Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kongres 'n teenvoeter vir kwaksalwery, skynwetenskap en fopnuus in gesondheidsorg
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 17/08/2017

​Die gevare van skynwetenskap en kwaksalwery in gesondheidsorg gaan later vanjaar tydens ʼn internasionale baanbrekerskongres in Stellenbosch, Suid-Afrika onder die vergrootglas geplaas word. Talle voorste gesondheids- en wetenskapkommunikasiekundiges gaan tydens die Internasionale Beraad oor Kwaksalwery en Skynwetenskap byeenkom om te ondersoek hoe wetenskapkommunikasiepogings deur die media, wetenskaplikes, gesondheidsreguleerders en regerings die impak van skynwetenskap kan teëwerk en die gebruik van bewysgebaseerde gesondheidsorgpraktyke kan bevorder.

Die beraad vind op 20 en 21 November by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas. Die gesamentlike gashere is die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGS) van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), en die Sentrum vir Wetenskap- en Tegnologie-massakommunikasie (Censcom) van die nagraadse Departement Joernalistiek aan die US.

“Slangolieverkopers, kwaksalwers en bedrieërs is lankal berug daarvoor dat hulle op kwesbare mense met gesondheidsprobleme teer. Mense wat desperaat soek na ʼn kuur vir of verligting van ʼn gevreesde siekte, gewigsprobleme of die gevolge van veroudering, is maklike teikens wat dikwels bereid is om ʼn klomp geld op te dok vir enige middel wat ʼn bietjie hoop bied. Die hartseer werklikheid is dat hierdie behandelings dikwels nutteloos of soms selfs skadelik is," sê prof Jimmy Volmink, dekaan van die FGGW.

“Die beraad is ʼn poging om terug te veg teen hierdie uitbuitende praktyke, waarvan die vernietigende gevolge deur die internet en sosiale media versterk word. Dit sal nie net die kollig laat val op die bedreiging wat skynwetenskap vir die welsyn van die gemeenskap inhou nie, maar ook doeltreffende instrumente bied om mense te help om gesondheidsorg-aansprake te assesseer en gesonde keuses uit te oefen," voeg hy by.

Volgens prof Taryn Young, direkteur van die SBGS, sal hierdie beraad “navorsers en joernaliste byeenbring om die klem op hul gesamentlike verantwoordelikheid vir etiese en bewysgebaseerde gesondheidsverslaggewing te plaas om die belange van die publiek beter te dien".

“Die media speel ʼn deurslaggewende rol om gesondheidsnavorsings- en ander boodskappe aan die publiek oor te dra. Hulle kan mense se persepsies oor die veiligheid en doeltreffendheid van gesondheidspraktyke beïnvloed en as hulle skynwetenskaplike en onbetroubare boodskappe oordra, kan dit mense se gesondheid skaad," benadruk Young.

“Ons kwesbaarheid om in die strik te trap wat deur roekelose en gewetenlose bemarkers van kwasi-wetenskaplike gesondheidsprodukte gestel word, ken geen perke nie," sê prof George Claassen, direkteur van Censcom. “Dit word vererger deur beroemdes wat waninligting oor skynwetenskap versprei en dikwels ʼn vernietigende uitwerking op die publiek se welsyn het." Hy wys daarop dat koerante, die internet, sosiale media en uitsaaikanale wemel van twyfelagtige uitsprake deur sogenoemde kwaksalwers, wat geld maak omdat hul slagoffers dikwels oningelig of eenvoudig te naïef is om die waarheid van leuens te onderskei.

“Ons hoop die beraad sal ʼn broodnodige verandering teweegbring en die publiek en alle rolspelers in die wetenskapkommunikasieproses oor die gevare van kwaksalwery inlig. In die woorde van Lewis Wolpert, gesiene Suid-Afrikaans-gebore ontwikkelingsbioloog van die Verenigde Koninkryk (VK), 'bied die wetenskap verreweg die betroubaarste metode om te bepaal of jou sienings geldig is'. Die beraad beoog om die waarde van betroubare wetenskapkommunikasie en bewygebaseerde gesondheidsorg opnuut te benadruk," sê Claassen.

Hy het in 1995 die eerste wetenskapkommunikasiekursus in Afrika aan die US se Departement Joernalistiek ontwikkel en gevestig. Claassen is ʼn voormalige wetenskapredakteur van die Die Burger, ʼn Kaapse dagblad. Hy wei só oor die redes vir die organisering van die beraad uit: “Onkundige, oningeligte of bloot swak ingeligte mense neem dikwels besluite wat skadelik is vir hul gesondheid, interpersoonlike verhoudings, geldsake en hoe hulle hul geld behoort te bestee, asook wat die toekoms vir hulle inhou. Ongelukkig vind dit dikwels weens twyfelagtige en pseudo-inligting plaas wat van kwaksalwers, bedrieërs en swendelaars bekom word. Hulle het te dikwels ʼn vrypas in die media om hul onwetenskaplike aansprake as die waarheid aan te bied. Dis asof ʼn 'post-waarheid' volledig op die gebied van gesondheidsorg aangebreek het en enigeen se aansprake op waarheid aanvaar word. Die mees onlangse bose voorbeelde is die anti-inentingsveldtog en geloofsgenesers wat MIV-lyers aanraai om hul medikasie weg te gooi."

