Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Harde werk en toewyding beloon by Maties Sport-toekenningsaand
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 20/10/2017

​Die fietsryer Frankie du Toit, 'n BA Sportwetenskap-student in haar eerste jaar, en die hokkiespeler Keenan Horne, 'n meesterstudent in die Fakulteit Regsgeleerdheid, is as Maties Sport se Sportvrou en Sportman van die Jaar vir 2017 aangewys by Maties Sport se jaarlikse toekenningsaand op Donderdag 19 Oktober.

Weens sportverpligtinge kon nie een van hulle by die geleentheid wees om hul toekenning te ontvang nie. Du Toit, die SA o.23-bergfietskampioen, neem tans deel aan die Cape Pioneer Trek, 'n weeklange bergfietswedren van Mosselbaai na Oudtshoorn, terwyl Horne saam met die Suid-Afrikaanse manshokkiespan in Egipte is vir die Afrikanasiesbekertoernooi.

Dyan Buis, wat twee goue medaljes by die 2017 Wêreld Para-atletiekkampioenskap in Londen gewen het, is aangewys as die Sportman van die jaar vir Parasport, en Anruné Liebenberg, wat twee silwer medaljes by dieselfde kompetitise gewen is, is die Sportvrou van die Jaar vir Parasport. Hul afrigter, dr Suzanne Ferreira, is weer eens as die afrigter van die jaar vir individuele sport aangewys.

Die Steinhoff Maties Rugbyspan – wenner van die 2017 USSA-kompetisie, WP Grootuitdaagliga en WP Presidentsbeker en naaswenner van die 2017 Varsitybeker-kompetisie – is die span van die jaar en sy afrigter, Hawies Fourie, is die spanafrigter van die jaar.

Maties Fietsry is aangewys as die Klub van die Jaar. Hulle is die USSA-kampioene en die vroue het ook die Varsity Sport-bergfietskompetisie gewen. Die klub het sy lidmaatskap verdubbel oor die afgelope twee jaar en reël gereelde klubritte om die gemeenskap aan te moedig om betrokke te raak en veiligheid in getalle te verseker.

Sportbestuurder vir fietsry, Candice Appollis-Williams, is in die wolke.

“Ek moet erkenning gee aan klubvoorsitter Nicola Giliomee, die komitee en die Maties Sport Hoëprestasie-eenheid vir al hul ondersteuning. Dit is werklik 'n spanpoging."

Giliomee het vir die tweede jaar agtereenvolgens die toekenning as Studente-administrateur van die jaar ontvang.

Altesame 42 studente het volkleure ontvang, wat beteken dat hulle Suid-Afrika op internasionale vlak verteenwoordig het, en 61 studente het halfkleure ontvang. Dit is studente wat in provinsiale spanne opgeneem is.