Skaars 'n maand nadat hy twee Rektorstoekennings ontvang het – een vir uitnemende leierskap en een vir uitnemende dienslewering – het die onderwysstudent MK Nompumza die nuus gekry dat 'n Mandela Rhodes-beurs aan hom toegeken is.
Die oorkoepelende missie van die Mandela Rhodes Stigting is om uitsonderlike leierskapkapasiteit in Afrika te bou deur uitstaande opvoedkundige en opleidingsgeleenthede aan individuele Afrikane met leierskappotensiaal te verskaf.
Die beurs word toegeken aan individue wat hulself verbind het tot die beginsels van onderwys, versoening, leierskap en entrepreneurskap vir nagraadse studie by Suid-Afrikaanse universiteite of tersiêre instellings. Die kern van die leierskapontwikkelingsprogram word hoofsaaklik in 'n reeks slypskole aangebied.
“Ek voel geëerd om deel van die 2018-klas van Mandela Rhodes-beurshouers te wees," sê MK.
“Hierdie beurs gee my die geleentheid om oor my leierskapsreis tot nou toe te besin; en dit inspireer my om ’n leier te wees ten opsigte van die verandering wat ek in die wêreld wil sien."
MK, wat in Desember sy voorgraadse onderwysgraad sal ontvang, het die afgelope vier jaar elke geleentheid wat na sy kant toe gekom het, benut.
Hy is gekies as die voorsitter van die Fakulteit Opvoedkunde se studentekomitee in 2015/2016 en was instrumenteel in die ontwerp en implementering van 'n kort kursus in Leierskap in Onderwys. Die afgelope twee jaar het hy as koördineerder van hierdie kursus, wat deur die Fakulteit Opvoedkunde in samewerking met die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapontwikkeling aangebied word, opgetree.
Hy het oorsee gereis om 'n internasionale somerskool by Humboldt Universiteit in Berlyn by te woon en was ook betrokke by 'n vennootskapnavorsingsprojek oor beplanning en beleid vir twee- en veeltalige skole.
Sy droom is om 'n ware fasiliteerder vir leer te word in elke skool waar hy eendag skoolhou.
“Ek glo dat die vinnige veranderings wat ons in Suid-Afrika sien gebeur jong leiers wat innoverende denkleiers is, vereis – iets wat ek streef om te wees. Ek sien die geleentheid om 'n Mandela Rhodes-beurshouer te wees as 'n kans om as leier te ontwikkel, én om my ervarings en die lesse wat ek leer tot voordeel van en binne die skole, gemeenskappe en leierskapposisies waarin ek myself bevind, aan te wend."
MK sal in 2018 vir 'n honneursgraad in opvoedkundige ontwikkeling en demokrasie inskryf.