Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#VrouevanUS: Kommunikasie sonder grense
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 29/08/2017

​Dit verstom dikwels hoe hartstogtelik baie kinders met erge gestremdhede en weinig of geen spraakvermoëns nie, kommunikeer – al kan hulle nie praat nie.

“Mense neem dikwels nie waar hoeveel kommunikasie sonder spraak plaasvind nie," sê dr Martha Geiger, 'n geregistreerde spraakterapeut met 'n passie om die kommunikasiegeleenthede van kinders met erge gestremdhede in gemeenskappe met beperkte hulpbronne te verbeter.

As 'n senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, behels haar werk in die Sentrum vir Rehabilitasiestudies in die Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe onderrig, toegepaste navorsing en toesighouding oor studente wat oor uiteenlopende aspekte van gestremdheid en rehabilitasie navorsing doen.

Die meeste nieverbale kinders verstaan aansienlik meer as wat hulle in kommunikasie uitdruk, verduidelik Geiger. “Die uitdaging is om maniere te vind om by hulle aansluiting te vind: om te begryp wat hulle as belangrik beskou en hoe hulle dit uitdruk en dan op daardie wyse van uitdrukking voort te bou om geleenthede vir die kinders te skep omaan hul gedagtes, behoeftes, vrese, vreugdes en insigte uiting te gee. In die proses leer jy die kind as 'n unieke persoon ken."

'n Skakel met res van wêreld

Geiger se doktorale studie het gehandel oor die gebruik van kulturele hulpbronne om 'n inklusiewer omgewing vir kinders met erge gestremdhede te skep. Sy glo sodanige hulpbronne kan aan talle kinders “'n broodnodige skakel" met die res van die wêreld bied en 'n verskuiwing in terapeute se benadering jeens kinders met ernstige kommunikasiegebreke moontlik maak.

Geiger, wat self liggaamlik uitgedaag is, werk nou saam met ma's van kinders met erge gestremdhede om uit te vind hoe hul kinders desondanks kommunikeer. Haar navorsing het ten doel om kultureel vasgestelde en nieverbale aspekte van sosiale interaksie in 'n Xhosa-taalopset te bepaal. Dit volg op 'n gevallestudie wat sy vroeër hieroor in 'n landelike deel van Botswana in 'n Tswana-sprekende gemeenskap gedoen het.

“Sommige ooreenkomste in die nieverbale, pragmatiese en kontekstuele elemente van kommunikasie in die onderskeie Suider-Afrikaanse tale kan goed benut word. Die onus rus op ons om die vermoë tot kommunikasie, en hoeveel daarvan begryp word, te vergroot by kinders met erge kommunikasie-gestremdhede. Ons moethierdie kulturele hulpbronne erken en daarop voortbou," sê Geiger.

Kinders met ernstige gestremdhede in afgeleë gemeenskappe oral ter wêreld tel onder die mees afgeskeepte groepe wat rehabilitasiedienste betref. “Baie van hulle het dringend toepaslike en doeltreffende ingrypingstrategieë nodig. Hierdie kinders en hul families het nie toegang tot formele kommunikasie-ingrypings of steuntoestelle nie, hetsy weens armoede of 'n gebrek aan toegang tot toepaslike dienste."

Volgens Geiger het die meeste kinders met erge gestremdhede en min of geen spraak nie 'n verbasende potensiaal om te kommunikeer. Voorbeelde sluit in die gebruik van gesigsuitdrukkings, liggaamstaal, die beantwoording van vrae deur die oë te knip of daarmee in 'n rigting te wys, asook die gebruik van geluide soos snorke en gille."

Nieverbale kommunikasie oor kulture heen

Vir haar navorsing het sy onder meer tyd deurgebring met Xhosa-ma's wat hul erg serebraal gestremde kinders vir fisio- en spraakterapie na 'n plaaslike kliniek in Kraaifontein gebring het. Geiger het die hulp van twee tolke ingeroep sodat die ma's se ervarings, asook hul kennis wat betref die kinders se nieverbale kommunikasie, opgeteken kon word.

