Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US wetenskaplikes deur Royal Society of SA vereer
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 24/10/2017

Die Royal Society of South Africa (bekend as die RSSAf) het Prof Bert Klumperman en Prof Guy Midgley ‒ twee wetenskaplikes aan die Universiteit Stellenbosch (US) ‒ met die hoogste toekenning wat 'n genoot van die RSSAf te beurt kan val, vereer. 

Prof Bert Klumperman, 'n wêreldleier op die gebied van polimeerchemie, het die 2018 John F.W. Herschel-medalje  gekry vir sy uitstaande bydraes in die veld van kinetiese en meganistiese ondersoekmetodes van polimerisasiereaksies, en die gebruik van polimeerwetenskap in nanogeneeskunde. Prof Klumperman is 'n uitgelese professor by die US waar hy ook die NNS/DWT Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in gevorderde makromolekulêre argitekture beklee.

Die RSSAf het Prof Klumperman geloof vir die aktiewe navorsingsrol wat hy speel in die nasionale en internasionale wetenskapsgemeenskap, asook vir sy multidissiplinêre benadering tot navorsing, 'n kernkriterium vir die toekenning van die Herschel-medalje.

Prof Midgley, 'n internasioneel erkende deskundige op die gebied van biodiversiteit en wêreldwye veranderingswetenskap, is die eerste ontvanger van die nuutingestelde Marloth-medalje. Hy is vereer vir sy uitstaande bydraes tot die meervlakkige veld van fundamentele ekologie, toegepaste ekologie en beleid.

Prof Midgley is ook geloof vir sy uitnemende vaardigheid ten einde verskeie konsepte oor dissiplines heen, asook tussen ruimtelike en wêreldvlakskale byeen te bring.  Hy het ook uitstekende werk verrig in sy kapasiteit as 'n direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Botaniese Instituut (SANBI); en vir die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering (bekend as IPCC). In 2007 was hy lid van die internasionele span wat die Nobel-vredestoekenning gedeel het vir die samestelling van die vierde verslag oor wêreldwye klimaatsverandering vir die IPCC.

Met die instelling van die Marloth-medalje, wil die RSSAf die kollig plaas op die baanbrekersbydraes van Prof Hermann Wilhelm Rudolf Marloth (1855-1931) en sy seun Dr Raimund Hilmar Marloth (1904-), en dit ook vier. Pa en seun was genote van die Royal Society of South Africa, in onderskeidelik 1908 en 1957, en het ruim erflatings aan die vereniging nagelaat. Die RSSAf wil deur middel van hierdie medalje onder andere erkenning gee aan diegene wat 'n daadwerklike bydrae gemaak het tot die bevordering van 'n vakdissipline, hetsy deur wetenskapskrywe, diens aan die wetenskap, die mentor van jong professionele wetenskaplikes of die bevordering van begrip van die wetenskap onder die algemene publiek.

Hierdie medaljes sal in September 2018 toegeken word by die RSSAf se jaarlikse dinee en toekenningsgeleentheid.

Op die foto bo, Profs Guy Midgley (links) en Bert Klumperman. Foto: Anton Jordaan