Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US alumnus leer studente noodsaaklike sagte vaardighede by Loopbaankafee
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 20/10/2017
US alumnus Dalton Odendaal het met voorgraadse student gesels by die Loopbaankafee van die Alumni-betrekkinge Kantoor oor hoe sy passie vir sport en die regte hom toegelaat het om 'n lonende regsloopbaan in sportbemarking te volg.
 

Hy mag homself die “langsdienende regsklerk in menseheugenis" noem, maar Dalton Odendaal, ʼn LLB-gegradueerde van Universiteit Stellenbosch, entrepreneur en konsultant vir die VK-gebaseerde sport, media en vermaak-regsfirma Harbottle & Lewis, weet dat die jare wat hy spandeer het om verdere studiegeleenthede na te jaag, hom met noodsaaklike vaardigheide vir sy loopbaan toegerus het.

Dalton, wat ook ʼn entrepreneur en die eienaar van Dalton Sports Limited is, was die genooide spreker by die Alumni-betrekkinge Kantoor se tweede Loopbaankafee op 9 Oktober. Die geleentheid is aangebied by die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe en is deur meer as 330 studente bygewoon.

“Ek was gelukkig in ʼn sekere sin, want ek het altyd geweet ek sou regte doen," het Odendaal aan die studente vertel. “Terselfdertyd het ek aanvaar ek sou ʼn advokaat word. Die eerste saak waarby ek betrokke was, het gehandel oor ʼn bou-dispuut. Ons kliënt was ʼn bouer wat gedagvaar is vir swak bouwerk. Om eerlik te wees, as hy daardie soort werk by my huis gedoen het, sou ek hom ook gedagvaar het. Ons kliënt het egter sy saak gewen, nie omdat hy nie gefouteer het nie, maar omdat ons ons saak meer deeglik voorberei het as ons opponente. Ek het besef dat 'waarheid' en 'wat reg is' nie noodsaaklik deurslaggewend is by regsprosedures nie. Daardie ondervinding het my laat besef dat ek nie hofwerk wou doen nie, en dat ek beslis nie prosedurele kwessies wou argumenteer nie."

Terwyl hy glo dat dit noodsaaklik is om hard te werk, het Dalton vir die studente gesê dat punte alleen nie ʼn goeie aanduider is van hoe ʼn gegradueerde eendag in sy werk sal vaar nie. “Al die mense langs wie julle vandag sit, gaan verskillende dinge doen en sommige van hulle sal groot dinge doen in hul beroepe. Punte, hoewel belangrik, bepaal nie of jy jou passie sal nastreef en of jy suksesvol sal wees of nie."

Om jou tyd te neem, is ook nie ʼn slegte ding nie, meen hy. “Kort nadat ek begin werk het as regsklerk by ʼn Kaapse regsfirma in 1992 het ek die geleentheid gekry om meestersgraad-studies in die regte (LLM) by Cambridge Universiteit aan te pak, en het die voltooiing van my klerkskap uitgestel."

In 1994, nadat hy ʼn Rhodes-beurs ontvang het, het hy geregistreer vir ʼn verdere graad, naamlik ʼn BCL-graad (Bachelor of Civil Law) by Oxford Universiteit.

“Dit het vyf jaar geduur om my klerkskap te voltooi, maar in die proses het ek alle geleenthede aangegryp wat oor my pad gekom het en wat interessant gelyk het, al het ek nie geweet waarheen hulle sou lei nie. Soms moet jy ʼn berekende kans vat om sukses te behaal."

Terwyl hy aan Cambridge en Oxford studeer het, het Dalton die belang van netwerke en kletspraatjies by sosiale geleenthede geleer, iets waarvoor hy nie natuurlik aangelê is nie, sê hy.

Dit is deur kontakte dat hy ook gehoor het van ʼn werk by ʼn Londense regsfirma en die pos verkry het in die firma se korporatiewe belastingkantoor. Hoewel hy geweet het dat hy nie vir altyd ʼn belastingprokureur wou wees nie, het hy besef dat dit goeie opleiding sou wees en hom goed te pas sou kom in die volgende fase van sy loopbaan.

