Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vryheid van uitdrukking en sosiale media
Outeur: Prof Jimmy Volmink
Gepubliseer: 13/09/2017

​Die Handves van Regte van die Grondwet van Suid-Afrika bepaal: “Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is: die vryheid van die pers en ander media; die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra; die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing. Die reg in subartikel (1) omvat nie: propaganda vir oorlog nie; die aanstigting van dreigende geweld nie; of die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie."

Ek en my Bestuurspan is bewus van verskeie anonieme uitsprake op die TygerMaties Confessions Facebook-blad wat 'n valse narratief laat voortleef oor die Fakulteit se voorgraadse keuringsriglyne en die gehalte van die studente wat ons toelaat. Hierdie opmerkings het 'n sterk rassistiese ondertoon. Ons respekteer die reg tot vryheid van uitdrukking, maar veroordeel ten sterktste enige opmerking wat haat teenoor 'n persoon of 'n groep mense probeer aanwakker op grond van ras, sowel as misleidende en valse stellings oor die Fakulteit se beleide en prosesse.

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) bepaal jaarliks in samewerking met die Viserektor: Leer en Onderrig inskrywingsdoelwitte wat onder meer belyn is met die riglyne van die Nasionale Departement van Hoëronderwys- en Opleiding vir die transformasie van die hoëronderrigsektor, sowel as die Universiteit Stellenbosch (US) se verbintenis tot inklusiwiteit en diversiteit.

Ons voorgraadse keuringsriglyne word so saamgestel dat daar verseker word dat kandidate op grond van meriete, gelykberegtiging en diversiteit oorweeg word. Die keuringsriglyne word deur die Fakulteit se beheerstrukture en die Senaat aanbeveel en deur die Raad van die US goedgekeur. Die riglyne is hier beskikbaar.

Ons staan onapologeties agter hierdie riglyne, wat daarop gemik is om historiese ongelykhede in terme van onderwys aan te spreek en gesondheidspraktisyns op te lei wat ons land se demografiese profiel weerspieël. Enige navrae oor die keuringsproses vir voorgraadse programme kan gerig word aan die Keuringskantoor in die Sentrum vir Studente-administrasie op die Tygerberg-kampus by tygselections@sun.ac.za.

In elkeen van ons keuringskategorieë voldoen alle student aan baie hoë toelatingsvereistes. Ons is dus uiters trots op die studente wat ons elke jaar aan die hand van 'n baie strawwe keuringsproses toelaat uit hoogs mededingende aansoeke. As deel van ons verbintenis tot toegang met sukses is ons tans besig om 'n Strategiese Kommittee vir Werwing en Keuring in die lewe te roep. Dié komitee sal al ons bestaande keuringsprosesse hersien en dit belyn met die US se nuwe Toelatingsbeleid.

Ons moedig gesprekke aan wat op 'n respekvolle wyse gevoer word en wat huidige praktyke uitdaag om sodoende verbetering in die Fakulteit, die Universiteit en ons gemeenskap teweeg te bring. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die gebruik van sosiale media as 'n kommunikasiekanaal onderworpe is aan bestaande beleide en prosedures van die Universiteit, in die besonder: 

Alle studente en personeel is self en kollektief verantwoordelik om hierdie beleide na te kom, en behoort tyd daaraan af te staan om dit te lees en te verstaan. Die beleide verbied wangedrag, teistering en viktimisasie op enige aanlyn-platform. Aanlyn afknouery, skeltaal, naamskending, laster en/of beledigings val in dieselfde kategorie as soortgelyke kommunikasie van aangesig tot aangesig of op skrif.

Persone wat deur sulke gedrag benadeel word, kan dit by die Universiteit Stellenbosch se Eenheid vir Gelykwaardigheid aanmeld by unfair@sun.ac.za, wat op hulle beurt die saak na gelang van omstandighede na die Afdeling Studentedissipline (vir studente) of die Afdeling Menslike Hulpbronne (vir personeel) sal verwys.

Ek wil u ook weer herinner aan die strukture wat in ons fakulteit en onderskeie departemente beskikbaar is vir diegene wat kwessies wil opper. Dit sluit in die Gelykheidskampioene en ons Lewensafrigter vir Interpersoonlike Verhoudinge.

Laastens wil ek u aandag vestig op ons fakulteit se sleutelwaardes, naamlik uitnemendheid, integriteit, deernis, inklusiwiteit, innovering en verantwoordbaarheid. Ek vertrou dit sal toenemend dien as die beginsels wat ons persoonlike gedrag en ons verhoudinge met ander lei.