Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU – Fokus op Prof Nox Makunga
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 15/08/2017

Na die verwerwing van haar doktorsgraad in 2004, het prof Nox Makunga van die Departement Plant- en Dierkunde in 2005 by die Universiteit Stellenbosch (US) aangesluit en haar gou as ʼn voorste navorser oor Suid-Afrika se medisinale plante gevestig. Sy het verskeie navorsingstoekennings ontvang en is ook passievol oor die kommunikasie van wetenskap aan die publiek. As deel van die US se Vrouemaand-vieringe, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie met Makunga oor haar navorsing gesels.

​Jy doen reeds vir meer as ʼn dekade navorsing oor Suid-Afrika se medisinale plante. Kan jy ons meer van jou navorsingsveld vertel?

Ek gebruik verskeie biotegnologiese, fitochemiese (kennis oor chemiese stowwe in spesifieke plante) en genetiese instrumente om verskillende Suid-Afrikaanse medisinale plante te bestudeer. Ek fokus ook op die interaksie tussen mense en plante, insluitend die kulturele waarde van plante en die gepaardgaande moontlikhede vir sosio-ekonomiese ontwikkeling.

Waar het jou belangstelling in hierdie spesifieke navorsingsveld begin?

Ek het in hierdie veld begin belangstel omdat dit ʼn bydrae tot menslike gesondheid en die natuurlike produkte-industrieë kan lewer.

Wat geniet jy die meeste van navorser-wees?

Ek geniet dit om nuwe kennis te ontgin en nuwe inligting te bekom wat die potensiaal het om ʼn bydrae tot die samelewing te maak.

Wat beteken sukses vir jou?

Vir my beteken dit om 'n interessante bevinding in die laboratorium te maak, om ʼn PhD-student te help om te gradueer, en selfs 'n produk te produseer wat uiteindelik gekommersialiseer kan word en beskikbaar is vir almal se gebruik.

Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Verskeie persone en omstandighede het daartoe gelei dat ek as vrou betrokke is by Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde (oftwel STEM). Ek het 'n sterk ondersteuningsbasis by die huis gehad en sommige van my kollegas bied ook 'n sterk ondersteuningsstelsel wat my toelaat om my werk te doen. Ek hou daarvan om te sien dat diegene rondom my suksesvol is. Daarom is dit vir my uiters bevredigend om by te dra tot die opleiding van ander op voor- en nagraadse vlak.

Wat hou jou aan die gang?

Ek geniet dit om oor ʼn verskeidenheid onderwerpe te leer en omring my met mense met verskillende menings wat ek interessant vind. Ek is 'n baie sosiale mens en geniet dit om nuwe mense,  nuwe wêreldbeskouings, kulture, nuwe kennis, en so meer te ontdek.

Watter dinge geniet jy as jy nie met navorsing of klasgee besig is nie?

Ek geniet kuns en die natuur. 'n Lekker uitdaging met iets ongewoon maak die lewe interessant. Ek het byvoorbeeld as groepafrigter of aërobiese instrukteur gekwalifiseer en vir meer as 15 jaar onderrig. Ek is ʼn kreatiewe mens en hou van verf, teken, sonsondergange en oop ruimtes. Die kos- en wynkultuur wat my hier in die Kaap omring, is ʼn perfekte mengsel.

Het jy enige boodskap vir die volgende generasie vroue-navorsers?

Diversiteit in mensekapitaal lei tot diversiteit in denke en probleemoplossing. Daarom is die deelname van vroue in STEM-areas kernbelangrik om ʼn verskeidenheid van probleme aan te spreek. Volg jou passies omdat dit jou sal help om in moeilike tye te staande te bly.