Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU – Fokus op die US Regshulpkliniek
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 24/08/2017

​Gemotiveer deur 'n sterk sin vir sosiale verantwoordelikheid en 'n begeerte om 'n stem te gee aan die stemloses, maak die personeel van die Regshulpkliniek 'n daadwerklike verskil in die lewens van hul kliënte, en op dié manier dra hulle by tot die opheffing van gemeenskappe.

As deel van die US se vrouemaand-vieringe, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie met die vroue by die Regshulpkliniek gesels.

Wat is die mandaat van die Regshulpkliniek?

Die Regshulpkliniek ondersteun gemeenskappe wat nie regsadvies kan bekostig nie deur gratis, effektiewe en kwaliteit regshulp, insluitend litigasie, te bied. Met 'n sterk landelike fokus, is die meeste van die mense wat die dienste gebruik plaaswerkers uit die Kaapse Wynland-distrik.

The kliniek bedryf ook, in samewerking met die Departement Ekonomie, 'n finansiële geletterdheidsprogram wat daarop gemik is om finansieel ongeletterde persone te bemagtig met finansiële vaardighede. Hulle gee ook opleiding oor mense- en verbruikersregte aan plaaswerkers en steunpersoneel op naburige plase.  

Waarom is regshulpklinieke so belangrik in ons gemeenskappe?

Toegang tot geregtigheid, veral in die lig van historiese ongeregtighede, is die dryfveer agter die werksaamhede by die Regshulpkliniek.  Die Regshulpkliniek speel 'n belangrike om landelike gemeenskappe oor hulle grondwetlike regte op te voed, en menseregteskendings deur gratis professionele regshulp aan te spreek. 

Die kliniek is ook belangrik want dit bied regstudente die geleentheid om praktiese vaardighede in 'n kliniese omgewing op te doen. Studente konsulteer met kliënte, skryf briewe en konsep-vertoë onder die toesig van prokureurs en kandidaat-prokureurs. Hulle neem ook aan skynhof-bedrywighede deel. Maar selfs meer belangrik, gee dit studente eerstehandse ervaring van die toegang-tot-geregtigheid krisis in die Kaapse Wynland-distrik.

Wat is uniek aan die Regshulpkliniek se aanslag?

Die kliniek se praktisyns het 'n diepgewortelde begeerte om werklik by te dra tot 'n kultuur van menseregte deur toegang tot geregtigheid en sosio-ekonomiese regte vir weerlose en gemarginaliseerde mense in landelike omgewings te verbeter deur gratis regsadvies en toonaangewende impak litigasie.

Is daar enige belangrike sake waarby die Regshulpkliniek betrokke was?

Ons het 'n sleutelrol gespeel om impak litigasie te begin – soos die besoldigingsbeslagleggingsbevele-saak waarin die Grondwetlike Hof beveel het dat geen beslagleggingsbevele gemaak mag word sonder 'n hofbevel nie – en eers nadat die hof bevind het so 'n bevel is geregverdig en gepas. Dit het verreikende gevolge, veral op die minderbevoorregte gemeenskappe wat dikwels uitgebuit word omdat hulle finansieel ongeletterd is. Die betekenis van die saak lê daarin dat dit 'n presedent skep vir ander in dieselfde desperate situasie om verligting te kry uit hul finansiële verknorsing.

Die regshulpkliniek was ook betrokke by die 2012 Grondwet-hofsaak van M Hattingh v L E Juta (CC50/2012), wat verband gehou met die beskerming van die familieregte van volwasse kinders van plaaswerkers. In stede daarvan om die betekenis van konsepte soos “familie" en “kultuur" te vernou in ʼn poging om die reg tot familielewe te bepaal, het die Grondwethof klem daarop geplaas om die belange van die betrokke partye te balanseer en die Konstitusionele waardes te handhaaf. Hierdie saak het regsekerheid gebring deur die moeilike konsep van “familielewe" vir plaasbewoners te interpreteer ingevolge Seksie 6(2)(d) van ESTA, wat volwasse kinders van plaaswerkers toelaat om saam met hulle op ʼn plaas te woon.

Watter boodskap het die Regshulpkliniek aan vroue?

Aan alle vroue in Suid-Afrika: Julle is sterk, laat jul stemme hoor. As jy 'n vrou in nood sien, reik uit na haar en help haar om weer op te staan. 

  • ​Persone in die Boland, Ceres en Worcester omgewing met 'n behoefte aan regshulp, kan die Regshulpkliniek kontak by 021 808 3600. Die Regshulpkliniek se adres is 44 Banhoekweg, Stellenbosch. Om te kwalifiseer vir regsverteenwoordiging moet kliënte minder as 'n sekere bedrag verdien.

 Voor, links na regs: Lisa Swanepoel, Nikita Roode, Magda Esau, Erika Wright. Agter, links na regs: Monja Posthumus-Meyjes, Priscilla Khoaeane, Danielle Louw.