Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jy kan jou passie nastreef EN steeds jou rekeninge betaal
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 22/09/2017

As jy dink jy sal jou werk moet laat vaar wat jou rekeninge betaal om jou passie na te streef, dink weer. Ontmoet Universiteit Stellenbosch alumnus Dalton Odendaal wat 'n BCom LLB aan Maties behaal het en nou sy eie onderneming besit wat spesialiseer in sportbemarking. Hy is ook ʼn konsultant by die Britse firma Harbottle & Lewis, wat spesialiseer in sport-, media- en vermaakreg.

Dalton is die gasspreker by die Alumni-betrekkinge Kantoor se tweede Loopbaankafee op 9 Oktober om 13:00. Dié geleentheid vind plaas in Kamer 230 op die tweede verdieping van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se gebou op die hoek van Merriman- en Ryneveldstraat.

“Deesdae het mense nie lewenslank dieselfde werk nie en is daar meer geleenthede om iets te doen waarin jy belang stel en wat jy geniet. Om ʼn vennoot te word in ʼn regs- of rekenmeestersfirma is nie die enigste manier om sukses te behaal nie. Om ʼn entrepreneur te wees, word ook tereg beskou as ʼn teken van prestasie en sukses," sê Dalton, wat in die Verenigde Koninkryk woon, maar steeds trots sy Suid-Afrikaanse burgerskap behou.

“My eie loopbaan het op die konvensionele manier begin: Ek het ʼn BCom LLB by Maties behaal en toe met my klerkskap begin by ʼn regsfirma in Kaapstad. Ek het die geleentheid gekry om ʼn meestersgraad in die regte (LLM) aan Cambridge Universiteit te doen, en my klerkskap daarvoor onderbreek. Ek het dit toe vir die tweede keer onderbreek toe ek ʼn verdere geleentheid kry om ʼn BCL (Baccalaureus in Siviele Reg) aan Oxford Universiteit te voltooi. Myne moet die langste klerkskap in die geskiedenis wees – dit het my 5 jaar geneem om dit te voltooi!

“Terwyl ek by Oxford was, het al my tydgenote onderhoude gedoen by regsfirmas in Londen. Ek is ʼn geesdriftige tennisspeler en dit is deur hierdie netwerk dat ek uiteindelik by my eerste onderhoud by ʼn Londense regsfirma beland het en ʼn pos in hul korporatiewe belastingspan gekry het."

Hoewel Dalton erken dat hy in daardie stadium geweet het dat hy nie vir altyd in korporatiewe en belastingreg wou bly nie, het die opleiding aan hom ʼn goeie basis verskaf. Om sy kanse te verbeter om in sport te werk, het hy ingeskryf vir deeltydse aandklasse by King's College Londen en ʼn nagraadse spesialis-sertifikaat in Sportreg behaal.

In 2000 het hy by Harbottle & Lewis aangesluit as Senior Assosiaat, waar hy begin fokus het op die kommersiële kant van Sportreg. Dit sluit in die onderhandeling en saamstel van borgskappe, lisensiëring, uitsaairegte en ander kommersiële ooreenkomste. Sewe jaar later het hy die geleentheid gehad om te werk met die Londen Olimpiese en Paralimpiese Spele, waar hy die hoof was van kommersiële regswerk, wat getuig van sy spesialiskennis in die veld van kommersiële sport.

Sy betrokkenheid by die Olimpiese en Paralimpiese Spele en sy passie vir alles wat sportverwant is, het gelei tot sy volgende loopgeleentheid as die Algemene Regsadviseur vir die eerste Invictus Spele wat in 2014 in Londen gehou is.

“Die Invictus Spele is ʼn internasionale multi-sportgeleentheid vir gewonde, beseerde en siek militêre personeel wat geloods is deur Prins Harry en sedertdien in Orlando in die VSA en Toronto in Kanada gehou is," verduidelik Dalton.

Sy betrokkenheid by die Invictus Spele het aan hom die geleenthede besorg om ook vir ander lede van die Britse Koningsgesin te werk deur, byvoorbeeld, vir hulle te help om borgskappe vir hul verskillende liefdadigheidsaktiwiteite te verkry. Ander sportgeleenthede waaraan hy werk sluit in die Rugby Wêreldbeker, die Krieket Wêreldbeker, Wimbledon, die Wêreld Atletiekkampioenskappe en die Europese Gholftoer.

