Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
NNS hernu Leerstoel in die Ekonomie van Sosiale Beleid vir 'n tweede keer
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 15/08/2017

​​Ná uitstekende uitsette oor die afgelope 10 jaar – veral wat betref die lewering van doktorale studente – is die Leerstoel in die Ekonomie van Sosiale Beleid weer eens deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) hernu.

Die stoel, wat deur prof. Servaas van der Berg beklee en deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Ekonomie gehuisves word, sal fondse vir 'n verdere tydperk van vyf jaar van die NNS ontvang. Dit is die tweede keer wat die leerstoel hernu is.

“Ons uitsette was baie goed," sê prof. Van der Berg. “Die leerstoel het in die afgelope vyf jaar 16 PhDs gelewer, wat baie skaars is in die vakgebied van Ekonomie. Ek was in die meeste gevalle die studieleier, maar nou is daar meer mense wat studieleiding kan doen."

Onder prof. Van der Berg se leiding het 'n sterk span navorsers en nagraadse studente die afgelope tien jaar tersaaklike navorsing gedoen oor kwessies rakende die sosiale en ekonomiese uitdagings wat die land in die gesig staar.

Die navorsing het veral gefokus op onderwys as een van die belangrikste elemente van ongelykheid in Suid-Afrika en die sentrale rol wat dit kan speel om armoede en ongelykheid in inkomsteverdeling aan te spreek.

Die leerstoel se gesondheidsekonomie-portefeulje het ook die afgelope vyf jaar aansienlik gegroei.

Die gehalte van die navorsing wat gedoen is, is bevestig toe twee navorsingsverslae ingesluit is by UNICEF se lys van die 12 beste navorsingsverslae wat in 2014 deur UNICEF gepubliseer is.

Die verslae was: Incentives for Rural Teachers in Namibia en Child Poverty Traps and Social Exclusion in South Africa. In die eerste studie het navorsers ondersoek hoe sekere aansporings kan help om gegradueerde onderwysers te oortuig om hul in landelike gebiede in Namibië te vestig. In die tweede studie het navorsers die verskynsel bekend as die armoedestrik ondersoek en sekere gevolgtrekkings bereik, onder meer dat 'n swak onderwysstelsel sentraal tot die probleem staan.

“Ons navorsing is daarop gerig om beleid te beïnvloed," verduidelik prof. Van der Berg.

Só het die groep in 2016 twee verslae bekendgestel waarin hulle voorgestel het dat die Departement van Basiese Onderwys se oorkoepelende fokus moet wees om te verseker dat elke Suid-Afrikaanse kind teen die einde van graad 3 met begrip kan lees.

Een van die leerstoel se veelseggendste prestasies is moontlik die feit dat dit in die afgelope vyf jaar bykomende fondse van ongeveer R20 miljoen gegenereer het.

Een persoon mag net vir drie siklusse in 'n leerstoel bevestig word, en daarom sal prof. Van der Berg in die volgende vyf jaar veral daarop fokus om navorsing wat reeds gedoen is te konsolideer en te verseker dat die navorsingsgroep sy momentum behou.

“Daar is nou meer mense betrokke, en dus meer kapasiteit om navorsing  en studieleiding te doen. Die doel is om strukture te vestig sodat die navorsing kan voortgaan, ongeag NNS-befondsing," sê prof. Van der Berg.​