Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD navorsing bevorder deur DvG-studiebeurs
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 20/09/2017

​Die nasionale Departement van Gesondheid het onlangs drie beurse van die nasionale program vir gesondheidstudente (NHSP) toegeken aan studente van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

Die beurse, wat toegeken word aan studente in die mediese wetenskap wat tans ingeskryf is vir doktorsgrade wat navorsing op die gebied van biostatistiek of epidemiologie behels, finansier die beurshouers vir die volle tydperk van hul graad, in Suid-Afrika of oorsee.

Die ontvangers is as volg: 

Dr Muhammad Osman is ʼn PhD-student aan die Desmond Tutu TB-sentrum van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid. Sy navorsing ondersoek hoe TB/MIV-intervensies oor die afgelope dekade in Suid-Afrika huidige TB-uitkomste beïnvloed het.

Sy tesis, met die titel “TB-geassosieerde mortaliteit in Suid-Afrika: longitudinale neigings en die impak van gesondheidstelsels", het ten doel om Suid-Afrikaanse skattings van TB-mortaliteit voor, gedurende en ná TB-behandeling te verbeter.

Volgens Osman wil hy hierdie inligting uiteindelik gebruik om voorspellings te maak wat die Departement van Gesondheid kan gebruik om doeltreffende strategieë vir die toekoms te identifiseer.

“My tesis sal ons help om die mortaliteitslas wat met TB geassosieer word, beter te verstaan. Deur skattings van mortaliteit te verbeter, sal ons ook die effek van intervensies deur ons gesondheidsorgstelsel beter as voorheen kan evalueer," verduidelik hy.

Karlien Barnard is ʼn PhD-student in die Afdeling Mediese Virologie aan die USen haar navorsing maak deel uit van die US se Navorsingsgroep oor Ontluikende Virusse wat potensieel soönotiese virusse ondersoek, oftewel virusse wat van diere soos vlermuise, insektivore en knaagdiere na mense kan versprei.

“My studie fokus op astrovirusse in Suid-Afrikaanse vlermuise," vertel sy.

Astrovirusse word via die fekale-orale roete versprei en veroorsaak akute gastroënteritis, asook ander, ernstiger siektes.

Volgens Barnard is vlermuise ʼn bron van etlike potensieel soönotiese siektes, maar is daar ʼn skaarste aan literatuur oor die diversiteit en soönotiese potensiaal van astrovirus-stamme in wilde diere wat as gashere dien, veral Suid-Afrikaanse vlermuise.

Barnard hoop haar studies sal lig werp op die faktore wat bydra tot die verspreiding en instandhouding van ander skaars virusse waarvan vlermuise ook die gasheer is, maar wat moeiliker is om te bestudeer – soos die Ebola-virus.

“Om die rol van vlermuise in ontluikende aansteeklike siektes te verstaan, is vir my ʼn passie. Hierdie dierasies is manjifieke studievoorwerpe weens hul unieke aanpassings om die gasheer vir verskeie virusse te wees sonder om self siek te word," verduidelik sy.

Dr Lisa Frigati is ʼn pediater wat in aansteeklike siektes subspesialiseer. Sy is ʼn konsultant by die US se Departement Pediatrie en Kindergesondheid, en gaan haar PhD aan die Universiteit van Kaapstad doen. Prof Mark Cotton, die Direkteur van die FGGW se Kliniese Navorsingseenheid oor Aansteeklike Kindersiektes, gaan haar mede-toesighouer wees.

Haar studie, met die titel “Gesondheid van MIV-besmette adolessente: spektrum en vordering van siekte met verloop van tyd in adolessente op antiretrovirale terapie (ART)", het ten doel om die diverse gesondheidskwessies van hierdie spesifieke populasie te beskryf.

“Suid-Afrika is die tuiste van 20% van die 1,8 miljoen adolessente wat met MIV leef en ons moet maniere vind om te verseker hulle word voldoende versorg, veral as hulle die oorgang na volwasse klinieke maak.

“Kinders wat met MIV gebore is en volwasse geword het, ervaar dikwels chroniese mediese probleme en loop die gevaar van verdere komplikasies, soos kardiovaskulêre siektes," verduidelik sy.

“Die einddoel is om ʼn bestepraktyk-kliniek vir perinatale MIV-besmette adolessente by die Tygerberg-kliniek tot stand te bring."

Onderskrif: Karlien Barnard, drs Lisa Frigati en Muhammad Osman.