“Ek kom nie uit ʼn professionele agtergrond nie, aangesien nie een van my ouers universiteit toe was nie. My pa het ʼn landbougraad behaal by die Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut in die Groot Karoo, en my ma was ʼn persoonlike assistent. Hulle het uiteindelik hul eie onderneming besit wat proteas uitvoer. Hulle besef die belang van opvoeding en harde werk. Hulle het vir my en my suster aangemoedig om ons bes te doen op skool en ʼn goeie universiteitsgraad te verkry.

“Ek het geweet ek wou ʼn prokureur word – dit was hoofsaaklik ʼn uitdunproses want ek het geweet ek wou niks doen wat met wetenskap of wiskunde te maak het nie, en ek is glad nie ʼn kreatiewe persoon nie. Ek het gedink ek wil ʼn advokaat word, maar dit kan die invloed van al die televisieprogramme wees. Dit was eers toe ek by ʼn regsfirma begin werk het, dat ek besef het waarvan ek hou en nie hou nie. Ek het ook besef dat ek vir ʼn lang tyd sou moes werk en dat ek iets sou moes doen waarin ek belang stel en waarvoor ek het passie het.

“Deur hard te werk in watter pos ek ook al beklee het en ʼn oog oop te hou vir alle geleenthede, het ek uiteindelik beland in iets wat ek geniet en waarin ek goed is. Ek besef dat ek gelukkig was en dat nie alle studente die familie-ondersteuning en geleenthede gehad het wat ek gekry het nie, maar ek glo regtig dat deur hard te werk in ʼn rigting waarin jy ʼn belangstelling het, jy die kans op ʼn suksesvolle loopbaan verhoog."

Volgens Shaun Stuart, die Bestuurder: Alumni-betrekkinge, is die Loopbaankafee-reeks ontwikkel deur die Alumni-betrekking Kantoor om ʼn platform te verskaf waar alumni met die universiteit op ʼn alternatiewe wyse kan skakel deur hul tyd en vaardighede te bied om huidige studente te help voorberei vir die beroep wat hulle wil hê.

Stuart sê dat terwyl US se graadprogramme wêreldbekend is en graduandi toerus met die relevante vaardighede en kennis om hul take uit te voer wanneer hulle die arbeidsmark betree, het studies getoon dat graduandi regoor die wêreld misluk in die opbou van hul loopbane of nie styg op die loopbaanleer nie, weens ʼn tekort aan sagte vaardighede.

“Daarom is daar ʼn werklike behoefte om op die lange duur studente se sagte vaardighede te verbeter, maar terselfdertyd kan ons ook beter skakel met vorige graduandi wat ondervinding van die arbeidsmark het en van wat ons huidige studente sal benodig wanneer hulle die mark betree, asook ook later in hul loopbane.

“Dit is ook deel van ʼn groter veldtog van die universiteit om kontak te maak met ons alumni op ʼn verskeidenheid betekenisvolle wyses, om meer intieme verhoudings te bou tussen alumni en hul fakulteite, om te begin skakel met ons toekomstige alumni en hulle te inspireer om te dink oor hul lewens na universiteit en nou al te begin bou aan die loopbaan wat hulle verlang," het Stuart by die eerste Kafee in Oktober 2016 gesê.

Uitnodigings is reeds gestuur aan studente, en diegene wat voor die afsnydatum op 5 Oktober reageer sal ʼn gratis middagete kry wat hulle tydens die praatjie kan geniet. Studente word ook aangemoedig om die Universiteit en Alumni Facebook-blaaie te “like" om meer inligting oor die praatjies te ontvang in die voorafgaande weke. Daar is ook ʼn Facebook-kompetisie vir ʼn gratis ete met Dalton en lede van die Alumni-betrekking Kantoor die aand na die praatjie.

Ná die geleentheid sal ʼn opname onder studente gedoen word om te bepaal hoe die Kafees vorentoe verbeter kan word, en ʼn gelukkige student staan ook die kans om daardeur ʼn koopbewys vir twee van Hudsons op Stellenbosch te wen.

Onthou om die hashtag #SUCareersCafe of #USLoopbaanKafee te gebruik om tred te hou met die geleentheid voor en op die dag op Facebook en Twitter.

Foto: Dalton Odendaal, US-alumnus, entrepreneur en regskonsultant by die Britse media- en vermaakregfirma Harbottle & Lewis, is die genooide spreker by die tweede Loopbaankafee aan Universiteit Stellenbosch op 9 Oktober.