Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die US doen verslag oor vordering met geslagsgelykheid
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 02/11/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Woensdag (1 Nov 2017) 'n voorlegging aan die Kommissie vir Geslagsgelykheid (Commission for Gender Equality, of CGE) in Johannesburg gemaak oor vordering by die instelling ten opsigte van geslagsgelykheid.

Dit spruit uit 'n versoek deur die CGE, o​oreenkomstig sy grondwetlike mandaat as ʼn Hoofstuk 9-instelling om die beskerming, ontwikkeling en verkryging van geslagsgelykheid te bevorder. Die Kommissie is besig met ʼn reeks ondersoekende openbare verhore oor geslagtransformasie by tersiêre instellings.

"Ons werk graag met die Kommissie saam. Die US respekteer die Grondwet en die demokratiese toesighoudende rol wat uitgevoer word deur instellings soos die Kommissie," het Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, gesê. Hy het die instelling se afvaardiging gelei.

"As 'n openbare instelling en 'n nasionale bate is US verbind tot die noodsaaklikheid van geslagtransformasie in die soeke na geslagsgelykheid. Ons glo ons maak vordering, alhoewel ons toegee dat ons nog nie is waar ons wil wees."

Die US het in sy aanbieding daarop​ gewys dat 54% van sy studente en 56% van sy personeellede vroue is. Dr Ronel Retief, Registrateur, het uitgewys dat meer as 75% van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se studente vroue is, en meer as 50% van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe s'n. Wat betref kwalifikasies verwerf, is vrouestudente ook in die meerderheid. Dié syfer het verlede jaar 56% bereik op voorgraadse vlak, en 55% op nagraadse vlak. Voorts maak al 33 kodes van Maties Sport voorsiening vir vroue, insluitend rugby en sokker. En 56% van studente in Universiteitshuisvesting is vroue.

Wat die personeelkorps betref, is die algehele prentjie positief ten opsigte van geslagsgelykheid, maar die Universiteit het toegee dat vroue onderverteenwoordig is in die akademie en ook op senior vlakke van sowel akademiese as bestuursposte.

Die Kommissie het ook hierop kommentaar gelewer. "Ons sien almal die groot olifant in die vertrek – die feit dat die meeste topposte deur wit mans gevul word. Daar moet 'n tyd kom wanneer geteikende ingrypings gelykheid te weeg bring, anders is verbintenisse tot transformasie niksseggend," het mnr Wallace Mgoqi, ʼn Kommissaris, gesê.

Die US-afvaardiging het inligting verskaf oor verskeie stappe wat gedoen word om hierdie uitdaging aan te spreek. Dit sluit in die Rektor se Strategiese Personeelfonds en die Program vir ʼn Nuwe Generasie Akademici (New Generation of Academics Programme, of nGAP) van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Die afgelope twee jaar is 14 vroulike personeellede ingevolge hierdie inisiatiewe aangestel of bevorder. En in 2016 is die laaste gevalle van ongelykheid in die vergoedings van mans en vroue op gelyke posvlakke reggestel.

Dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur van Studentesake, het beklemtoon dat maatreëls in plek is om geslagsgeweld aan te spreek. Sy het 'n taakspan teen verkragtingskultuur gelei, wat vroeër vanjaar sy ondersoek afgehandel het. Al die taakspan se aanbevelings is deur die bestuur aanvaar. Dit sluit in monitering, opleiding van alle studente en personeel – insluitend die bestuur – asook ondersteuning aan groepe en individue wat stry vir geslagsgeregtigheid.

"Ons reis van transformasie is onvolledig, maar ons bly vasberade om die pad van geslagsgelykheid saam met ons belanghebbendes te stap," het prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, gesê.

Die Kommissie het sy waardering teenoor die Universiteit uitgespreek vir sy deelname aan die proses. "Ons gaan in die toekoms met julle saamwerk. Daar kan dalk dinge wees waarmee ons kan help, bv. vorige verslae waaruit lesse geleer kan word. Ons bou 'n verhouding met instellings, "het me Nomsisi Bata, ʼn kommissaris, gesê.​

FOTO: Lede van die US-afvaardiging by die Geslagskommissie-verhoor in Braamfontein, van links, dr Phumzile Mmope, Senior Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie; dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake; mnr Gerhard Lipp, Direkteur: Regsdienste; dr Ronel Retief, Registrateur; Mnr Sello Molapo, Bestuurder: Diensbillikheid en Bevordering van Diversiteit; mnr Victor Mothobi, Hoofdirekteur (aangewese): Menslike Hulpbronne; prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel; en prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier.