Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrikaanse entomopatogeniese nematodes het die vermoë om die swammuggie pes te bestry
Outeur: Agil Katumanyane
Gepubliseer: 10/11/2017

Swammuggies is 'n ernstige pes in Suid-Afrika se bedekte boerderye en beskadig gereeld verskeie gewasse. Die larwes van die swammuggie kom in die grond voor en as hul nie beheer word nie, kan hul deur 'n plant se ondergrondse wortelstelsel vreet en die plant se vermoë om te groei geweldig belemmer. Die spuit van chemiese insekdoders is op die oomblik die mees algemene beheer metode vir swammuggie populasies, maar kan skadelik wees vir die omgewing en mense se gesondheid. Entomopatogeniese nematodes (EPNs) is klein, grondlewende, wurmagtige organismes wat insekte aanval en doodmaak. EPNs word natuurlik gevind in die grond en sover is daar nognie gevind dat hul skadelik is vir mense nie. In 'n onlangse MSc studie was daar bevind dat plaaslike EPNs wat natuurlik in die Wes-Kaapse grond voorkom, die vermoë het om swammuggies dood te maak.  EPNs kan daarom moontlik 'n kragtige alternatief wees vir chemiese insekdoders, deur die pes insekte dood te maak sonder om mense of die omgewing kwaad aan te doen.

Alhoewel swammuggies natuurlik voed op swamme en organiese materiaal, bestaan daar 'n paar spesies wat gespesialiseerde peste is van lewende plante. Die mees skadelike swammuggies is heel moontlik afkomstig van die Noorderlike halfrond. Sommige van die gewasse wat beïnvloed word sover sluit in sampioene, komkommers wat in groenhuise gegroei is, tamaties, krisante, bloubessies, groente, kruie en boom kwekery beddings. Die swammuggies veroorsaak skade aan hierdie gewasse in die vorm van direkte fisiese skade aan die gewas se wortelstelsel deur die voeding van die larwes. Die simptome van 'n plant wat geaffekteer is, sal daarom soortgelyk wees aan die van 'n plant sonder 'n gesonde wortelstelsel. Omdat swammuggies natuurlik voed op swamme, is hul ook verantwoordelik vir die verspreiding van swam patogene asook ander grondlewende patogene wanneer hulle beweeg van een plant na die ander. Die volwasse swammuggies, alhoewel hul nie fisies skadelik is nie, is 'n redelike irritasie vir plaaswerkers en versprei ook swam spore.

Swammuggies word hoofsaaklik beheer deur die gebruik van chemiese insekdoders wat ongelukkig 'n risiko inhou vir die gesondheid van plaaswerkers en ook kan lei tot die ontwikkeling van weerstandigheid teen insekdoders. Die kriptiese habitat van swammuggies maak dit ook moeilik om hul te beheer met chemikalieë. As gevolg van die probleme met chemiese beheer, asook die toenemende aanvraag deur verbruikers vir chemikalieë-vry beheer metodes, word alternatiewe beheer metodes soos fisiese, kulturele en biologiese beheer metodes ondersoek. Sulke beheermetodes is ideaal, aangesien swammuggies gewasse aanval waar die gebruik van chemiese beheer nie geskik is nie. Hierdie gewasse sluit in sampioene en groente wat kort lewenssiklusse het en waarvoor die aanwending van chemiese middels net beperk is tot op 'n sekere groeistadium. Swammuggies is ook 'n pes van huisplante waar hul naby mense voorkom en waar die gebruik van chemiese middels nie wenslik is nie.

Biologiese beheer van swammuggies is al suksesvol uitgevoer deur die gebruik van EPNs, predatoriese myte, kewers en grond bakterië. Beheer deur EPNs word wêreldwyn gedomineer deur die EPN, Steinernema feltiae, wat ook gebruik word deur party Suid-Afrikaanse produsente. Dit is belangerik om daarop te let dat S. feltiae 'n indringer spesie is wat tot op hede nognie geïsoleer is in Suid-Afrika nie. Die effek van hierdie EPN op Suid-Afrika se biodiversiteit is daarom onbekend en die invoer van hierdie spesie onwettig. Daar is ook gevind dat S. feltiae minder aangepas is tot die omgewingstoestande van hoë temperature in Suid-Afrika se bedekte gewas produksie.

Mej. Agil Katumanyane, wie onlangs haar MSc voltooi het, het gefokus daarop om die potensiaal te bepaal van die gebruik van plaaslike EPNs om swammuggies te beheer in bedekte gewasse in Suid-Afrika. Die projek was uitgevoer in die Departement van Bewaringsekologie en Entomologie onder toesig van die nematoloë, Prof. Antoinette P. Malan en Dr. Tiarin Ferreira. Befondsing was verskaf deur NemaBio (Pty) Ltd. en die Technology and Human Resources for Industry Programme (THRIP: TP14062571871).

Laboratorium biotoetse en veldproewe was uitgevoer op die larwes van swammuggies. Veldproewe was uitgevoer in 'n kommersiële komkommerplaas in die Paarl, in die Wes-Kaap provinsie.  Die plaaslike EPNs wat getoets was, het die swammuggies suksesvol beheer in beide die laboratorium en die veldproewe. 'n Ander studie deur 'n PhD student, Nicholas Kagimu, fokus op die formulering van die EPNs tot in 'n bemarkbare produk. Ons hoop dat wanneer hierdie plaaslike EPNs geformuleer is, hulle beskikbaar gestel sal word aan produsente teen 'n bekostigbare prys. Hierdie sal 'n meer volhoubare benadering vir die beheer van swammuggies lewer en help voorkom dat buitelandse nematodes moet ingevoer word, wie se effek op Suid-Afrika se biodiversiteit nog onbekend is.