Elke druppel water tel beslis wanneer ʼn mens nie net water spaar nie, maar ook geld. Hiervan kan ʼn paar skole getuig wat verskeie finansiële uitdagings moet trotseer.
Die besparing van water en geld by skole het die fokuspunt geword vir ʼn projek wat deur prof Thinus Booysen en sy span van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) gelei word. Met die ontwikkeling van ʼn toestel wat watergebruik kan meet, is skole, huishoudings en ander instellings in staat gestel om watergebruik en uitgawes te minimaliseer.
Booysen sê op die oomblik is daar reeds vyf skole wat die nuwe tegnologie beproef. Hy hoop meer skole raak betrokke om nie net baie water te spaar nie, maar ook omdat die waterkoste in Stellenbosch sedert Julie vanjaar, meer as verdubbel het.
Dié slim watermeter word eenvoudig aan die munisipale watermeter gekoppel. Die meter rapporteer na ʼn webruimte bediener (server) via sellulêre, NB-IoT of Sigfox-netwerke. Inligting word beskikbaar gestel via ʼn web-toepassing en ʼn daaglikse verslag via e-pos. Waar daar skielike veranderings is, word die kliënt via ʼn SMS en e-pos daarvan in kennis gestel.
Die elektroniese data van die meter vertel ʼn interessante storie oor die volumes water wat op sekere tye van die dag gebruik word.
Volgens Booysen word mense meer bewus van hul watergebruik ná die meters geïnstalleer is. Die bewustheid lei tot ʼn groot afname in watergebruik. Booysen sê dit is al waargeneem dat watergebruik in sommige gevalle met tot 68% gedaal het.
Kort nadat die projek by die Laerskool Stellenbosch ʼn paar maande gelede begin is, het die watergebruik van 35 kl. per dag na 11 kl. per dag afgeneem. In sommige gevalle kan die besparing per maand gelykwaardig wees aan die salarisse van twee junior onderwysers.
Booysen het ook verwys na ʼn voorval by die skool waarin ʼn groot hoeveelheid watergebruik oor ʼn vakansietyd opgemerk is. ʼn Waterpyp het gelek en deur die watermeter het hulle daarvan bewus geword en kon sowat een miljoen liter watervermorsing gekeer word, vertel Booysen.
Jacques Horn, onderhoof by Laerskool Stellenbosch, sê die meter werk goed. “Ons het reeds baie water gespaar en elkeen is ook meer bewus van waterbesparing. Ons het selfs die watertoevoer na die badkamers aangepas."
ʼn Verdere oplossing was om die watertoevoer na die toilette met ʼn tydkontrolestelsel te koppel. So kon watertoevoer na die toilette laatmiddag gesluit word en weer die volgende oggend oopgemaak word.
Die projekkampioen by die Laerskool Eikestad, Dirk Coetsee, sê nadat die meter by sy skool geïnstalleer is, word minstens 3 kl. water per dag gespaar. “ Ons het opgemerk daar is watergebruik oor tye soos naweke wanneer daar niemand by die skool is nie. Toe ontdek ons ʼn waterlekkasie onder die grond."
Ander skole wat ook by die projek betrokke is, is die Laerskool A.F. Louw, Hoërskool Stellenbosch en Hector Peterson Sekondêre skool in Wallacedene.
Die projek word tans deur die Universiteit se
tegnologie-oordrag maatskappy, Innovus, gekommersialiseer en geïnkubeer by
die Nedbank Universiteit Stellenbosch
LaunchLab, die US se
besigheidsinkubator, via die afwentelmaatskappy,
Bridgiot (Bridge to the Internet
of Things).
Onderskrif: Prof Thinus Booysen sit by sy lessenaar met die data van 'n Stellenbosch-skool oop op sy rekenaarskerm.