Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Begaafde Maties slaan internasionale beurse los
Outeur: Alumni Relations / Alumni-betrekkinge
Gepubliseer: 10/08/2017

'n Blink toekoms wag op twee akademies begaafde Maties wat onlangs R800 000 elk toegeken is om nagraadse studie aan 'n internasionaal erkende universiteit van hul keuse te volg.

Die twee ontvangers, Aphiwe Jikazana, wat die FirstRand Laurie Dippenaar-beurs ontvang het, en Farai Mubaiwa, wat 'n FirstRand Foundation beurs ontvang het, is albei in September oppad na die Verenigde Koningkryk waar hulle onderskeidelik hul nagraadse studies by Cranfield Universiteit en King's Kollege sal aanpak.

Die FirstRand-beurse word jaarliks toegeken aan studente wat uitstaande leierskapvermoëns toon, betrokke is by hul gemeenskappe, akademies begaafd is en wat die potensiaal het om 'n verskil te maak.

Jikazana, 'n chemiese ingenieur en alumnus van die Universiteit Stellenbosch het die toepassing van chemiese ingenieurswese op water- en waterafvalbestuur geïdentifiseer as 'n belangrike vereiste vir die verbetering van die land se langtermyn water-voorsieningskwessies. Sy sal 'n MSc in Water- en Afvalwateringenieurswese aan die Universiteit van Cranfield volg.

Sy sê die beurs is 'n wonderwerk en 'n bewys dat geloof werklik berge kan versit. Jikazana begin haar studies op 26 September aan die Universiteit van Cranfield en sê dit was 'n maklike besluit. "Cranfield Universiteit is die enigste nagraadse universiteit in die Verenigde Koningkryk en spesialiseer in die kweek van leiers in tegnologie en bestuur. Hul wêreldbekende waterdepartement toegerus met die nuutste fasiliteite bestaan al meer as 40 jaar, so dit was vir my 'n natuurlike keuse."

Sy voeg by dat dit op professionele vlak slegs die begin is vir haar. "Ek weet dit is my roeping om die kwesbaarste mense van ons samelewing te bemagtig deur opvoeding en die voorsiening van voldoende water en sanitasie. Daarom is my eerste prioriteit om soveel kennis en ervaring op my gebied te kry as wat ek kan. Daarna wil ek graag in gemeenskappe werk (en moontlik 'n NRO begin) om verandering teweeg te bring en om voorsiening te maak vir een van die mees basiese behoeftes; dié van water en sanitasie. Ek het 'n passie vir die onderwys, so ek wil graag 'n dosent wees terwyl ek my PhD navolg in die bestuur en wetgewing van water en sanitasie in Suid-Afrika.

"Laastens wil ek met behulp van my opleiding en ondervinding 'n verskil in die openbare sektor maak. Ek wil graag werk om die beste beleide en stelsels te implementeer sodat alle Suid-Afrikaners se basiese behoeftes ten opsigte van skoon water en sanitasie vervul word."

Haar raad aan jong studente is om te onthou dat waar die gedagtes gaan, volg die persoon. "As jy fokus op die wonderlike planne wat God vir jou het, sal jy beslis suksesvol wees. Negatiwiteit en klagtes het nog nooit gehelp of probleme opgelos nie. Bly positief - sien elke uitdaging as 'n geleentheid om te groei en 'n beter mens te word."

Farai Mubaiwa, wat haar BCom (Rekeningkunde) op Stellenbosch met lof voltooi en toe daarna haar Honneurs in Bestuursrekeningkunde voltooi het, sal ook in September vanjaar haar meestersgraad in die politieke ekonomie van ontluikende markte by King's Kollege Londen aanpak.

Sy beskou haar FirstRand Foundation beurs as waarlik 'n lewensveranderende geleentheid. "Dit bied my die platform om my studies te bevorder, iets waaroor ek nog altyd gedroom het, maar nooit gedink het sal moontlik wees nie - weens buitensporige fooie en ander uitgawes.

