Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA by ʼn keerpunt
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 23/10/2017

“Suid-Afrika is beslis by ʼn keerpunt en as dinge so aangaan, gaan ons oor 'n sosio-ekonomiese afgrond stort."

Só het Temba Nolutshungu, direkteur van die Free Market Foundation en raadslid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, op Vrydag (20 Oktober 2017) gesê. Hy was een van die sprekers by die jaarlikse konferensie van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch. Die konferensie is vanaf 19-20 Oktober by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing gehou.

Die tema van vanjaar se konferensie was “Create the Future".

In sy besinning oor wat tans in Suid-Afrika aan die gang is, het Nolutshungu gesê ons beleef 'n krisis.

Hy het gewys op die stadige ekonomiese groei en die toename in werkloosheid.

“Sommige ekonome sê die werkloosheidsyfer is bo 40%. Dit beteken 9.3 miljoen gesonde mense, mede-Suid-Afrikaners is werkloosIFR group.jpg."

“Ek kan aan niks meer potensieel polities katastrofaal as dit dink nie."

Nolutshungu het ook op die benarde situasie in die openbare sektor gewys. In die verband het hy die dood van die Life Esidimeni-pasiënte beklemtoon en ook verwys na die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die Nasionale Gesondheidsversekering wat ernstige finansiële implikasies het, nie net vir belastingbetalers nie, maar ook vir die private sektor.

“Die Nasionale Gesondheidsversekering sal sy tentakels na die private sektor versprei en privaat gesondheidsorgverskaffers in die land ondermyn."

Nolutshungu het die regering se beleide vir die huidige stand van sake geblameer.

“Regeringsbeleid is die probleem. Regulasies word op die finansiële dienste-sektor afgedwing. Hierdie regulasies is geweldig beperkend."

Nolutshungu het gesê die regering moet toesien dat die beleidsomgewing die ondernemingsgees in die land bevorder.

“Ons moet die rigiede arbeidsmark oopstel sodat mense makliker in diens geneem kan word."

Nolutshungu het gesê ons benodig hoë vlakke van ekonomiese groei om ons probleme aan te spreek.

Hy het bygevoeg dat hoër ekonomiese groei sal help om inkomste te verhoog.

  • ​Hooffoto: Temba Nolutshungu praat by die Instituut vir Toekomsnavorsing se konferensie.
  • Foto 1: Dr Morne Mostert (links), direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing, saam met van die ander sprekers by die konferensie.
  • Fotograaf: Andre Mouton