Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stewige hupstoot vir US-beursfondse
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 13/09/2017

Amper R7 miljoen van die Moshal-beursstigting, R3,7 miljoen van Eskom en R1,8 miljoen van FNB… Dít is slegs 'n paar van die vele skenkings wat die Universiteit Stellenbosch se beursfondse in 2017 'n stewige hupstoot sal gee, tot voordeel van finansieel verdienstelike voor- en nagraadse Matie-studente.

“Die Universiteit het meer as R17 miljoen van verskeie maatskappye, stigtings en individue ontvang wat vir beurse aangewend kan word. En hierdie ruim bedrag kom van nuwe sowel as gereelde skenkers," sê Sarah Archer, direkteur van fondswerwing in die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge.

Archer sê die kragtige impak van finansiële bystand op soveel studente se toekoms is al etlike kere uitgelig – en veral ook weer die afgelope twee jaar met die #FeesMustFall protesoptogte. “Dit is goed om te sien hoe die studente se drome van 'n blinker toekoms bewaarheid word omdat maatskappye, stigtings en individue besluit het om hulle swaarverdiende geld in hoër onderwys te belê," voeg sy by.

“Altesaam 1 981 van die 5 420 Matiestudente wat in 2016 hulle grade verwerf het, kon dit doen danksy die een of ander vorm van finansiële bystand – hetsy beurse, lenings of beurslenings. Daarbenewens hoop ons om, met ons skenkers se hulp, die bystand nog verder uit te brei en die getalle nog verder op te stoot.

“Die finansiële steun wat ons tot dusver ontvang het, maak nie net studente se hoëronderwysdrome waar nie, maar stel ook die Universiteit in staat om sy mandaat uit te voer om goed gekwalifiseerde gegradueerdes te lewer, nuwe kennis te skep en 'n positiewe impak op die samelewing te hê," sê Archer.

Sy sluit af: “Die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge sowel as departemente en fakulteite van die Universiteit werk almal hard om finansiële hindernisse vir studente uit die weg te ruim, en te sorg dat die volgende generasie Maties hul volle akademiese potensiaal bereik."

Ons bedank graag:

  • Die Eerste Nasionale Bank-fonds vir die skenking van R1 819 085, wat 16 studente met gestremdhede van beurse voorsien.
  • Die Moshal-beursstigting vir hulle meer as R6 miljoen.
  • Die Dippenaar Familie Trust vir hul skenking van R1 100 000, wat 21 studente sal ondersteun.
  • Eskom, wat R3 780 954 geskenk het om 33 studente te ondersteun.
  • Standard Bank, wie se skenking van R95 971 twee voormalige Hope@Maties-studente sal ondersteun.
  • BATSA vir die beurs van R400 000 wat as 'n nalatenskap aan Matie-studente toegeken is toe die maatskappy sy hoofkantoor uit die dorp verskuif het.
  • CIPLA wat R136 000 geskenk het.
  • Mix Telematics vir sy skenking van R43 580.
  • Peregrine Capital vir sy R203 545.
  • Thermaspray vir sy R189 116.
  • Bay Steel vir R16 194.
  • Die Wiese-skenkingsfonds van R29 miljoen waaruit R900 000 in beurslenings uitbetaal is.
  • Stonehage Fleming wat R500 000 toegestaan het vir beurse in die regte.
  • Henk Seymore vir 'n bemaking van ongeveer R1,3 miljoen.
  • Die Claude Leon-stigting, wat hul verdere steun toegesê het aan die Regshulpkliniek vir 'n finansieringsiklus van drie jaar.
  • Freyson Trust vir die R51 200 wat ʼn ingenieurswese-student se klasgelde sal dek.
  • Msaada Trust vir die R17 000 vir enkelouer-studente.
  • SARS vir die 5 volle beurse ter waarde van R493 170.
  • PA & Alize Malan Gedenktrust se R50 000.
  • Shell se volle beurs van R112 173.