Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die aanpak van oënskynlik onoorkombare berge is die nuwe Dekaan se sterkpunt
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 15/09/2017

As kranige deelnemer aan veldwedlope het hy al van die moeilikste sneeubedekte berge in Pole aangepak en aan moordende uitdagings in rowwe terrein in Suid-Afrika deelgeneem; maar die uitdagendste taak wat prof Anthony Leysens oor die volgende vyf jaar sal moet baasraak, is hoe om ʼn volhoubare fakulteit lettere en sosiale wetenskappe uit te bou op ʼn tydstip wat hoëronderwysinstansies oor die algemeen onder geweldige druk verkeer om finansieel volhoubaar te bly. Leysens, wat sedert Junie 2016 die waarnemende dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch was, is onlangs as die amptelike dekaan van hierdie fakulteit aangestel.

“Die aanstelling as Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe was een en ʼn half jaar gelede nie eintlik deel van my loopbaanontwikkelingsplan oor die medium termyn nie. Daar is op relatief kort kennisgewing ʼn beroep op my gedoen toe die voormalige dekaan, prof Johan Hattingh, om verlof aansoek gedoen het om van ʼn navorsingsgeleentheid gebruik te maak en dit toegestaan is. Goed het dus baie vinnig en onverwags gebeur," verduidelik Leysens oor hoe hy die hoof van die Fakulteit geword het.

“Na nege maande van waarnemende dekaan wees, het ek besluit om om die permanente posisie aansoek te doen. Hoewel die werk baie uitdagend en veeleisend was, was dit vir my op ʼn persoonlike vlak besonder lonend en bevredigend om die Fakulteit in hierdie leierskapsposisie te dien.

“Noudat ek aangestel is, beskou ek die vertroue wat in my gestel is as ʼn eer en gryp ek die geleentheid om aan die stuur van die Universiteit se oudste fakulteit te staan, met entoesiasme en ywer aan."

Diegene wat al saam met Leysens gewerk het, getuig van iemand wat die leiding geneem het op ʼn tydstip wat die Fakulteit, weens ʼn aantal faktore soos die afname in staatsubsidies vir onderrig en navorsing, ʼn sikliese afname in navorsingsuitsette in 2015, ʼn verlaging in die aantal eerstejaarstudente en die finansiering deur begrotingstekorte van akademiese ontwikkelingsteun, ongehoorde finansiële uitdagings die hoof moes bied. Aan die US is fakulteite vir hulle eie begrotings verantwoordelik en dit beteken dat daar eienaarskap van inkomste geneem en bedryfs- en akademiese kostedoeltreffendheid verseker moet word.

Die Fakulteit se bestuurspan bestaan uit die Visedekaan: Tale, prof Ilse Feinauer; die Visedekaan: Sosiale Wetenskappe, prof Pieter Fourie; die Visedekaan: Kunste, prof Lize van Robbroeck en die fakulteitsbestuurder, mnr Pieter Janse van Rensburg. Almal stem saam dat Leysens, as beide pragmatis en optimis, oor die regte temperament vir die pos beskik.

Leysens het sy akademiese spore in die lesinglokale van dieselfde Fakulteit verdien waar hy nou aan die stuur staan, deur in 1986 ʼn BA in politieke wetenskap en ontwikkelingsadministrasie, in 1987 ʼn honneursgraad in politieke wetenskap (cum laude), in 1991 ʼn MA in politieke wetenskap (cum laude) en in 2002 ʼn DPhil te behaal – alles aan die Universiteit Stellenbosch. Sy PhD se fokus was “Marginalisasie in Suidelike Afrika: Persepsies van en reaksies op staatsregimes", waarin hy kritiese politieke-ekonomieteorie met ʼn kwantitatiewe metodologie gekombineer het. Deur die gebruik van opnamedata uit die Afrobarometer het hy ondersoek ingestel na die hipotese dat ekonomies-gemarginaliseerde mense ʼn potensiële dryfkrag vir verandering en transformasie na ʼn billiker en inklusiewer politieke ekonomie is.