Sy sê hierdie spesifieke meestersgraad het haar aangetrek weens die fokus op ontluikende markte wat die grondslag vir groei en ontwikkeling asook die groot transformasie van ontluikende markte en markhervorming wil verstaan. "Groei is uiters belangrik, nie net in Afrika as 'n geheel nie, maar ook vir Suid-Afrikaanse burgers. Suid-Afrika is 'n plek van politieke, rasse- en klasseonrus en dit is duidelik dat jongmense die skip moet stuur om die visie van 'n verenigde Suid-Afrika lewendig te hou. 'n Begrip van ontluikende markte sal dus verseker dat inklusiewe ekonomiese groei 'n tasbare werklikheid word," verduidelik sy.

Haar raad aan jongmense is om self hul grootste aanhangers te wees, om hulself te omring met goeie mense en om te netwerk. "In die meeste situasies is ek my eie grootste vyand, maar die lewe het my geleer dat ek my grootste aanhanger moet wees. Ek ken my vermoëns, en sodra geleenthede ontstaan, moet ek aansoek doen. Die ergste wat kan gebeur wanneer jy aansoek doen, is dat jy sal hoor 'dit spyt ons om u in te lig.' Maar jy sal nooit weet as jy nie probeer nie. Wie jy jouself mee omring, is 'n weerspieëling van wie jy is, daarom doen ek 'n beroep op jong studente om hulself te omring met mense wie se doelwitte met hulle sʼn ooreenstem. Omring jouself met vriende en mentors wat jou sal aanpor om beter te doen en beter te wees. Jy moet ook netwerk. Woon geleenthede by waar jy mense in verskillende velde, posisies, vlakke of mense met verskillende belangstellings kan ontmoet. Om te netwerk is kragtig, en die kontakte wat jy maak sal altyd 'n rol in jou ontwikkeling speel."

Na afloop van haar Meestersgraad, sal sy terugkeer na haar huidige werkgewer, Deloitte. "Ek sal my kennis van ontwikkelingsbeleide, Suid-Afrika se posisionering binne BRICS, en die rol wat sosiale en geslagsbeleid in ekonomiese groei speel, implementeer. Ek wil dan my PhD voltooi en begin klasgee. My doel is om 'n akademikus te word wat nie die stereotipe van die akademiese 'ivoor-toring' bevorder nie, maar wat eerder tasbare verandering meebring, wat verder gaan as die ontwikkeling van nuwe modelle, en wat eerder betrokke is by die jeug en by die regering om Suid-Afrika gunstig by haar mense te posisioneer en met die res van Afrika."

Mnr Laurie Dippenaar, voorsitter van FirstRand en paneellid, het gesê die paneel beskou hulself as bevoorreg om blootgestel te word aan sulke ongelooflike talent. "Lede van die paneel was eenparig in hul siening dat die ontmoeting en onderhoude met die finaliste 'n inspirerende ervaring was."

"Om op hierdie paneel te dien, was een van die mees lonende rolle wat ek die voorreg gehad het om te vervul. Die kandidate was beslis van die mees buitengewoon bekwame en verdienstelike groepe waarmee ons nog te doen gehad het," aldus mnr Pat Goss, FirstRand nie-uitvoerende raadslid.  Volgens hom is hierdie beurs inisiatiewe van FirstRand een van die maatskappye se hoogtepunte in terme van impak op die gemeenskap.

  • Aansoeke vir die 2018 FirstRand-beurs vir nagraadse internasionale studie sal in die middel van Desember 2017 oop wees en sluit op Donderdag 22 Februarie 2018. Meer besonderhede en aansoekvorms sal vanaf die einde van November 2017 op die FirstRand-webwerf www.firstrand.co.za beskikbaar wees.
  • Foto: Farai Mubaiwa en Aphiwe Jikazana.