Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch Universiteitskoor bereik die top, maar sal nie ophou nie
Outeur: Sandra Mulder
Gepubliseer: 19/09/2017

​'n Nuwe hoofstuk wink vir die Stellenbosch Universiteitskoor. Die koor, wat eerste is op Interkultur se ranglys van 1 000 internasionale kore, het besluit om hul vlerke te sprei en teen professionele kore ook mee te ding. US-koor is in die top posisie op die ranglys vir die afgelope vyfde jaar en het weer die posisie behou na vanjaar se Wêreld Koorspele in Julie. 

Luthando Siboya, visevoorsitter van die US-koor, het onlangs gesê hulle het die visdam van die Wêreld Koorspele ontgroei. Hulle wil in Engeland aan ander kompetisies deelneem. "Niemand kan kla oor die feit dat jy nommer een is, maar dit sal 'n uitdaging wees om uit ons gemaksone te kom. Dit is tyd vir 'n nuwe begin en 'n nuwe hoofstuk," het hy gesê. Met die kompetisies in Engeland, sal hulle ook blootgestel word aan professionele kore. Daar sal 'n stewige mengsel van professionele en amateur kore wees, sê Siboya. 

 


"Die kompetisie in Engeland sal ook 'n nuwe platform vir die koor skep. Daar sal ons 'n klein vis in 'n groot dam wees," sê Luthando.

André van der Merwe, dirigent en koorleier, het gesê die hoë posisie is vir een ding 'n aanduiding van hoe spesiaal die koor is en die gehalte van die musiek en prestasie wat gelewer word.

Hy lei die koor, wat oor die jare heen baie verander het, reeds die afgelope 15 jaar. André se mantra en waarskynlik 'n rede vir die koor se sukses is die balans tussen dissipline en vryheid. Elkeen het dissipline met die repetisies en tegniese aspekte van die uitvoering van musiek, terwyl hulle ook vanuit hul harte sing en die musiek met die gehoor laat praat.

"As hulle dit nie doen nie, dan sal die musiek leeg, bleek en sonder siel wees," sê Van der Merwe.

In die laaste kompetisie by die Wêreld Koorspele het die koor ook die kategorie vir Geestelike musiek met die hoogste telling ooit van 98,38% gewen. Hulle verbeter ook hul eie rekord deur die kategorie vir gemengde kore met 'n telling van 99% te wen.