Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente uitgedaag deur kort kursus oor Leierskap in Onderwys
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 14/10/2017

​Informatief, inspirerend, relevant, uitdagend, bemagtigend en stof tot nadenke. Dít was 'n paar van die woorde wat deur kursusdeelnemers gebruik is om vanjaar se kort kursus in Leierskap in Onderwys te beskryf. 

Die kursus is aangebied deur die Fakulteit Opvoedkunde in samewerking met die Frederik Van Zyl Slabbert (FVZS) Instituut vir Studenteleierskapontwikkeling by die Universiteit Stellenbosch (US).

Meer as een deelnemer het gesê hulle het baie geleer en voorgestel dat sekere onderwerpe by die Fakulteit se hoofstroomaanbieding ingesluit word.

Die inhoud het denke stimuleer en het hulle uitgedaag om anders te dink oor onderwys en hul rol as opvoeders, het hulle bygevoeg.

Die kort kursus oor Leierskap in Onderwys is een van drie fakulteit-spesifieke kort kursusse wat deur die FVZS Instituut gefasiliteer word.

Die doel van hierdie kokurrikulêre kursus is om deelnemers te help om insig te kry in die leierskap- en transformasierol wat voornemende en indiens-opvoeders kan speel om verskeie aspekte van die Suid-Afrikaanse onderwys te verbeter.

Temas het ingesluit: Onderwysers as agente van sosiale verandering; Suid-Afrikaanse onderwys deur 'n konstitusionele lens; Sosiale impak en die ekonomie van onderwys; Taal in onderwys en Dekolonisering van die Suid-Afrikaanse kurrikulum.

Deelnemers het 'n kursusportefeulje ingehandig wat die integrasie van die kursusverwante temas in hul praktiese lesvoorbereiding, -aanbieding en -waarneming in hul skoolspesifieke konteks en die Suid-Afrikaanse stelsel in sy geheel, ten toon gestel het.

Kursuskoördineerder MK Nompumza, wat instrumenteel in die ontwerp en implementering van hierdie kort kursus in 2016 was, was baie in sy skik met die uitkoms van die kursus.

“Ek glo die deelnemers het aansienlik gebaat deur hul deelname aan hierdie kursus. As ek die doel van hierdie kursus in een sin moes opsom, sou dit wees om voornemende studente bewus te maak dat hulle binne-in die breër konteks bestaan."

Die studente het in die sessies onder meer dinge bespreek soos die rol wat opvoeders kan speel om sosiale verandering te weeg te bring, asook die opvatting dat onderwys 'n deurslaggewende rol speel om mense uit armoede op te hef, die bemagtiging van vroue en die jeug, en die bevordering van menseregte en demokrasie.

Hulle het Suid-Afrika se kwintielstelsel verken asook opvattings ten opsigte van private vs. publieke onderrig in die Suid-Afrikaanse konteks.