese Wetenskappe by die US is deur die Internasionale Unie vir Fisiologiese Wetenskappe (IUPS) uitgenooi om te dien in sy Raad van die Algemene Vergadering (RAV) vir 'n termyn wat strek vanaf 2017 tot 2021.

Die IUPS is in 1929 gestig as internasionale sambreelorganisasie vir fisiologie. Een van die nuutverkose RAV se eerste take is om 'n verslag oor die stand van fisiologie saam te stel wat voorgelê sal word aan die Algemene Vergadering by sy vierjaarlikse IUPS kongres in 2021.  Die RAV is ook verantwoordelik om te verseker dat aanbevelings soos opgeneem in die 2017 verslag, Physiology: Current Trends and Future Challenges ‒ die eerste van sy soort ‒ oor die volgende vier jaar geïmplementeer word.

Prof Essop sê dat, alhoewel fisiologie as dissipline in Suid-Afrika gedy, hy hoop om op sekere aspekte soos die vestiging van 'n netwerk van fisioloë in Afrika, te fokus.

“Ons werk alreeds nou saam met die Afrika Vereniging vir Fisiologiese Wetenskappe, maar 'n meer formele platform sal 'n uitruilskema vir nagraadse studente en personeel tussen Afrika-universiteite vergemaklik."

Nog 'n prioriteit sal wees om fisiologie aan 'n groter gehoor bloot te stel: “Ek glo dat dit wetenskaplikes sal help om sin te maak van die huidige vloed van genoomdata. Ons moet verstaan wat al die genoom- en proteïenopeenvolgingsinligting werklik beteken binne die konteks van die hele organisme. Dit is presies in hierdie verband wat fisioloë kan help om die gaping te oorbrug deur saam met genetici en bioinformatici te werk," voeg hy by.

Prof Louise Warnich, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, sê hierdie benoeming gee aan Prof Essop erkenning op internasionale vlak en dat hy 'n waardevolle bydrae tot die RAV sal lewer.

Prof Essop is 'n volle professor in die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe. Sedert 2013 het hy reeds vir twee termyne as president van die Fisiologie Vereniging van Suider-Arfika gedien. In 2015 is hy aangewys as voorsitter van die Navorsingsadvieskomitee van die Hart- en beroertestigting van Suid-Afrika en in 2016 is hy verkies tot visepresident van die Afrika Vereniging vir Fisiologiese Wetenskappe.