Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Etiek-sentrum ontvang gesogte beurs
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 14/09/2017

Die Fogarty Internasionale Sentrum (FIC) van die Nasionale Gesondheidsgenote (NIH) in die VSA het hom onlangs verbind tot ʼn toekenning van R16 miljoen aan die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg (SMER) van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Die FIC is die enigste vleuel van die NIH met die uitsluitlike doelwit om globale gesondheid te ondersteun.

Ofskoon die SMER in die verlede drie navorsingstoekennings van die NIH bekom het, is dit die eerste keer dat ʼn D43-toewysing, wat spesifiek op kapasiteitsontwikkeling gemik is, in die Fakulteit toegeken is.

Volgens prof Keymanthri Moodley, Direkteur van die SMER, is hierdie toekennings uiters gesog omdat dit so skaars is en weens die omvattende en uitdagende aansoekproses. “ʼn D43-toewysing is die eerste keer in 2016 aangekondig om ʼn leierskapprogram in bio-etiek, met inbegrip van ʼn doktorale program, te ontwikkel. Die FIC het al talle meestersvlak-opleidingstoekennings in bio-etiek in Afrika gefinansier, maar hierdie is die eerste keer dat ʼn D43 aangekondig is om PhD-studente in bio-etiek te finansier."

Die US en John Hopkins Universiteit in die VSA was die enigste twee instellings aan wie hierdie toewysing in die eerste finansieringsronde toegeken is. “Ons was baie gelukkig, omdat pres. Donald Trump pas sy planne aangekondig het om die Fogarty-sentrum te sluit."

Moodley sê die SMER het om die toekenning aansoek gedoen as deel van sy voortgesette verbintenis tot die ontwikkeling van leiers in bio-etiek op die Afrika-kontinent. “Ons het die afgelope 5 jaar ʼn nagraadse diploma in gesondheidsnavorsingsetiek aangebied. Nadat 40 middelloopbaan-beroepslui uit 10 Afrika-lande tussen 2011 en 2015 by ons gegradueer het, moes ons hierdie en ander potensiële nagraadse studente die geleentheid bied om hul studies tot op ʼn doktorale vlak te voer."

Die toewysing kom derhalwe net op die regte tyd. “Dit is toegeken om van 2017 tot 2021 ʼn leierskapprogram in bio-etiek in Suider-Afrika te ontwikkel en aan te bied en is op ʼn jaarlikse grondslag hernubaar." Die finansiering, wat R16 miljoen oor 5 jaar beloop, sal aanvanklik gedeeltelike beurse aan 3 nagraadse studente bied, asook hopelik nog 2 in die volgende 5 jaar.

“Die voordeel vir die vakrigting is enorm in die lig van die dringende behoefte aan vakgeleerdheid in bio-etiek in Afrika."

Moodley sê die grootste uitdaging sal wees om seker te maak die finansieringsiklus neem sy volle beloop. “Ons hoop ook Trump sal besef watter belangrike bydrae die Fogarty-sentrum tot kapasiteitsontwikkeling in Afrika lewer."

Volgens Moodley het die D43-toekenning nuwe entoesiasme en energie in ʼn krities belangrike gesondheidsorgvakrigting geblaas. “Ek is dank verskuldig aan my medewerker, Prof Stuart Rennie van die North Carolina Universiteit, vir die vennootskap wat ons oor die afgelope sewe jaar opgebou het. Ons waardeer ook die hulp van die NIH, die administratiewe personeel by die SMER, die SMER-bestuurskomitee onder voorsitterskap van Prof Rafique Moosa en die toekennings-bestuurskantoor."

Onderskrif: Prof Keymanthri Moodley