Hy was al dosent in internasionale betrekkinge, internasionale politieke ekonomie en internasionale betrekkinge/internasionale politieke ekonomie van Afrika vir voorgraadse en nagraadse studente. Sy navorsing fokus op onderwerpe soos die politieke ekonomie van Suider-Afrika; staat–samelewings-betrekkinge in Afrika; globalisering en die implikasies daarvan vir staat–samelewingsbetrekkinge in Afrika; kritiese politieke-ekonomieteorie; die politieke ekonomie van ekonomiese beleidmaking in Suid-Afrika; gemeenskappe van belang en verbeelde gemeenskappe; en die politiek van historiese trauma.

“Ek was nog altyd gemotiveerd om te studeer en het ʼn akademiese loopbaan gekies omdat dit ʼn proses van kritiese en oop denke fasiliteer waaruit ʼn mens, tydens die beperkende tydvak van die 1980's, bevraagtekenende alternatiewe menings oor dit wat in ons land aan die gebeur was, kon ontwikkel. My belangstelling het om die veld van politieke ekonomie en ekonomiese beleid in Suid- en Suider-Afrika gewentel, hoewel ek in die laaste tyd ʼn sterk belangstelling in die politiek van historiese trauma ontwikkel het.

“My belangstelling is deur die aantal 'sleutelgatgeskiedenisse' geprikkel wat in die 2000's onder wit mans, wat dienspligtig was en tydens die Angolese oorlog en die Namibiese onafhanklikheidstryd aktiewe diens gedoen het, begin uitslaan het. Ek het begin om verskillende sosiale-mediatuistes, waar veterane uit hierdie konflik bymekaar gekom en stories gedeel het, te volg en te ontleed. Die stories was ʼn mengsel van nostalgie aan die een kant en pogings om die herinneringe aan wat hulle beleef het, te verwerk, aan die ander kant. Daar was ʼn algemene gevoel dat daar, in teenstelling met Namibië, nie ʼn proses van doeltreffende versoening ten opsigte van hierdie deel van Suid-Afrka se eie vryheidstryd was nie."

Oor die jare heen het Leysens meer as 20 artikels en hoofstukke in verskillende nasionale en internasionale vaktydskrifte en in ʼn verskeidenheid boeke gepubliseer. Hy was ook die redakteur van The political economy of South Africa's relations with the International Monetary Fund & World Bank, en die skrywer van The critical theory of Robert W. Cox: Fugitive or guru?, wat in 2008 deur Palgrave Macmillan van New York uitgegee is. Oor die afgelope drie dekades het hy ook sy navorsing by nasionale en internasionale konferensies aangebied, terwyl hy steeds by internasionale en plaaslike onderriggeleenthede aan die Science Politique-skool in Parys, Frankryk; aan die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Antwerpen in België en aan die Universiteit van Wes-Kaapland se School of Government, betrokke was. Ook is hy ʼn lid van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Politieke Studies, die Internasionale Vereniging vir Politieke Wetenskap en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Dekane in die Geesteswetenskappe. Hy was ook die akademiese en administratiewe koördineerder van die vennootskapsprogram met die Internasionale Navorsingsinstituut vir Vrede en Bjørknes Kollege, albei in Noorweë gesetel, en vir die konsortium met die Universiteit Leipzig in Duitsland, wat deur Erasmus Mundus befonds word.

Voor hy die waarnemende dekaan van die Fakulteit geword het, was Leysens departementele voorsitter van die Departement Politieke Wetenskap (2009-2014) en Visedekaan: Sosiale Wetenskappe (2015-2016), terwyl hy steeds as postdoktorale mentor vir die AW Mellon-stigting opgetree het en ook die studieleier van ʼn aantal nagraadse studente was.

Die pad na die dekaanskap was egter nie vir Leysens maklik nie. Die Fakulteit is deel van die Universiteit wat, saam met ander universiteite in die land, deur ʼn ernstige finansiële en eksistensiële krisis gekonfronteer word.

“Dit vereis ʼn fokus op akademiese inhoud en kurrikulumvernuwing, die noodsaaklikheid om te verseker dat gegradueerdes gelewer word wat oor eienskappe beskik wat in aanvraag is, die versigtige bemarking van programme, ondersoeke na nuwe kennismarkte en groter kostedoeltreffendheid sonder dat gehalte en studentesukses ingeboet word," verduidelik Leysens.

Nietemin dink Leysen dat krisisse geleenthede bied wat ʼn mens dwing om uit jou gemaksone te beweeg

“Die ingesteldheid dat die hindernis die weg word, is nodig."

