Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Pumla Gobodo-Madikizela ontvang eregraad van Duitse universiteit
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 31/10/2017

Professor Pumla Gobodo-Madikizela, bekleër van die navorsingsleerstoel in Studies oor Historiese Trauma en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US), is op Maandag (30 Oktober 2017) met 'n eregraad van die Friedlich Schiller Universiteit Jena in Duitsland vereer. Gobodo-Madikizela was een van twee vooraanstaande internasionaal-erkende akademici wat dié erkenning ontvang het.

Die toekenningsgeleentheid het deel gevorm van Duitsland se vieringe van die 500ste herdenking van die Protestantse Hervorming wat deur Martin Luther gelei is.

Gobodo-Madikizela het die graad Doktor in Teologie honoris causa ontvang vir haar uitstaande werk oor trauma in verskillende sosiale kontekste in Suid-Afrika ná Apartheid.

In 'n verklaring wat deur Friedlich Schiller Universiteit Jena uitgereik is, word Gobodo-Madikizela geloof vir haar uitstaande navorsing oor skuld, versoening, vergifnis, die dialoog tussen oortreders en slagoffers, asook die manier waarop trauma deur individue en in politieke stelsels ervaar word.  Sy werk al 'n aantal jare saam met die Jena Sentrum vir Studies oor Versoening aan die Friedlich Schiller Universiteit Jena.

Gobodo-Madikizela het haar as 'n internasionale kundige oor die genoemde onderwerpe gevestig en was ook lid van die Waarheids- en Versoeningskommissie se Komitee oor Menseregteskendings. Benewens verskeie internasionale en nasionale toekennings, het sy ook erkenning van die Nasionale Navorsingstiging ontvang as ʼn navorser wat internasionaal deur haar eweknieë gereken word.

ʼn Eredoktorsgraad is ook aan die vooraanstaande Duitse teoloog, sosiale etikus, en akademiese en openbare intellektueel, prof Wolfgang Huber toegeken. Hy het in 2014 'n eregraad van die US ontvang.

  • Foto: Profs Gobodo-Madikizela en Wolfgang Huber (tweede van links) saam met lede van die Friedlich Schiller Universiteit Jena by die toegekenningsgeleentheid.
  • Fotograaf: Jürgen Scheere