Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Konferensie 'n 'veilige plek' vir nuwe generasie opvoedkunde-navorsers
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 21/08/2017

Namate die jaarlikse Streeksnavorsingskonferensie vir Opvoedkunde-studente (ESRRC) nader kom, het nagraadse studente van die vier universiteite in die Wes-Kaap reeds gebaat by twee slypskole wat georganiseer is om hulle te help met hul voorbereiding vir die konferensie, sowel as hul nagraadse reis.

Die ESRRC bied 'n kollegiale spasie aan nagraadse studente aan die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van Kaapstad (UK), die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) – met navorsingsbelange in opvoedkunde – om hul navorsing en onvoltooide werk te deel.

ESRRC 2017 word op 2 September by die US aangebied. Altesame 30 referate sal gelewer word.

Twee werksessies het die konferensie voorafgegaan: een deur prof. Peter Rule, medeprofessor in die Departement Kurrikulumstudies en die Sentrum vir Hoër- en Volwassene Onderwys in die Fakulteit Opvoedkunde by die US, oor die Skryf van Abstrakte (opsommings). Die ander een oor Aanbiedingvaardighede is aangebied deur prof. Maureen Robinson, professor in the Departement Kurrikulumstudies aan die US en voormalige Dekaan van die Fakulteit. 

Albei werksessies is deur ongeveer 35 nagraadse studente bygewoon.

Volgens prof. Robinson het studente aangedui dat die werksessies hulle met waardevolle inligting en nuttige vaardighede toegerus het, sekere van hul vrese oor aanbieding by konferensies besweer het, en hulle in staat gestel het om dadelik hul eie voorleggings te begin beplan.

“Die breër doelwit van die konferensie is om 'n nuwe generasie studentenavorsers in die opvoedkunde te ondersteun en te bou. Die ESRRC voorsien 'n platform waar nuwe idees met veiligheid onder mede-studente getoets kan word. Die werksessies is die praktiese boustene om dié doelwit te bereik," het  prof. Robinson bygevoeg.

Die tema van die konferensie – “Opvoedkunde in 'n Era van Dekolonisering en Transformasie: Die Stem van Studentenavorsers" – sluit direk aan by dié van die 2017 tema van die Suid-Afrikaanse Opvoedkunde-navorsingsvereniging (SAERA) se konferensie wat in Oktober in Port Elizabeth gehou word. Dit is om die boodskap uit te dra dat die studentekonferensie deel van die nasionale prentjie vorm.

Wanneer studente hul navorsingsbevindings vir die eerste keer in 'n gedeelde ruimte moet aanbied, kan hulle dit as 'n senutergende ervaring beleef. Die ESRRC bied studente die geleentheid om hul navorsing en onvoltooide werk in 'n veilige en koesterende omgewing voor 'n gehoor van hul eweknieë aan te bied.

Mannini Kotele, 'n Meesterstudent in die Fakulteit Opvoedkunde en voorsitter van die ESRRC-komitee, vir 2017, glo studente sal by die konferensie baat.

“Ek het die konferensie verlede jaar bygewoon en as ek geweet het wat ek nou weet, sou ek die bietjie wat ek oor my tesis gehad het, aangebied het. 

“Dit is 'n veilige ruimte vir studente en die ondersteuning deur eweknieë is baie sterk. Dit is 'n ruimte waar studentenavorsers groei en met hul portuurgroep netwerke kan vorm. Dit is ook goeie voorbereiding vir ander akademiese konferensies soos SAERA."

Foto: Prof. Maureen Robinson bied 'n slypskool oor aanbiedingvaardighede aan.