Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wiskunde-onderrig vir die toekoms
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 15/08/2017

Navorsers van reg oor die wêreld het onlangs in Kaapstad bymekaargekom om hul kennis oor “sinmaking​" (sense-making) in wiskunde-onderrig en -leer te deel en te bespreek. Toegepaste probleemoplossing (modellering) en die manier waarop wiskundige modelle en modellering baie van die werk oor die wetenskap-, tegnologie- en ingenieursdissiplines heen ondersteun, het ook onder die loep gekom.

Meer as 130 afgevaardigdes uit 20 lande het die 18de Internasionale Konferensie oor die Onderrig van Wiskundige Modellering en Toepassings (ICTMA-18) –  aangebied deur die Navorsingseenheid vir Wiskunde-Onderwys (RUMEUS) wat in die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch (US) gesetel is – bygewoon.

Dit is die eerste keer dat hierdie tweejaarlikse konferensie op die Afrika-kontinent aangebied is. Die venue was die opleidingsentrum by die hoofkantoor in Bellville.

Prof. Gloria Stillman, president van die Internasionale Gemeenskap van Onderwysers in Wiskundige Modellering en Toepassings, het by die opening van die konferensie gesê die gemeenskap se sterk navorsingfokus het kennis geneem van die belangrikheid van die daarstelling van 'n robuuste kennisbasis waarvandaan uitdagings in die onderrig, leer en assessering van wiskundige modellering en toepassings aangespreek kan word.

Geleentheidspreker prof. Eugene Cloete, US se Vise-rektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, het 'n paar uitstekende voorbeelde van die toepassing van wiskundige modellering in biologiese wetenskappe gegee.

Om te illustreer hoe wiskundige modellering toegepas kan word om praktiese probleme op te los, het hy verduidelik hoe dit gebruik is om die fermentasietydperk van gis in bier van 21 tot 15 dae te verminder, wat die brouery 'n bykomende kapasiteit van 25% gegee het. Hy het ook na die geaktiveerde slyk-metode verwys wat deur 'n groep wêreldkundiges ontwikkel is. Dié groep het gereeld oor 'n tydperk van vyf jaar ontmoet om met 'n wiskundige model vorendag te kom om te beskryf wat in hierdie stelsel, wat gebruik word om munisipale afvalwater te behandel, gebeur.

Francois Adriaan, hoof van die Sanlam-stigting, het verduidelik waarom 'n groot maatskappy soos Sanlam in wiskunde geïnteresseerd sou wees.

“Daar is 'n hoë korrelasievlak tussen goeie syferkundigheid en beskerming teen werkloosheid, lae salarisse en swak gesondheid. Daar is ook bewys dat wiskundige geletterdheid met finansiële geletterdheid korreleer," het hy gesê. Hy het bygevoeg dat wiskunde ook sterk met innovering en probleemoplossing korreleer en dat die wêreld innoveerders en probleemoplossers nodig het om hedendaagse uitdagings die hoof te bied.

Die konferensie is afgesluit met 'n Modellering-onderwysersdag wat deur RUMEUS in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD) gereël is. By dié dag is die beginsels en idees wat gedurende die week lange konferensie bespreek is met 138 onderwysers, vakadviseurs, akademici, WKOD-verteenwoordigers en onderwysstudente van reg oor die Wes-Kaap gedeel. Die fasiliteerders het kundiges uit Duitsland, Australië en Suid-Afrika ingesluit.

“Ons kan nie aanhou onderrig soos ons in die verlede onderrig het nie want die toekoms lyk anders. Ons moet leerders voorberei om in die regte wêreld te funksioneer. Wiskundige modellering en probleemoplossing gaan daaroor om leerders te help om sin te maak van praktiese probleme," het dr. Helena Wessels, senior dosent aan die Departement van Kurrikulumstudies aan die US en voorsitter van die konferensie se organiseringskomitee, gesê.

Brian Schreuder, hoof van die WKOD, het Wessels en Adriaan se sentimente in sy toespraak vir die onderwysers beaam. “Vir my gaan wiskundige modellering oor probleemoplossing en kritiese denke. Dit gaan oor die proses en die vaardighede. Die leerders wat ons onderrig sal in die 21ste eeu moet kan funksioneer. Doen ons genoeg om hulle vir hierdie wêreld voor te berei?"

Hy het sy kommer uitgespreek dat die Suid-Afrikaanse kurrikulum nog ingestel is op leeruitkomste van die 20ste eeu. “Ons oorlaai ons kurrikulum met inhoud en ons skep nie die geleentheid vir leer om plaas te vind nie. Ons moet meer in ons klaskamers doen om die vaardighede vir die toekoms te ontwikkel."

Hy het onderwysers aangemoedig om die KABV-kurrikulum aan te pas by wat in die werklike wêreld gebeur.

“Die beginsels van wiskundige modellering kan ons help om ons visie van gehalte-onderwys vir elke leerder, in elke klaskamer, in elke skool in ons provinsie aan te bied," het hy afgesluit.

Dr Peter Beets, Adjunk-direkteur-generaal: Kurrikulum en Assesseringsbestuur​ by die WKOD, het ook die dag bygewoon.