Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldkundiges in Kaapstad om veranderende MIV/VIGS-epidemie te bekyk
Outeur: Xanthe Hunt, Adziliwi Nematandani and Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 13/11/2017

MIV/VIGS-kundiges van vyf kontinente oor die wêreld heen vergader van 13 tot 15 November 2017 in Kaapstad, Suid-Afrika, om die dinamiek van 'n veranderende MIV/VIGS-epidemie te bekyk en kwessies rakende voorkoming, behandeling en versorging aan te pak. Die kundiges gaan deelneem aan die 13de Konferensie oor die Impak van Vigs wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) aangebied word.

Die byeenkoms van die gedrags- en psigososiale wetenskappe — wat in 1991 die eerste maal in Amsterdam, Nederland, gehou is — behels 'n internasionale dialoog wat die menslike kant van die epidemie aanspreek.

“Afgesien van die groot belang van mediese navorsing en vooruitgang in die stryd teen MIV, is dit van onskatbare waarde om die menslike en maatskaplike 'gesig' van die epidemie te bekyk," verduidelik die konferensie se medevoorsitter, dr Sarah Skeen van die Universiteit Stellenbosch (US).

Die RGN se prof Heidi van Rooyen, wat 'n medevoorsitter van die konferensie is, voeg by dat “Indien ons die epidemie in Afrika wil stuit, ons dringend aandag moet gee aan vraagstukke soos armoede, genderongelykheid en gender-gebaseerde geweld wat die verspreiding van MIV onder kwesbare populasies aanblaas."

Die 2017 Kaapstadse konferensie getiteld “What will it take to end the epidemic?" (“Wat gaan dit vat om die epidemie te beëindig?") vervolg waar die 2015-byeenkoms afgesluit het en die oogmerk daarmee is om baanbrekerswerk oor die dinamiek van 'n veranderende epidemie aan te moedig, met die klem op die jongste metodes wat voorkoming, behandeling en versorging betref.

Tussen die afgevaardigdes uit 54 lande wat saam gaan vergader, is nuwelinge in die veld, sowel as ervare navorsers, voorkomingswerkers, gemeenskapslede, beleidmakers en ander sleutelbelanghebbendes van universiteite, institute en organisasies oor die hele wêreld.

Onder die sprekers is prof Fred Ssewamala, Direkteur van die Internasionale Sentrum vir Kindergesondheid en Bate-ontwikkeling aan die Columbia Universiteit. In sy hoofsessie bekyk hy die Koste-effektiwiteit van Besparingsgedrewe Ekonomiese Bemagtigingsintervensies vir Kinders wat deur VIGS geraak word en die impak daarvan op adolessentegesondheid, liggaamlike welstand en voldoening aan ART-medikasie (vir diegene wat MIV-positief is). Professor Linda Richter, 'n Gedistingeerde Professor en Direkteur van die DWT-NSS Sentrum vir Uitnemendheid in Menslike Ontwikkeling aan die Universiteit van die Witwatersrand in Suid-Afrika, gaan die relevansie van die waardes wat die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte onderlê, bespreek.

Afgevaardigdes sal multidissiplinêre opvattings, voorpuntnavorsing, internasionale goeie praktyk, asook 'n diepliggende insig oor die belang van die menslike ervaring ‒ wat alle aspekte rakende MIV-voorkoming, -behandeling en -sorg insluit ‒ deel.  “As ons die menslike gesig agter die epidemie vergeet, laat ons die virus seëvier. Wanneer ons die mensdom se behoeftes begryp, kan ons 'n keerpunt op die reis na die uitwissing van VIGS bewerkstellig," sê prof Lorraine Sherr van die Internasionale Wetenskaplike Raad.

Die Konferensie oor die Impak van VIGS word tweejaarliks gehou en is een van die belangrikste platforms vir begrip, hersiening en debattering rakende die gedrags-, psigososiale en gemeenskapsfasette van MIV in die lig van veranderende maatskaplike toestande en mediese vorderings. Vanjaar verwag die konferensie se reëlingspan, onder leiding van prof Mark Tomlinson en dr Sarah Skeen van die US, en prof Heidi van Rooyen en me Bridgette Prince van die RGN, afgevaardigdes uit 54 lande.

Die hoofsessie sluit sprekers in van toonaangewende instellings soos die Internasionale Sentrum vir Kindergesondheid- en Bate-ontwikkeling aan die Columbia Universiteit; die Carolina Bevolkingsentrum; die Universiteit van die Witwatersrand; die Skool vir Openbare Gesondheid en Huisartskunde aan die Universiteit van Kaapstad; die Afdeling Voorkomende Wetenskap in die Departement Geneeskunde aan die Universiteit van Kalifornië; die Universiteit van New York; die Departement van Openbare Gesondheid aan die Universiteit van Kopenhagen; die Treatment Action Campaign (TAC); en die MRC Clinical Trials-eenheid aan die Londense Universiteitskollege, asook aktiviste en die stemme van VIGS-lyers.

Die konferensie word aangebied by die nuut ontwikkelde Century City-konferensiesentrum wat naby die Kaapstadse SSG geleë is.

Omtrent die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN)

Die RGN is in 1968 as Suid-Afrika se statutêre navorsingsagentskap gestig en het tot die grootste aangewese navorsingsinstelling vir die sosiale en geesteswetenskappe op die Afrika-kontinent ontwikkel. Die agentskap doen voorpunt- openbare navorsing op gebiede wat deurslaggewend vir ontwikkeling is.

Die RGN se mandaat is om die effektiewe formulering en monitering van regeringsbeleid te rig; beleidsimplementering te evalueer; openbare debat deur die effektiewe verspreiding van navorsingsgebaseerde data en feitegebaseerde navorsingsresultate aan te wakker; navorsingsamewerking te bevorder; en aan navorsingskapasiteit en -infrastruktuur vir die geesteswetenskappe te help bou.

Die Raad onderneem grootskaalse beleidsverwante, sosiaalwetenskaplike navorsing vir openbaresektorgebruikers, nieregeringsorganisasies en internasionale ontwikkelingsagentskappe. Navorsingsaktiwiteite en -strukture word behoorlik in pas gebring met Suid-Afrika se nasionale ontwikkelingsprioriteite.

Omtrent die Universiteit Stellenbosch (US)

Die Universiteit Stellenbosch (US) wat in 2018 sy eeufees vier, is een van die oudste universiteite in Suid-Afrika. Met sy 10 fakulteite (Agriwetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Ingenieurswese, Krygskunde, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid en Teologie) spog die US met die hoogste geweegde navorsingsuitset per voltydse akademiese personeellid van alle Suid-Afrikaanse universiteite en die tweede hoogste getal wetenskaplikes in Suid-Afrika wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) gegradeer is – 429 in 2017. 

Met 24 navorsingsleerstoele onder die NSS se Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief (oftewel SARChi) en sewe sentra vir uitnemendheid, word die Universiteit onder meer as 'n leier in biomediese tuberkulosenavorsing en -bestuur, wynbiotegnologie, waternavorsing, volhoubare energie, veekundige wetenskappe, en wiskundige biowetenskappe beskou.

As voorkeurnavorsingsvennoot, neem die US ook aan verskeie internasionale netwerke deel. Die instelling het meer as 150 bilaterale vennote in 44 lande op 6 kontinente en oor die 4 300 internasionale studente van meer as 100 verskillende nasionaliteite.​