Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bewaar jou spesiale verbintenis met ‘n Afrikaanse woord
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 07/11/2017

'n Paar mense leef hul spesiale verbintenis met sekere Afrikaanse woorde uit en koop of borg die woord. Een van die woordkopers is Koos Bekker, 'n media-entrepreneur en vorige hoof- uitvoerende beampte van Naspers. Bekker het die woord “skon" vir sy ma gekoop omdat hy 'n besonderse assosiasie met skons en sy ma het. Van die ander mense wat Afrikaanse woorde gekoop het, is 'n man wat die woord “heldin" vir sy vrou gekoop het na haar dapper stryd teen kanker. 'n Bejaarde man (88) van Bloemfontein het die woord “kafoefel" geborg. Sy spesiale verbintenis met die woord kom ná sy hartomleidingsoperasie toe die dokter hom gemaan het om dit rustig te vat en nie te veel te “kafoefel" (te vry) nie.

Dr Willem Botha, Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), sê dit is juis oor die spesiale verbintenisse met woorde dat die Borg 'n Woord-projek van die WAT sy ontstaan in 2010 te danke het.

“Die doelwit van Borg 'n Woord is om Afrikaanssprekendes opnuut bewus te maak van die waarde en betekenis van woorde in elkeen van ons se lewe. Elkeen van ons het 'n besondere verbintenis met een of meer woorde. Dit is hierdie woorde wat mense borg of koop. Dít is waaroor dit gaan: 'n besonderse ervaring vir alle deelnemers wat 'n spesiale woord in hulle lewe hul eie maak en daardeur verseker dat Afrikaans in sy volle omvang in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal vasgevang word. Die WAT moet 70% van sy inkomste self genereer omdat slegs 30% van die inkomste van die staat kom," het Botha gesê.

Die hoogtepunt van vanjaar se Borg 'n Woord is dat die nuwe beskermheer Simon Witbooi (HemelBesem) is. Witbooi se slagspreuk is: “Slegs met woorde maak die lewe sin: Jy kan my woord neem daarvoor. Neem eienaarskap van jou taal en borg 'n woord."

Vorige beskermhere was David Kramer in 2010, gevolg deur Charlene Truter-Lackay, Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer en Karen Zoid. Elke deelnemer kry 'n sertifikaat met sy of haar naam en woord, asook gratis toegang tot die Aanlyn WAT en die kans om R25 000 in Sanlam se prystrekking te wen. Jy kan een woord of meer borg teen R100 elk of jy kan 'n woord koop teen R5 000, wat verseker dat niemand anders daardie woord mag koop of borg nie.

Volgens Botha het die WAT reeds van sy ontstaan 'n sterk band met die Universiteit Stellenbosch (US). Die eerste hoofredakteur was prof JJ Smith wat ook tegelykertyd redakteur van Die Huisgenoot en professor in Afrikaans, Frans en Duits was. Die WAT is tans op die US-kampus gesetel, terwyl 'n lid van die US Rektoraat ex officio die voorsitter van die WAT-direksie is. Die WAT is egter 'n onafhanklike maatskappy sonder winsoogmerk.

HemelBesem voel nog sterk oor Afrikaans en sê: “Afrikaans groei nog. Dis 'n jong taal en ons moenie bang wees om ons arms oop te gooi en ander klanke in Afrikaans te verwelkom nie. Borg 'n Woord is juis daar om daardie groei te bewaar en te beskerm. As mense inkoop in hierdie konsep raak ons woordeskat(kis) net voller en die taal se lewe kry nuwe inspuiting. So pleks van fisiese geskenke hierdie Kersfees te koop, koop vir jou geliefdes 'n woord, of borg een of twee!"

Aweh is 'n woord wat ek baie gebruik. Ek geniet ook allerhande woorde waar die klem op hulle klank lê. Dis seker maar die kletsrymer in my," sê HemelBesem verder.

Interessante feite:

  • Tale sterf teen 'n tempo van ongeveer een elke 14 dae.
  • Daar word bereken dat die helfte van die wêreld se ongeveer 7 000 tale teen die einde van hierdie eeu uitgesterf sal wees.
  • Die Afrikaanse taal bestaan, soos Nederlands en Engels, uit ongeveer 1 miljoen woorde, maar dit is 'n benaderde syfer.
  • Daar is meningsverskille oor hoe groot elkeen van ons se woordeskat is, maar 20 000 woorde is min of meer die gemiddelde skatting vir 'n volwasse individu se aktiewe woordeskat.
  • Daar ontstaan steeds nuwe woorde in Afrikaans en nuwe woorde wat die WAT onlangs opgeneem het, is “app" (benewens “toep"), “beurtkrag", “e-tol", “hidrobreking", “hommeltuig", “hutsmerker" en “hekkie".
  • Wenners van die afgelope jare se nuutskeppingskompetisie was “vonkelwater" (sparkling water), “praatkaart" (vir GPS), “wynpyn" (hangover), “kieriekorting" (afslag vir pensioentrekkers), en “weggenoot" (eksman of -vrou).

Daar is reeds meer as tienduisend woorde geborg of gekoop in die Borg 'n Woord-projek. Meer as een persoon kan dieselfde woord borg, maar elkeen kry 'n sertifikaat met sy of haar naam en die woord of woorde wat hy of sy geborg het. Jy borg 'n woord vir R100 en koop 'n woord vir R5 000. As jy 'n woord gekoop het, mag niemand anders daardie woord borg of koop nie. Elke deelnemer kwalifiseer vir die prystrekking waarin R25 000 van Sanlam gewen kan word.

Om 'n woord te koop of te borg, besoek www.wat.co.za en kliek op Borg 'n Woord.

Dr Willem Botha staan saam met Simon Witbooi ( HemelBesem) wat die nuwe beskermheer van Borg 'n​ Woord is.