Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Netbal 'gereed om oorlog toe te gaan'
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 28/08/2017

​Met 'n 80-41-oorwinning oor UWK in hul eerste wedstryd van die 2017 Varsity Netbal-kompetisie op Sondag (27 Augustus), het die Maties-netbalspan gewys hulle sal alles gee om Maties na die beste van hul vermoë te verteenwoordig in die toernooi.

“Ek het vir die spelers gesê ons het 'n berg om uit te klim. Ons gaan die volgende paar weke inderwaarheid oorlog toe. Ons karakter gaan getoets word en die werk wat ons ingesit het, sal vanself moet getuig," het die span se hoofafrigter, Zanele Mdodana, gesê.​

Zanele, wat kaptein van sowel die Suid-Afrikaanse o.20- en senior Protea-span was, se 85 wedstryde vir die nasionale span het haar 'n arsenaal van ondervinding gegee. Sy rig die Maties van die begin van die jaar af.

Die span het nie net 'n nuwe afrigter nie, maar ook 'n nuwe kaptein in senior speler Megan Gossmann. Sy volg in die voetspore van haar goeie vriendin Juline Rossouw, wat vir baie jare as Maties se kaptein en hulpdoelverdediger (HV) uitgedraf het.

“Ek het groot skoene om vol te staan, maar ek het so baie by Juline geleer. Wanneer ek oor iets twyfel, dan dink ek: 'Wat sou Juline gedoen het?' of ek bel haar."

Megan, wat verlede jaar haar graad in Sportwetenskap verwerf het, is tans besig met haar Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) en speel in haar vierde Varsity Netbal-toernooi.

Sy word ondersteun deur ander senior spelers in die span, onder andere Sasha-Lee Petersen, Charmaine Baard en Abeline Olivier.

“Ons het teen mekaar netbal gespeel terwyl ons nog op skool was en was almal lede van die Wes-Kaap-span wat in 2014 goud by die SA o.19-kompetisie verower het."

Die spelers wil baie graag die sukses wat hulle in 2014 ervaar het, in vanjaar se Varsity Netbal-kompetisie herhaal.

Dit is 'n uitdaging om 'n studente-atleet te wees, sê Megan. Die spanlede oefen minstens tien uur per week, met gimnasiumsessies wat reeds 05:30 in die oggend begin.

“Dit is nie maklik om almal se akademiese skedules met 'n Hoëprestasie- (HP)- program te kombineer nie. Ons skerts onder mekaar dat ons vriende ons nie eers meer uitnooi nie, want hulle weet ons sal óf oefen, óf speel óf besig wees om te studeer."

Megan waardeer egter die lesse wat sy uit sport geleer het, byvoorbeeld tydsbestuur en hoe om met verskillende mense oor die weg te kom.

Sy gedy ook in die uitdaging om kaptein te wees.

“Ek dink ek is sterk genoeg om die belange van die spelers te verteenwoordig en ek hou ook daarvan om te lei. Dit help dat ons sterk persoonlikhede in die span het. Ons kry dinge gedoen."

Sy glo die span is gereed vir die kompetisie.

“Ons het nie 'n maklike jaar gehad nie en dit het ons 'n rukkie geneem om ons voete te vind, maar dinge kon nie op 'n beter tyd vir ons bymekaar gekom het nie."

Tuiswedstryde:

Maandag 28 Augustus: Maties vs. VUT 18:00

Maandag 4 September: Maties vs. UJ 19:00 (Regstreeks op Supersport)

Maandag 18 September: Maties vs. Kovsies 19:00 (Regstreeks op Supersport)

Maandag 25 September: Maties vs Madibaz 19:00 (Regstreeks op Supersport)

Kaartjies beskikbaar op die Varsity Sport-webwerf of app