Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU – Fokus op Ilhaam Groenewald
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 10/08/2017

​Ilhaam Groenewald is bestem om 'n baanbreker te wees.

Nie net is sy die eerste vrou om Hoofdirekteur van Maties Sport te wees nie, sy is ook die eerste vrou om op die Uitvoerende Raad van SA Rugby te dien, voorsitter van Universiteite Sport Suid-Afrika te wees, en die eerste vroue Adjunk-president van Universiteite Sport Suid-Afrika.

As deel van die US se Vrouemaand-vieringe, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie met Groenewald oor haar loopbaan sukses gepraat.

Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Ek glo aan die universele, bewese resep vir persoonlike en professionele sukses: Duidelike persoonlike visie, duidelike en haalbare doelwitte, om die nodige werk te doen en om diep te delf om die energie en moed te vind om jou planne in aksie te stel, en om weer op te staan wanneer jy soms faal.

Jy het op 'n jong ouderdom 'n besluit geneem om suksesvol te wees. Vertel ons hiervan.

Ek het op 'n baie jong ouderdom besluit wat ek NIE vir my lewe wil hê nie. Terwyl ek moes toekyk hoe my gesin uit ons huis verskuif word as deel van die gedwonge verskuiwings in die Apartheid-bedeling, het ek daar en dan besluit om te doen wat ek moet om beheer oor my lewe te neem en nie op ander se aalmoese staat te maak nie - en om nooit 'n slagoffer te wees nie. Om dit te kon doen moes ek leer – myself opvoed – en bereid wees om opofferings te maak om hierdie doelwitte te bereik.

Wat motiveer jou?

Ek is mal oor my werk en glo met alles in my in wat ek doen. So die passie vir my werk is die grondslag van my motivering. Die aanmoediging van my familie en span, mentors en kollegas dien as verdere motivering. En om die verandering in individue op studente én internasionale vlak waar te neem, en om te sien hoe hul lewens deur sport verbeter word, is die kersie op die koek.

Watter uitdagings staar vroue in die sportbedryf in die gesig?

Seksisme en genderongelykheid is niks nuut op alle gebiede van die globale samelewing nie. Gelukkig is wetgewing en bewusmaking besig om vroue op dieselfde vlak as mans atlete te posisioneer, maar ons het nog 'n lang, lang, lang pad om te stap.   

Persepsies is steeds die realiteit en vroue word steeds as minderwaardig beskou in 'n wêreld wat deur mans oorheers word. Ons vroue atlete vaar goed in internasionale kompetisies – maar wanneer dit kom by die beoordeling van sukses is die nasionale fokus en psige steeds op mans-rugby, -krieket en – sokker.  Dit kan duidelik gesien word in leierskap, blootstelling aan kompetisies, kontrakte, mediadekking, werksgeleenthede en dies meer.

Wat moet gedoen word om hierdie uitdagings te oorkom?

Die media moet hul rol speel deur vroue atlete se prestasies op dieselfde manier te vier as wat hulle mans s'n doen. Daar is so baie kreatiewe manierie waarop ons gendervooroordele kan aanspreek, maar dit vereis 'n gewilligheid van die federasies en groot borge om betrokke te raak en die stereotipes te verander.    

​Het jy enige raad vir jong vroue in die sportbedryf?

Doen dit! Daar is geen beperking vir 'n vrou wat 'n loopbaan in sport wil navolg nie – en wees reg om hard te werk, te leer en te groei – alles op dieselfde tyd.

Moet niks verniet verwag nie; moet nooit in die strik trap om jou geslag te gebruik om mans te beïnvloed nie; omring jouself met die regte ondersteuning – familie, vennote/ lewensmaat, kollegas, afrigters en opvoeders.​