Later, om sy kanse om in sport-reg te werk te verbeter, het hy deeltyds aandklasse gedoen by King's College Londen en ʼn nagraadse spesialis-sertifikaat in Sport-reg behaal. In 2000 het hy aangesluit by Harbottle & Lewis as Senior Assosiaat waar hy begin fokus het op die kommersiële kant van sport-reg, soos die onderhandeling en saamstel van borgskappe, lisensiëring, uitsaai- en ander kommersiële ooreenkomste. Sewe jaar later het hy die unieke geleentheid gekry om te werk by die Londense Olimpiese en Paralimpiese Spele waar hy die hoof van kommersiële reg was, wat getuig van sy spesialiskennis op dié gebied.  

“In 2012 het ek my eie onderneming geloods waar ons sportmense, spanne en geleenthede adviseer oor die benutting van hul kommersiële regte. Dit is groot pret en ek geniet dit. Dit het my toegelaat om steeds een dag per week by Harbottle & Lewis te werk as konsultant met ʼn mengsel van regs- en kommersiële werk. Ek geniet die verskeidenheid werk terdeë."

Hy het die studente aangemoedig om hul eie weergawe van sukses te vind, pleks daarvan dat ander dit bepaal. “Mense beskou loopbane en sukses deesdae baie verskillend. Jy moet iets doen waarin jy belang stel, maar jy moet bereid wees om dit hart en siel te doen. Alle entrepreneurs moet een of ander tyd induik en iets anders doen. Ek was gelukkig, maar moes ook hard daaraan werk. Gary Player het altyd gesê “hoe meer ek oefen, hoe meer geluk het ek" en ek stem saam daarmee. Sukses is 99% sweet en 1% inspirasie."

“Moenie bang wees om iets anders te doen nie. Sommige van die suksesvolste mense in die wêreld het die een of ander tyd misluk. Vra vrae en verseker dat jy leer van ander wat iets gedoen het wat jy graag wil doen. As jy so hul foute kan vermy, waarom nie?"

Dalton was ook baie opgewonde om terug te wees by sy alma mater. “Ek was nie terug in ʼn lesingsaal vir meer as 25 jaar nie en hoewel baie dinge verander het, was daar steeds ʼn gerusstellende bekendheid aan die geboue en studente. Dit was ʼn voorreg en ʼn absolute plesier om terug te wees by Universiteit Stellenbosch om my verhaal te deel met ʼn nuwe generasie studente. Ek was baie beïndruk deur hul gewilligheid om vrae en raad te vra en te leer uit wat ander gedoen het. Ek is nie seker dat ons so vol selfvertroue en so uitgesproke was toe ons studente was nie – dit was bemoedigend om dit te sien!"

Hieronder volg Dalton se Top 5 Wenke wat hy met die studente gedeel het tydens sy praatjie: 


WENK 1

​Moenie bang wees om vrae te vra as jy iets nie verstaan nie

As jy iets nie verstaan nie, vra vrae. Geen vraag is ʼn dom vraag nie, so moenie dat jou trots, of jou vrees om oningelig te lyk, verhoed dat jy vrae vra nie. Die kennis wat jy verkry is meer werd as jou trots of jou vrees. 

​WENK 2

Wees trots op jouself en waar jy vandaan kom

Suid-Afrikaners is deur die wêreld tereg bekend as hardwerkend, positief en goeie span-spelers. Wees trots Suid-Afrikaans!

WENK 3

Wees oop vir nuwe geleenthede

Jy weet nooit waar nuwe geleenthede jou mag lei nie. Dit moet ook nie verhoed dat jy hulle aangryp om te sien waarheen hulle lei nie. Geen geleentheid, voordelig of nie, is ooit vermors nie.

​WENK 4

Probeer iets doen wat jy geniet en waarin jy belang stel

Dit sal die kans op sukses verhoog. Onthou, jy bring die grootste deel van die tyd wat jy wakker is by jou werk deur, so probeer iets doen wat jy geniet en waarvan jy hou!

WENK 5

​Moenie bang wees vir harde werk nie

Jy mag dit al ʼn duisend maal gehoor het, maar dit is waar – harde werk maak nie dood nie. So onthou om altyd hard te werk. Dit sal nie net tot jou voordeel wees nie, maar sal ook geleenthede vir jou skep.​

  • Foto: By die Loopbaankafee was dr Pierre Viviers (Kampusgesondheidsdiens)​, Karen Bruns (Senior Direkteur: Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge), US-student Nondumiso Dlamini, US-alumnus Dalton Odendaal en US-student Shaznay Bernardo. (Fotograaf: Hennie Rudman) ​