Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nagraadse studente ondersoek transformasiekwessies danksy Mellon-finansiering
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 16/08/2017

'n Groep van 21 nagraadse studente van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe het onlangs byeengekom om aan 'n nagraadse studentekonferensie deel te neem. Die konferensie is moontlik gemaak danksy finansiering van die Andrew W. Mellon-stigting deur die Indexing Transformation-projek. 

​Indexing Transformation het in 2016 'n toekenning van R11,2 miljoen vir vyf jaar van die Mellon-stigting ontvang, hoofsaaklik om beurse en 'n seminaarreeks te ondersteun.

Met die bekendstelling van Indexing Transformation vroeër vanjaar het prof Steven Robins, die projekleier, gesê: “Indexing the Human ['n vorige projek wat die Mellon-stigting van 2014 tot 2015 gefinansier het] was 'n suksesvolle katalisator vir kritiese besinning oor die geskiedenis van die geesteswetenskappe op Stellenbosch, en ook in Suid-Afrika in die algemeen. Indexing Transformation spruit uit daardie selfde voortgesette belangstelling in die aard van kennisproduksie op geesteswetenskaplike gebied. Voorts spruit dit uit die besef dat ons universiteitsruimtes en intellektuele werk dringend ondersoek moet word vir hardnekkige rasseongelykhede en struikelblokke vir demokratiese, inklusiewe intellektuele praktyk – iets wat veral beklemtoon is deur die onlangse studenteprotes deur die hele Suid-Afrika."

Die nagraadse studentekonferensie maak deel uit van die voorgestelde akademiese aktiwiteite van Indexing Transformation.

Volgens dr Bernard Dubbeld, 'n senior dosent in die Departement en die konferensiesameroeper, stel toekennings van groot internasionale skenkers soos die Mellon-stigting die Departement in staat om akademiese vermoëns onder die Universiteit se studente te bou. “Met hierdie toekenning kan ons nou veral konsentreer op kwessies wat met hedendaagse transformasie verband hou, en verkry ons analitiese insig in en 'n beter begrip van knellende probleme en uitdagings in Suid-Afrika en elders op die vasteland.

“Die doel van hierdie konferensie was om magister- en doktorale studente 'n platform te bied om hulle huidige werk te bespreek, portuur en personeellede se terugvoering te kry, en ervaring op te doen van aanbieding in konferensietipe omstandighede," sê Dubbeld. 

Daarbenewens, sê hy, was dit 'n geleentheid om die gehalte en omvang van studentevakkundigheid in die Departement te vier. 

Die konferensieprogram het bestaan uit 21 studenteaanbiedings oor 'n verskeidenheid temas wat ondersoek instel na hedendaagse kwessies in die Suid-Afrikaanse samelewing, op die Afrikavasteland en wêreldwyd. Van die referate het gehandel oor:

  • die maatskaplike en gesamentlike toestande van xenofobie;
  • toordery en heksejagte;
  • nuwe meganismes van openbare deelname, met die klem op voorbeelde uit die werklike lewe, soos die openbare inligtingsessies oor skaliegasontginning in die Karoo;
  • sorg, instellings en die dinamiek van bemagtiging;
  • etnografieë van die nuwe ekonomie, met die klem op onder meer die kruispunt tussen formele en informele ekonomieë en rekenaarspeletjies;
  • ruimte, maatskaplike transformasie en burgerskap, in die besonder die ontvangs van die SKA op Carnarvon, en ras, klas en godsdiens in Johannesburg; en
  • weerstandsformasies, wat kwessies van studenteaktivisme, Open Stellenbosch en Afrikaans as 'n gekreoliseerde taal van nader bekyk het.

“Hierdie soort konferensies bied ons studente 'n geleentheid om hulle navorsing en akademiese aanbiedingsvaardighede, en dus hulle CV's, te versterk en hulle navorsingswerk onder 'n groter gehoor te versprei. 'n Verdere doelwit is om die referate wat by die geleentheid gelewer is, in volwaardige artikels te omskep wat in die toekoms in portuurbeoordeelde vaktydskrifte kan verskyn," sê mnr Jan Vorster, voorsitter van die Departement.

Foto: Altesaam 21 magister- en PhD-studente het onlangs deelgeneem aan 'n nagraadse studentekonferensie wat moontlik gemaak is danksy finansiering van die Andrew W. Mellon-stigting. Op die foto is die studente Stephanie Borchardt, Sallek Yaks Musa, Cassey Toi, Safiyya Goga, Crystal Farmer, Sune Butler, Menan van Heerden, Ashwin Phillips, Dianne Lombard, Anne Wiltshire, Natasha Solari, Michael Passetti, Jackie Roux, Vanessa Mpatlanyane, Robert Nyakuwa, Kristen Harmse, Claudia Janse van Rensburg, Saibu Mutaru en Leza Soldaat. Amon Ashaba Mwiine en Neil Kramm het ook aan die konferensie deelgeneem, maar was nie teenwoordig vir die foto nie. (Lynne Rippenaar-Moses)