Volgens Claassen het die beraad ten doel om bewustheid by die publiek te skep oor hoe om fopnuus te herken wat nie op ʼn sweempie waarheid gegrond is nie en deur kwaksalwers en swendelaars versprei word om hul “gesondheidsprodukte" te verkoop. “En as hulle gekonfronteer en hul praktyke blootgelê word, wend hulle hulself dikwels tot die howe om wetenskaplikes en wetenskapjoernaliste te muilband wat in die belang van die publiek optree," benadruk hy met verwysing na etlike gevalle, ook in Suid-Afrika, waar gesondheidspraktisyns en joernaliste voorheen en vandag nog met regsoptrede gedreig is as hulle nie stilbly nie. Die bekendste van hierdie gevalle is waarskynlik dié van die British Chiropractic Association teen die wetenskaplike en bekroonde outeur Simon Singh in 2009. Singh het die saak gewen nadat duisende wetenkaplikes ʼn petisie onderteken het om hom te ondersteun en die saak het ʼn wysiging van Britse lasterwette meegebring. Hy gaan aan ʼn vraag-en-antwoordsessie by die beraad deelneem met die tema “Gesonde verstand oor wetenskap: Hoekom bewyse saak maak". 

Die SBGS se doelwit is om bewysgebaseerde gesondheidsorg in Afrika en wêreldwyd te bevorder. “'n Sleutelpilaar van ons sentrum se werk is om die gebruik van die beste beskikbare bewyse in gesondheidsorgbeleid en -praktyk te ondersteun. Die media speel ʼn sleutelrol as tussenganger om die kloof tussen navorsing en die publiek te oorbrug. As goed ingeligte joernaliste met navorsers saamwerk, kan hulle goeie praktyke in gesondheidsberiggewing verbeter, gegrond op ʼn deeglike begrip van beste bewyse en die waarde daarvan in etiese gesondheidsjoernalistiek," sê Young.

Wetenskaplikes op die gebied van kommunikasie, geneeskunde, gesondheidsorg en die reg, asook ander gebiede waaroor kwaksalwery en skynwetenskap sy skadu van onkunde en misleidende aansprake werp, sal die beraad bywoon. Benewens Singh, bekroonde outeur van  Fermat's Last Theorem en Trick or Treatment: Alternative Medicine on Trial (met Edzard Ernst as mede-outeur), sluit ander sprekers in Michael Marshall, projekdirekteur van die VK se Good Thinking Foundation; Jacques Rousseau, mede-outeur van Critical Thinking and Pseudoscience – Why We Can't Trust Our Brains; die bekroonde joernalis Tom Zeller, voorheen verbonde aan The New York Times en tans uitvoerende direkteur van die digitale wetenskaptydskrif  Undark van die Knight Science Journalism-program aan die Massachusetts Institute of Technology; Nathan Geffen, redakteur van GroundUp en outeur van Debunking Illusions; dr Harris Steinman, uitgewer en redakteur van CAMcheck en die nemesis van menige kwaksalwer in Suid-Afrika; prof Anusuya Chinsamy-Turan, werwel-paleontoloog en bekroonde wetenskapkommunikasie-outeur van die Universiteit van Kaapstad; prof Keymanthri Moodley, direkteur: Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg aan die US en redakteur van Medical Ethics, Law and Human Rights; die veelbekroonde wetenskapjoernaliste en outeurs Mia Malan, Elsabé Brits, Daryl Ilbury en Marina Joubert; Janusz Luterek, regskundige op die gebied van voedselwetenskap en -tegnologie; en prof Roy Jobson, farmakoloog en gesondheidsreguleringskundige.

Die sessies tydens die beraad sal op die volgende temas fokus:

  • Die opkoms en gevare van skynwetenskap en wetenskapontkenning: Kommunikasie van onsekerhede in die wetenskap
  • Gesondheidsregulering, wetenskap in die hof en ander beskermingsmaatreëls: Word verbruikers aan hul lot oorgelaat?
  • Die media en skynwetenskap: Reflektering van wetenskap deur ʼn 'vuil spieël'?
  • Gesonde verstand oor wetenskap: Hoekom bewyse saak maak
  • Is kwaksalwery skadeloos? Uitbuiting van die wanhopig siekes, kwesbares en onkundiges
  • Kommunikasie van korrekte wetenskap: Hoekom wetenskaplikes uit die laboratorium moet kom en die publiek moet betrek

Navrae oor die beraad kan aan Claassen gerig word by gnclaassen@sun.ac.za of censcom@sun.ac.za, +27218513232 of +27835432471.

Klik hier om vir die beraad te registreer

● Die voorlopige program is hier