Leysens staan bekend as ʼn sterk, betrokke leier met ʼn praktiese benadering tot dringende uitdagings binne die Fakulteit. Hy is ʼn optimis – hy sien nypende omstandighede as ʼn manier om te leer, te groei en beter te vaar. Maar hy is deeglik daarvan bewus dat nie een van die dinge wat hy vir die Fakulteit in die vooruitsig stel, sonder sy grootste bate – sy personeel – kan gebeur nie. Hierdie insig maak hom terselfdertyd ook ʼn baie doeltreffende bestuurder van die menslike hulpbronne in die Fakulteit.

“Die kern van die fakulteit is sonder enige twyfel die akademici en studente. Ons beskik oor toegewyde, betrokke en professionele mense wat oor baie jare verseker het dat hierdie ʼn Fakulteit is wat volgens enige maatstaf – in sowel kwantiteit as gehalte – puik navorsing lewer en wat ʼn betrokke en dinamiese leeromgewing aan ons studente bied," sê Leysens.

Dit is waarom hy sulke groot doelwitte en aspirasies vir die Fakulteit het.

“Ons is ʼn groot en diverse Fakulteit met dissiplines wat strek van die kunste tot tale en sosiale wetenskappe. Dit is in die rykheid van hierdie diversiteit waar ons ons vernuwende en skeppende sterk punte gevind het; in besonder waar dit sosiale impak en transformasie aangaan."

“My visie is om hierop voort te bou, maar ook die Fakulteit se akademiese aanbod en uitset, sy sosiale impak én sy internasionale netwerk ter ondersteuning van ʼn volhoubare onmiddellike toekoms te vernuwe en te transformeer, met inagneming van 'n fokus op Afrika-uitdagings, Afrikagesentreerde inhoud en die idee van ʼn Afrika-identiteit. Ons moet samewerking en ons teenwoordigheid op die vasteland wesenlik vergroot. Hierdie visie omsluit en is gesetel in die kern van die Fakulteit se akademiese projek – kritiese denke en diskoers oor samelewingsdinamika – en die manier waarop ons dit lewer en beoordeel – lees, skryf en bespreek. Transformasie moet wyd strek."

Terselfdertyd wil hy ook op sistemiese transformasie ten opsigte van personeel- en studentediversiteit en kurrikuluminhoud fokus. 

“Dit sal egter ʼn toegewyde strategie benodig om seker te maak van die aanstelling van diversiteitsrolmodel-akademici en die diversifisering van ons studentekorps. Om studentesukses en akademiese uitnemendheid te verseker, moet ons akademiese ontwikkelingsondersteuning aanbied en vergroot. Kurrikulumvernuwing en die bevraagtekening van die 'gedekoloniseerde' uitdaging, wat ek as die weerspieëling van die Afrika-identiteit, Afrika-relevansie en Afrika-gesentreerdheid interpreteer, is onlosmaaklik deel van transformasie en die verandering van kampuskultuur, maar sonder om ons van historiese en kontemporêre wêreldwye idees en kennis af te sonder. Laastens sou ek ʼn sterker kultuur van interdissiplinêre navorsing en onderrig in ons Fakulteit wou ontwikkel." 

Dit is nogal ʼn groot uitdaging wat hy aan die Fakulteit, maar hoofsaaklik aan hom self, stel en, gesien hoe Leysens sy vrye tyd bestee, is die bergspits dalk nie so ver buite bereik nie. Hy het immers aan die begin van die winterseisoen in Pole in temperatuur van -7 °C die 1 620 m-hoë Berg Sněžka (oftewel 'sneeuberg' en as 'klein Siberië' onder die Pole bekend) oorwin en ook die Jonkershoek Extreme Challenge oor 35 km voltooi. 

“Ek put baie genot uit soloveldwedlope en het ʼn paar uithounommers en persoonlike uitdagings hier en oorsee afgehandel. Benewens hierdie uitdagings wat ek buite die Fakulteit vir my stel, is die belangrikste doelwit onder die ander doelwitte wat ek vir die Fakulteit genoem het waarskynlik dat ons mense – akademici en studente – moet kan klasgee, navorsing moet kan doen en moet kan leer in ʼn omgewing wat bevorderlik is vir hulle welstand en dit ook fasiliteer. Die res sal volg."

Foto: Prof Anthony Leysens is nou amptelik die Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. (Hennie Rudman)