Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Blink toekoms wag op SciMathUS klas van 2017
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 24/10/2017

"Die grootste geskenk wat jy aan vandag se jeug kan gee, is om hulle toe te rus met kritiese denkvaardighede en die vermoë om logies te redeneer, omdat hierdie eienskappe nie net 'n uitstekende student maak nie, maar ook 'n aktiewe burger wat 'n positiewe bydrae tot die samelewing kan lewer. En SciMathUS het aan elkeen van ons daardie geskenk gegee."

Dit was die woorde van Hlakanipha Tshalanga by die onlangse jaareindfunksie van die Universiteit Stellenbosch (US) se SciMathUS-program. Tshalanga is een van 110 studente wat in 2017 hierdie program gevolg het.

Die suksesvolle SciMathUS-program (Science and Mathematics at the University of Stellenbosch) bied talentvolle en belowende matriekleerders uit opvoedkundig benadeelde omstandighede en wat nie matrikulasievrystelling verwerf het nie of wat nie voldoende presteer het om vir keuringsprogramme toegelaat te word nie, ʼn tweede kans om hul punte in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde te verbeter.

In dié program, aangebied deur die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP), leer studente ook ander vaardighede soos lewensvaardighede, studie- en denkvaardighede, rekenaargeletterdheid, akademiese taalvaardighede en denkvaardighede aan.

"Ek het besef hoe baie my persepsie van die wêreld en denkprosesse verander het en uiteindelik besef hoe belangrik dit is om vrae te vra. Hierdie hele reis was oor meer as net ons studies, dit was ook oor self-aktualisering en om die persone te word wie ons nog altyd wou wees. Persoonlik het ek so baie van myself ontdek - want hierdie program het my ver buite my gemaksone geneem," het Hlakanipha gesê.

"Ek sê dankie aan SciMathUS vir hierdie lewensveranderende ervaring. Die onderwyspersoneel het dit voortdurend duidelik gemaak dat hulle ook op 'n persoonlike vlak vir ons omgee asook vir ons doelwitte en vir ons welsyn."

Hlakanipha het sy dank uitgespreek teenoor die donateurs wie se bydraes verskeie studente 'n tweede kans op sukses bied. "Ons verstaan dat SciMathUS ondersteuning nodig het om staande te bly en ons bedank alle belanghebbendes wat verseker dat alles op koers bly."

Dr Jerome Joorst, die koshuishoof van die program, het die Klas van 2017 aangemoedig en gesê dat uitdagings met die regte benadering oorkom kan word. "In 'n krieketwedstryd bereik 'n kolwer nie 300 met slegs een kolfhou nie. Hy bou stadig maar seker 'n stewige fondasie totdat hy daardie telling bereik."

"Ons stuur julle vandag die toekoms in met die wete dat daar baie heuwels en valleie in die lewe is om te oorkom, maar jy sal hulle oorkom: een vir een, net soos die kolwer. Hou aan met julle harde werk, behou die dissipline en maak ons trots," het hy bygevoeg.

Volgens dr Trevor van Louw, die direkteur van SUNSEP, huur SciMathUS 'n koshuis by die Boland Kollege in die dorp om die studente op kampus te akkommodeer. "Tesame met dr Joorst, het 'n paar mentors by die studente gebly om hulle gedurende die jaar met verskillende probleme te help. Dit was 'n groot besluit om te maak, maar dit was 'n goeie een," het hy gesê. "In die verlede moes baie studente daagliks na die kampus reis, en dit beperk ons inname van studente vanuit die res van die land - nou is dit nie meer 'n kwessie nie."

Verskeie befondsers sowel as ander ondersteuners van die program het die middagete met die studente bygewoon. Me Nokwanda Siyengo, programbestuurder, het hul bydraes erken en gesê: "Dit gaan nie net oor die geld nie, maar die menslikheid daaragter. Dit gee ons die geleentheid om hierdie program goed te bestuur.

"Ons sou nie vandag hier gewees het om hierdie studente se sukses te vier as dit nie vir julle was nie. Julle het mense gedien wat andersins nie die geleentheid sou kry om die SciMathUS-program te ervaar nie. Ek staan hier in nederigheid en ontvang met dank die pogings wat julle gemaak het."

Aansoeke om die program in 2018 te volg open binnekort. Vir meer inligting:

 Foto: Hlakanipha Tshalanga​ lewer sy boodskap aan mede-SciMathUS studente. (Fotograaf: Morgan Jacobs)