Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Beraad bied afrigters die geleentheid om te leer en netwerke te skep
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 27/09/2017

Afrigters se posisie as invloedryke rolspelers in die lewe van sportlui is deur verskeie sprekers beklemtoon by 'n Sportafrigtingsberaad wat op 22-23 September by die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Sportwetenskap aangebied is.

Ongeveer 170 afrigters – van laerskool- tot provinsiale vlak – het die twee dae lange konferensie bygewoon. Dit is deur die departement se dr Wilbur Kraak en sy derdejaarstudente wat spesialiseer in afrigting gereël.

Sprekers het onder andere ingesluit: Prof Wayne Derman, Direkteur en Voorsitter van die Instituut vir Sport- en Oefengeneeskunde aan die US, mnr Peter de Villiers, voormalige Springbok-afrigter, mnr Sean Surmon, hoof van Maties Sport se Hoëprestasie-eenheid, dr Suzanne Ferreira, dosent in die Departement Sportwetenskap en wêreldbekende Paralimpiese afrigter, en Kyle Brown, Blitsbok-speler en voormalige kaptein.

Sprekers het onderwerpe gedek soos: herstel in sport, die skep van 'n prestasie-omgewing, talentidentifisering en -ontwikkeling, en krag- en kondisioneringsneigings.

Dr Heinrich Grobbelaar, voorsitter van die Departement Sportwetenskap, het die afrigters verwelkom met die bekende aanhaling deur oudpresident Nelson Mandela: Sport has the power to change the world. It has the power to inspire. It has the power to unite people in a way little else does. It speaks to the youth in a language they understand. Sport can create hope where once there was only despair.

“Ek glo afrigters is die belangrikste rolspelers om hierdie ideologie 'n werklikheid te maak," het hy gesê. Hy het die gehoor ook verseker dat die departement graag hul kennisvennoot wil wees.

“Nuwe kennis word deur ons navorsing geskep; hierdie kennis word in ons klaskamers oorgedra en beïnvloed die samelewing wanneer ons studente en personeellede met die sportgemeenskap interaksie het.

“Hierdie beraad skep 'n platform waar julle die kennis en praktiese ervaring wat julle oor baie jare opgebou het, kan deel, en waar die vrae waarmee julle op 'n daaglikse basis te doen kry, moontlik ons toekomstige navorsingsagenda kan beïnvloed."

Grobbelaar het die afrigters aangemoedig om nie net iets nuut te leer nie, maar om ook vriendskappe te bou en netwerke te vestig.

In 'n poging om te illustreer hoeveel ervaring daar in die lesingsaal teenwoordig was, het me Debbie Skinstad, 'n PhD-kandidaat en dosent in die Departement Sportwetenskap, die gehoor gevra om die jare ervaring in elke ry op te tel. Van die antwoorde was 103, 110, 144 en selfs 154 jaar se ervaring in een ry.

Dit is noodsaaklik om hierdie kennis te deel, het verskeie sprekers gesê.

In 'n paneelgesprek oor vaardigheidsontwikkeling, het Ferreira, De Villiers en Zanele Mdodana, afrigter van Maties se netbalspan, beklemtoon hoe belangrik dit is om mentors te hê en jouself te omring met kenners in hul veld om jou by te staan.

“Ek baat by die kennis van kundiges rondom my en by gesprekke met ander afrigters. Ek lees ook baie en ek gebruik die atlete wat ek afrig as bronne van kennis," het Ferreira gesê.

Verskeie Maties-afrigters en -bestuurders het die beraad bygewoon.

Surmon, hoof van die HP-eenheid, het vertel wat die program alles behels.

“Beplanning is die belangrikste element as jy prestasie wil verbeter," het hy verduidelik. Dit is veral belangrik in omgewings waar afrigters net beperkte tyd met hul atlete het.

Hy het ook die belangrikheid van nabetragting en kommunikasie beklemtoon.

Volgens Dr Kraak was die terugvoering wat hulle oor die beraad ontvang het, baie positief. Daar was ook versoeke vir meer sulke geleenthede en selfs werkswinkels en kort kursusse van 'n soortgelyke aard.

“Daar blyk 'n gaping in ons land te wees wat betref opleidingstelsels vir afrigters," het hy gesê.

“Dit was wonderlik om te sien hoe afrigters van verskillende sportkodes netwerke kon skep en bymekaar kon leer. Die beraad het ook praktiese wenke gegee wat afrigters nou in hul eie omgewings kan toepas."