Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bejaardes ly aan wanvoeding
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 10/08/2017

ʼn Mens se oudag is veronderstel om 'n kommervrye tyd te wees wanneer jy kan terugsit en jou skemerjare geniet. Ongelukkig is dit nie die geval vir baie bejaarde Suid-Afrikaners bo 60 nie. Hulle is meer geneig om, onder andere, aan siekte, trauma, armoede en wanvoeding te ly.

“Wanvoeding, in besonder, is 'n groot probleem onder bejaardes en word dikwels onderskat, ondergediagnoseer en onderbehandel. In die Wêreldgesondheidsorganisasie se 2015 Wêreldverslag oor Veroudering en Gesondheid word bewyse aangevoer wat daarop dui dat baie bejaardes wêreldwyd moontlik deur wanvoeding geraak word," sê Maritha Marais, ʼn senior lektor by die Afdeling Menslike Voeding in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Marais het 'n spesiale belangstelling in die voeding van bejaardes.

Sy sê wanvoeding en gepaardgaande tekorte aan mikrovoedingstowwe dra by tot verswakte liggaamsfunksie by bejaardes en hoewel dit minder opvallend is, word dit met ʼn verhoogde vatbaarheid vir infeksies en siektes in verband gebring.

Marais meen een van die redes waarom baie bejaardes in Suid-Afrika se stedelike en landelike gebiede aan wanvoeding ly, is omdat hul ouderdomstoelaes dikwels gebruik word om die res van die huishouding te voed.

“Navorsing toon bejaardes staan dikwels aan die hoof van huishoudings en hul ouderdomstoelaes dra gewoonlik by tot die algemene huishoudelike inkomste in plaas daarvan om in hul eie behoeftes te voorsien."

“Dit is dus geen verrassing dat juis hulle diegene is wat aan wanvoeding ly nie."

Bejaardes tel onder die armste van armes en is afhanklik van ouderdomstoelaes om te oorleef, sê Marais.

Sy voeg egter by dat maatskaplike toelaes alleen nie genoeg is om bejaardes se voedingstatus te verbeter nie.

“Hoewel enkel-intervensies soos sosiale kontantoordragte prysenswaardig is, is dit nie voldoende om wanvoeding onder bejaardes te verminder nie."

Marais sê aangesien bejaardes se reg op optimale gesondheid en 'n waardige bestaan in nasionale wetgewing beskerm word, moet meer gedoen word om in hul voedingsbehoeftes te voorsien.

“Bejaardes se welsyn moet 'n prioriteit wees in maatskaplike ontwikkelings-, gesondheids- en voedingsprogramme om gehalteversorging vir ouer mense te verseker."

“Dit is noodsaaklik om die ontwikkeling van wanvoeding onder die toenemend ouer bevolkingsgroep te beperk aangesien die versorging van verswakte persone die las op gemeenskapsbronne, hospitaalkoste en sorgfasiliteite verhoog."

Marais sê gesondheidswerkers, versorgers, familie en vriende moet bemagtig word om vroeë tekens van wanvoeding en swakheid raak te sien.

“Bejaardes, familie en versorgers benodig dieetadvies oor voedselkeuses, voorbereiding van smaaklike etes volgens die individu se behandelingsplan en hoe om die meeste uit die voedingsdigtheid van maaltye te kry."

Marais sê dieetadvies en gereelde opvolging kan belangrik wees en die gebruik van resepte, feiteblaaie, SMS-boodskappe, telefoonoproepe of huisbesoeke, asook interaktiewe demonstrasies en werkswinkels oor voedsel kan help om nakoming te verbeter en wanvoeding onder bejaardes te verminder.

​SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Maritha Marais

Afdeling Menslike Voeding

Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 938 9136

E-pos: mlm@sun.ac.za