Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en studente saam op reis – Prof Wim de Villiers
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 04/09/2017

Studente is medereisigers op die Universiteit Stellenbosch (US) se weg na inklusiwiteit en die bou van ʼn gemeenskap vir almal.

Dit was die boodskap van die US-Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, op Maandag (4 September 2017) aan studenteleiers by die US se jaarlikse studenteleierskap konferensie (oftewel SU Leads) in die Kruiskerk.  Die konferensie, wat vanjaar vir die negende keer gehou word, vind vanaf 3-4 September plaas.

Die SU Leads-konferensie word deur die Sentrum vir Leierskap en -Strukture in die Afdeling Studentesake aangebied en bied jaarliks ʼn platvorm vir opleiding en ontwikkeling aan nagenoeg 1500 studenteleiers in verskeie strukture regdeur die universiteit.

Die Rektor se toespraak het deel gevorm van ʼn reeks gesprekke oor verskeie onderwerpe by die konferensie.

 

Selfoongebruikers klik hier

De Villiers het in sy toespraak leierskap as ʼn reis beskryf en aan studente gesê die Universiteit wil saam met hulle op weg wees.

“Leierskap is ʼn op vele vlakke ʼn uiters belangrike reis. Ek verwelkom julle as medereisigers, en sien daarna uit om saam met julle die weg van leierskap hier by die Universiteit te bewandel."

“Julle het die geleentheid aangegryp … wat die kans is wat ons as leiers het om meer te leer oor wat in die wêreld om ons gebeur, maar ook om dinge te beïnvloed, die samelewing te vorm en dit ʼn beter plek vir almal te maak."

De Villiers het gesê studente kan belangrike insette lewer soos wat die SU vorentoe beweeg in terme van sy nuwe visie en institusionele strategie.

“Studente is ʼn belangrike belanghebber, en jul rol as studenteleiers is noodsaaklik. Ons moet saam vorentoe beweeg. Vir bykans 100 jaar het ons saam geleer, gegroei en vorentoe beweeg. Mag ons as leiers by hierdie Universiteit in daar gees voortgaan."

De Villiers het ook die studente aangemoedig om te praat oor kwessies in hoër onderwys en by die US wat hulle direk raak.

“Ons moet hierdie debatte voer, oop gesprekke hê, maar altyd op ʼn waarde-gedrewe wyse," het hy gesê.

  • Foto: Prof Wim de Villiers praat met studenteleiers by die SU Leads-konferensie.
  • Fotograaf: Henk Oets​