“Die Xhosasprekende ma's het dieselfde of soortgelyke voorbeelde as dié wat in Botswana gewerk het, in hul eie kulturele konteks bevestig en was opgewonde om sommige van hierdie idees op die proef te stel," het sy gesê. In Botswana help idiomatiese taalgebruik wat op kommunikasieborde gevisualiseer word kinders met erge gestremdhede byvoorbeeld om aansienlik beter as tevore te kommunikeer.

Geiger verduidelik: “Die Xhosa-kultuur, soos die Tswana-kultuur, bevat talle kultureel bepaalde nieverbale aanduidings wat gebruik kan word om kommunikasie met kinders met erge gestremdhede te verbeter. 'n Kind kan dalk nie dankie sê nie, maar kan met die aanvaarding van 'n geskenk sy dankbaarheid betoon deur sy kop te buig en af te kyk.Oningeligte gemeenskapslede kan selfs niestandaardvariasies van hierdie gebaar herken wanneer 'n kind met erge gestremdhede dit gebruik."

Sommige voorbeelde is ook van toepassing op ander inheemse tale in Suider- Afrika, wat daarop dui dat dit ook buite die konteks van die individuele tale verstaan kan word. Sulke elemente kan gebruik word om groter begrip buite die konteks van individuele tale te vestig. “Danksy die wyer gebruik van nieverbale en pragmatiese elemente oor die streek heen, moes die klem skuif van elemente wat kultureel bepaal word (spesifiek in die Xhosa-taalkonteks vanhierdie studie) na strategieë wat die kultuur in die gegewe konteks in ag neem.

“Ek vind dit opwindend dat daar soveel in die verskillende kulture is waarop ons kan voortbou. Die ma's (in die studie) het begin rondkyk na nieverbale elemente in ander tale wat belofte inhou."

Haar navorsing belig ook die feit dat terapeute ten doel moet hê om strategieë te identifiseer wat kulturele waardering insluit ten einde gemeenskapsdeelname aan te moedig. “Op dié manier kan ons as terapeute die dinge steun waarmee die ma's reeds besig is en reeds oor hul kinders weet, hoewel hulle nog nie 'n naam daaraan kon koppel nie," het Geiger gesê. “Soms het hulle net bevestiging nodig dat dit wel iets werd is en dat daar meer kommunikasie-opsies is."

Geiger sê daar is 'n behoefte aan meer ingrypings en navorsing “saam met" eerder as “vir" kinders met erge kommunikasiegestremdhede en diegene met wie hulle kommunikeer. “Omdat ons as terapeute dikwels 'n voorskriftelike benadering volg en glo dat die status quo tekort skiet, hou hierdie ma's dikwels op om die goeie dingete doen waarmee hulle besig was sodra ons  opdaag omdat hulle dit dan as die verkeerde benadering begin beskou."

Optimale benutting van hulpbronne

Nóg 'n bevinding was dat die sosiale insluiting van die ma's van kinders met kommunikasiegestremdhede voorkeur moet geniet sodat meer kommunikasie-geleenthede aan die kinders gebied kon word. Dit het implikasies vir kliniese praktyk, opleiding, en beleidsbeplanning en -toepassing. “Ons as terapeute is dikwels só daarop ingestel om die kind se uitdaging 'reg te stel' dat ons nie na die volledige prentjie kyk nie. As die ma aanvaar word, kan die kind selfs met hierdie uitdaging 'n beter gehalte lewe lei en aan kommunikasie deelneem.

“Daar bestaan nie net 'n behoefte om gestremdhede rakende die lewering van kommunikasie-terapiedienste die hoof te bied nie, maar ook om die doelwitte van spraakterapie opnuut te bekyk," het sy gesê. “Dit beteken 'n klemverskuiwing van ingryping vir die kind na die optimale benutting van hulpbronne in die kind se omgewing."

Spraakterapeute en ander rehabilitasieberoepslui kan volgens haar benaderings volg wat meer waardering vir kulture toon, veral as hulle oor kulture heen werk. “Ons moet na ma's se perspektiewe luister en saam met hulle werk aan strategieë waarin hulle nie net die ontvangers van dienste is nie, maar ook erkenning kry vir die aktiewe rol wat hulle kan speel en rééds speel."

 

Onderskrif: Dr Martha Geiger

Foto: Damien Schumann